Haar hospitalisasie was vir Toks “baie moeilik”, sê Carol (43). “Hy het slegte herinneringe van hospitale omdat sy ouers in hospitale oorlede is. En vanweë sy werk was hy agt uit die 10 dae nie in Kaapstad nie. Maar hy het heeltyd my of my kardioloog gekontak. Ek het sy liefde en omgee gevoel, al was hy nie fisiek daar nie,” vertel Carol aan Huisgenoot

Volgens haar kardioloog “lê 'n lang pad voor”, sê sy. “Maar met almal  vriende, familie en vreemdelinge  se ondersteuning en gebede wat ek so waardeer deur hierdie proses, glo ek ek sal gou herstel.”

carol
Carol van der Linde in die hospitaal. Foto: Instagram/carolvanderlinde
toks
Carol in die hospitaal. Foto: Instagram/carolvanderlinde

Sy het perikarditis, ontsteking van die hart, vertel sy aan Huisgenoot. “'n Virus het my hart vir die tweede keer aangeval. Ongelukkig was hierdie keer aggressiewer as die vorige keer wat veroorsaak het dat ek onmiddellik opgeneem moes word. 'n Verdere gevolg was dat my niere begin dehidreer het as gevolg van die medikasie.”

Die enigste behandeling vir die siekte is “aggressiewe antibiotiese behandeling om die virus te beveg, medikasie om die onstuimige hartspoed te beheer en rus om nie die hart te ooreis nie”, vertel Carol.

Gelukkig het sy dié keer die simptome vroegtydig herken aangesien dit die tweede keer is dat dit met haar gebeur. “Die simptome is 'n intense pyn in die bors, onreëlmatige hartklop, 'n benoudheid in jou borskas, kort van asem en 'n kwaai moegheid.

“Ek het my kardioloog gekontak wat dadelik 'n EKG en hartsonar gedoen het om my te diagnoseer,” sê sy. 

Terwyl sy 10 dae lank in die hospitaal was, het Carol besef sy het “soveel om voor dankbaar te wees”.

“Daar is mense wat baie sieker is as ek, wat baie langer daar is as ek, en selfs dié wat nooit weer gaan uitkom nie. Ek het ook die allerbeste sorg van Mediclinic se personeel gekry. Hulle was so gaaf en besorgd. En volgens my het ek die beste kardioloog in die land wat na my gekyk het, dr. Wouter Basson.”

Sy het omtrent na die huis verlang terwyl sy in die hospitaal opgeneem was, vertel Carol. Sy het veral verlang na haar hond Machiko, haar man, Toks (50), en die gemak van haar huis, sê sy.

carol
Carol en haar hondjie Machiko. Foto: Instagram/Carolvanderlinde