Hulle het van die begin af so effens onpaar gelyk – hy met sy tatoes en liefde vir swart klere en sy die tipiese Hollywood-godin met ’n spierwit glimlag, goue sonbruin en jogalyf.

Maar wanneer die liefde kom, kan jy dit nie keer nie en so het Jennifer Aniston en Justin Theroux op ’n romantiese troue afgehaak.

Skaars ’n maand gelede nog was die twee op hul jaarlikse vakansie in Mexiko saam met hul akteursvriend Jason Bateman en sy vrou, Amanda Anka.

Nou blyk dit dié wegbreek was om hul huwelik te red en dat Amanda die rol van bemiddelaar gespeel het. Kort daarna is geskinder Justin (46) het hom baie soos ’n enkelloper gedra op ’n Grammy-partytjie.

En in die week voor die aankondiging dat hulle klaar is met mekaar, het Jen op haar eie opgedaag by twee sterbelaaide geleenthede: die uithangpartytjie vir die TV-ster Ellen DeGeneres se 60ste verjaardag en die aktrise Amy Schumer se troue in Malibu.

En toe sy op 11 Februarie 49 word, was Justin nêrens te sien nie, net haar hegte vriendin Courteney Cox, wat saam met haar in Friends was, en nog vriendinne.

Justin was aan die ander kant van die land, waar hy afgeneem is toe hy met sy hond stap en saam met vriende kuier. Hul laaste ontmoeting was op die romantiesste dag van die jaar toe Justin Los Angeles toe vlieg om Jen nog een keer te sien.

“Hulle het toe besluit om die volgende dag ’n verklaring uit te reik dat hulle uitmekaargaan,” vertel ’n bron.

Jennifer het blykbaar hiermee gesloer, maar Justin was vasbeslote om dit af te handel.

“Hy wou die aankondiging agter die rug kry en met sy lewe aangaan.”

In tipiese Hollywood-styl was die aankondiging warm maar niksseggend. Hulle het gesê hulle is “twee beste vriende wat besluit het om as ’n paartjie uitmekaar te gaan, maar daarna uitsien om hul kosbare vriendskap voort te sit”.

Aan die begin

Die twee het verlief geraak terwyl hulle in 2010 saam in die romkom Wanderlust gespeel het. Jen het vir vriende vertel sy het haar ridder op ’n wit perd gekry, hoewel hy vir haar “baie donker” is.

“Aan die begin kan jy dink hy’s ’n reeksmoordenaar, maar hy’s eintlik die gaafste ou ter wêreld. Hy is snaaks en dis maklik om by hom te wees.”

Sy was destyds nog besig om ’n nuwe lewe te bou ná haar opspraakwekkende egskeiding van Brad Pitt.

Sy het wel in daardie stadium al met die akteur Vince Vaughn en die sanger John Mayer uitgegaan, maar albei verhoudings het ná omtrent ’n jaar doodgeloop.

Justin was in ’n lang verhouding met die haarstilis Heidi Bivens, wat hy gelos het nadat hy Jen ontmoet het.

In 2011 het hulle hul verhouding aan die groot klok gehang, ’n jaar later verloof geraak en in 2015 hul vriende verras met ’n kleinerige troue by hul huis in Los Angeles. Nou beweer die webtuiste TMZ hulle was nooit wettig getroud nie en dat daar in die distrik Los Angeles geen bewys is van hul huwelikslisensie nie.

Dit kan egter wees dat hulle in een van Kalifornië se 57 ander distrikte getroud is. Terwyl hulle getroud was, kon hulle skaars uitgepraat raak oor mekaar.

In ’n onderhoud met Women’s Wear Daily het Jen aangegaan oor hoe Justin se oë “elke dag my voete onder my uitslaan. Hy word net elke jaar beter.” Hy het weer baie te sê gehad oor hoe snaaks en slim sy is en hoe mal hy daaroor is om getroud te wees.

“Die huwelik maak die klein dingetjies baie kleiner en die groot dinge klein,” het hy verlede jaar aan die tydskrif Rhapsody gesê.

Jen en Justin (regs) in die fliek Wanderlust.

Nou hoekom dan skei?

Blykbaar is daar twee redes. Een is hul ongewone verblyfreëlings – hy woon in New York, waar sy TV-reeks The Leftovers al jare lank verfilm word, en sy in haar geliefde Glinsterstad.

Dan is daar die klein feitjie dat hul persoonlikhede hemelsbreed verskil.

Die twee het blykbaar maande lank al vasgesit oor Justin wat as akteur, draaiboekskrywer, regisseur en komediant ál dieper by die bedryf in die Groot Appel betrokke geraak het.

Die sexy fotograaf Petra Collins Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy is dikwels op sy motorfiets gesien waarmee hy na die stad se hipster-kuier- en -eetplekke rits.

Sy groot vriendekring bestaan uit ’n uiteenlopende groep, van skrywers en akteurs tot tatoekunstenaars en rappers met ’n voorliefde vir dagga. “Hy’s nomadies en ’n vrye gees; Jennifer is net nie so ’n soort mens nie,” het ’n bron aan ET Online gesê.

‘Almal het geweet Justin en Jen is nie reg vir mekaar nie – almal behalwe Jen’

Hulle was blykbaar in maande nie bymekaar nie en die stories oor sy partytjiehouery het Jennifer bitter vies gemaak.

“Dis waar dat hy partytjie gehou het, en hy het glad nie soos ’n getroude man gelyk nie,” het ’n ander bron aan The Sun vertel. Een van die mense saam met wie hy blykbaar gekuier het, is die sexy fotograaf Petra Collins.

“Almal het geweet Justin en Jen is nie reg vir mekaar nie – almal behalwe Jen,” het die bron gesê.

Jennifer was vyf jaar met Brad Pitt ge­troud. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Sy en die akteur Vince Vaughn het sowat ’n jaar uitgegaan. Foto: Gallo Images/ Getty Images
John Mayer was haar ou voor Justin Theroux. Foto: Gallo Images/ Getty Images

‘Hy’s nomadies en ’n vrye gees; sy is net nie so nie’

Wat gebeur nou?

Daar is geen twyfel daaroor nie dat Jennifer nou by­gestaan sal word deur van haar beroemde vriendinne, soos die aktrise Jennifer Law­rence, TV-aanbieder Chelsea Handler, Amy en Courteney. 

Laasgenoemde het ook help trane afvee toe Brad haar los vir Angelina Jolie nadat die twee tydens die vervaardiging van die fliek Mr. & Mrs. Smith verlief geraak het. 

“Jen vaar oukei,” het ’n bron aan E! News gesê. “Jen het haar vriende wat soos familie vir haar is. Dis altyd hartseer wanneer ’n mens die stukkies moet optel, maar sy het baie liefde in haar lewe.”

Sy het ook ’n rits nuwe projekte, onder meer ’n nuwe Apple TV-reeks saam met Reese Witherspoon oor die lewe van mense wat betrokke is by oggend-TV sowel as ’n huiswarereeks.

Justin is pas klaar met ’n nuwe TV-reeks, Maniac, en twee van sy flieks word vanjaar uitgereik: die wetenskapsfiksieriller Mute en die aksiekomedie The Spy Who Dumped Me.

En dalk hoef hulle nie juis te ba­klei oor “myne” en “joune” nie, want hulle het ’n waterdigte huwelikskon­trak. Sy is R2,3 biljoen sterk en hy R230 miljoen. 

Jennifer Aniston en haar hegte vriendin Courteney Cox. Foto: Gallo Images/ Getty Images

En wat van Brad?

Die internet het byna gaan staan toe dit bekend word Jen en Justin wil skei, want loop Brad Pitt dan nie nou ook los rond nie?

“Al wat ek sê, is Jennifer Aniston en Brad Pitt is nou albei terselfdertyd loslopers,” het ’n Twitter-gebruiker geskryf.

“My reaksie op Jennifer Aniston se skeinuus :(, maar toe besef ek sy en Brad Pitt is albei enkellopend :),” het nog een geskryf.

Jennifer se eks-man, Brad Pitt Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar wil Jen regtig ’n man terughê wat haar vir ’n ander vrou gelos het? Seker nie – maar ons mag mos maar in sprokies glo, of hoe? 

Bronne: BBC.com, Eonline.com, DailyMail.co.uk, People.com, The Sun.co.uk, Mirror.co.uk, IMDB.com