Die twee was een van die witwarmste paartjies van die vroeë 2000’s voor hul verhouding verbrokkel het; daarom het die nuwe foto’s aanhangers op hol.

Ben is verskeie kere verlede week gesien waar hy afgelaai en opgetel word by Jennifer se huis in Los Angeles, volgens die foto’s wat deur Page Six verkry is. 

Jy kan glo weens veiligheidsredes nie tot by die sangeres se huis ry nie; dus is Ben vervoer vanaf die Hotel Bel-Air en haar luukse woning, waar hy glo etlike ure deurgebring het. Die akteur is gekiek toe hy by ’n wit Escalade-nutsvoertuig uitklim wat glo aan Jennifer (51) behoort. Hy het later met ’n sonbril in dieselfde voertuig gesit.

Die nuus kom net twee weke nadat Jennifer en die voormalige bofbalspeler Alex Rodriguez (45) hul verlowing verbreek het. “Ons het besef ons is beter as vriende en sien uit daarna om vriende te bly,” het die twee in ’n gesamentlike verklaring gesê. Ben (48) het ook onlangs weer ’n enkelloper geword nadat sy en Ana de Armas (33) se paadjies in Januarie geskei het. 

Ben en Jennifer Lopez
Die twee was een van die witwarmste paartjies van die vroeë 2000’s. Foto: Gallo Images/Getty Images

Broei daar ’n romanse? Dalk nie op die oomblik nie, maar niks is onmoontlik nie. Volgens ’n ingeligte bron is die twee “streng gesproke net vriende”. “Maar daar is nie iets soos ‘nooit’ nie, veral in Hollywood, en dis altyd moontlik dat daar iets kan opvlam.

“Hulle het baie liefde vir mekaar. Hulle het mekaar nog altyd bewonder,” sê nog ’n bron. 

Ben en Jen, wat in 2002 begin uitgaan het, het ’n bekende geskiedenis as paartjie. Hulle was “Bennifer” gedoop, die wêreld was in vervoering met die twee en fotograwe het elke beweging afgeneem. Ben het ’n verskyning in haar musiekvideo vir Jenny from the Block gemaak en daar was die indrukwekkende pienk verloofring van $2,5 miljoen wat hy aan haar vinger gesteek het. 

Hulle het hul troue in 2003 uitgestel enkele dae voor hulle sou afhaak en toe in Januarie 2004 amptelik uitgemaak. Jennifer het dit destyds “my eerste gebroke hart” genoem. 

Al het hul paaie geskei, het die twee vriende gebly en Ben het in die Mei-uitgawe van die tydskrif InStyle sy eks geprys toe die ma van twee op die voorblad gepryk het. 

“Ek het gedink ek het goeie werksetiek, maar ek was omtrent aarde toe gebring deur en verstom met hoe toegewyd sy elke dag was,” het hy gesê. “Die erns waarmee sy haar werk aangepak het, die stil en toegewyde manier hoe sy haar doelwitte bereik het en dan sou terugkeer en twee keer so hard probeer. 

“Sy is vandag nog die hardwerkendste mens wat ek al ooit in hierdie bedryf ontmoet het. Sy het ongelooflike talent, maar sy het ook baie hard vir haar sukses gewerk, en ek is so bly dat sy eindelik die erkenning kry wat sy verdien.”

Hy het ook haar jeugdige voorkoms besing. “Waar steek jy die fontein van jeug weg? Hoekom lyk jy dieselfde as in 2003 en dit lyk op ’n goeie dag of ek in my 40’s is?”

Ben en Jennifer Lopez
Hulle het hul troue in 2003 uitgestel enkele dae voor hulle sou afhaak en toe in Januarie 2004 amptelik uitgemaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jennifer het met ’n gevlei van haar eie hierop reageer – en sommer ook voorbrand vir haar reeks kosmetiese produkte gedoen.

“Ek het nie enige skoonheidsgeheime behalwe JLo Beauty nie – en ek deel dit met almal. Ben is snaaks! Hy lyk self nog baie goed.”

Ben vertel openlik oor hoe hy deur die jare kontak met Jennifer behou het.

“Ek gesels met haar. Ek respekteer haar. Ek hou van haar,” het hy in ’n onderhoud in 2012 erken.“Ons het nie die soort verhouding waar sy op my steun vir raad nie, maar ons het die soort verhouding waar ’n e-pos gestuur sal word wat lui: ‘Jou fliek lyk goed.’”

Mense in die binnekring beweer Jennifer Garner, Ben se eksvrou, is min gepla oor hy weer met ’n ander bekende Jennifer uithang. “Jen is nie gepla daaroor dat Ben met JLo of enigeen uithang nie. Sy wil die beste vir Ben hê,” sê die bron. 

Jennifer en Ben het drie kinders saam – Violet (15), Seraphina (12) en Samuel (9).

“Die belangrikste vir haar is dat Ben ’n goeie pa moet wees,” sê die bron.

“Hulle kom goed oor die weg met hul ouerskapspligte en hul kinders se geluk is Jen se belangrikste prioriteit.”

BRONNE: HOLLYWOODREPORTER.COM, PAGESIX.COM, TMZ.COM, PEOPLE.COM, ETONLINE.COM, INSTYLE.COM