Dalk was dit haar 40 jaar in Italië se Carrara-gebergtes wat die aanraking van Vader Tyd so streelsag gemaak het.

Dis asof die langsamer leefstyl in dié Mediterreense land mense met ’n blywende skoonheid seën. Want ondanks die stroke grys is die welige goue krullebol steeds bekend.

So ook die warm glimlag en die lagplooitjies om die donker oë.

En dan wis daardie ryk stem, so geliefd deur radioluisteraars, alle twyfel uit die weg: Dis Tossie Lochner, op 83 nog net so elegant soos altyd.

So tydloos soos die Italiaanse skoonheid Sophia Loren, het mense al gesê.

En hoekom nie?

Tossie is tydens haar vier dekades in dié silwerdoekverleidster se geboorteland al dikwels vir ’n gebore Italianer aangesien.

Met haar hare in sorgelose elegansie opgestapel en dieselfde intense kyk, wil jy onwillekeurig “mamma mia” prewel – al is sy deesdae ver van haar geliefde Italië af.

“Mense keer my gereeld voor om dieselfde ding te sê, altyd met ’n tikkie verbasing: ‘Sjoe, Tossie, maar jy lyk goed,’ ” vertel sy, en die lagplooitjies maak voetspoortjies.

“Ag, en ’n mens is mos maar ook net mens. Almal is vatbaar vir die vleiery. ’n Mens wonder net ná die tyd waarom niemand ooit vra hoe jy vóél nie . . .”

En hoe voel jy dan, wil ons weet.

“Ag, hemel,” sê Tossie, sommer afgehaal.

“Ek het nie gedink ek sou ’n stadige stapper wees nie. Maar ek ís. Deesdae loop ek dus kort entjies, en dan moet ek ander flous om te dink ek is nié moeg nie. Dan staan ek eers stil en maak of ek vir die verkeer kyk. Of soms maak ek of ek aan my skoenveters torring.”

Sy is ver jare verwyder van haar RSG-gloriedae, sê sy dan met ’n laggie.

Dertig jaar lank, terwyl Suid-Afrikaners in isolasie vasgevang was weens sanksies teen apartheid, het sy Europa toegankliker gemaak met haar radioaflewerings uit Italië.

In haar imposante Afrikaans het sy luisteraars na stede soos Amsterdam, Londen, Rome en Parys weggevoer.

“Tossie Lochner, Italië,” het sy haar Monitor-insetsels afgesluit.

“Tossie Lochner, Italië,” het Tossie altyd haar Mo
“Tossie Lochner, Italië,” het Tossie altyd haar Monitor-insetsels afgesluit. Hier is sy soos ons haar onthou: voor ’n mikrofoon besig om ’n nuusbrokkie op te neem. Foto: Rowyn Lombard

Ons glamorous boere-Sofia, volksbesit in die vreemde. Maar dáárdie lewe is lank vergete.

In 2008 was Tossie terug in Suid-Afrika omdat RSG nie meer buitelandse korrespondente kon bekostig nie.

Die afgelope drie jaar het sy by die Spar in Die Wilgers, Pretoria, gewerk.

“Hulle het my die oudste kelnerin in die hele Pretoria genoem,” spot sy.

“Want ek het alles gedoen: geleenthede, vloerwerk en soms agter die toonbank ook.”

Tossie het voor die koms van covid-19 by Spar in D
Tossie het voor die koms van covid-19 by Spar in Die Wilgers, Pretoria gewerk. Foto: Onkgopotse Koloti

Maar weens die verwoestende impak van die inperkingsreëls teen covid-19 is sy nou ook dié werk kwyt. Sy deel nou ’n piepklein tuinwoonstel in die omgewing saam met haar lewensmaat, Martin Snyman (80).

“Ag, dis oukei. Ek het my dae gehad . . . die roem en die glorie. Nou is dit iemand anders se beurt,” sê Tossie. Want nes haar uiterlike het haar gees nog lank nie verdof nie.

Net anderdag sê ’n vrou 10 jaar jonger as Tossie beterweterig vir haar: “As jy op mý ouderdom kom, sal jy weet wat pyn is. Dan ervaar jy elke dag ander skete.”

Sy het maar net geglimlag, vertel Tossie, en gee toe: Op 83 is sy tot dusver omtrent “elke skeet in die boek vir ou mense” gespaar.

Maar darem nie alles nie.

“Jong, ek sukkel maar met die oë. Veral die linkeroog; hy wil nie meer lekker sien nie.” En dan natuurlik die klein treetjies, vertel sy kopskuddend.

“Toe ek nog by Spar gewerk het, het my kollegas gespot: ‘Tossie, pasop, daar’s ’n trappie.’ Maar ek het vir hulle gesê dié tannie is nie bang vir trappies nie. Sy is nog vol oemf.”

Sy het ’n lewe van glitz en glamour gelei, hoor sy ander gereeld sê.

En haar lewe in Italië wás sprokiesagtig. Daar was kuiers op Italië se beeldskone piazzas, tuisgemaakte pasta en die prentjiemooi uitsig op die berge.

Maar dit was nie altyd so nie.

“Ek onthou hoe arm ons destyds was. Ek was ’n spraakterapeut in Kaapstad en het na Italië verhuis vir ’n geleentheid om daar te werk. Maar toe ontmoet ek my oorlede man, Roberto Vegnuti, en keer in 1968 na Italië toe terug om ons daar te vestig,” vertel sy.

‘Tossie is die hart van hierdie winkel. Ek is seker sy sal een van die dae na die span terugkeer’

“Ek onthou hoe bang ek was toe ’n destydse nuushoof van RSG my genader het vir die Monitor-pos. Ek het nie geweet of ek daarin sou slaag óf goed wees nie.”

Sy het die RSG-grootkoppe in hul Auckland Park-kantore beïndruk met ’n klankinsetsel oor die Suid-Afrikaanse Formule 1-renjaer Jody Scheckter.

“Destyds het die nuusbase gesê ek moet sommer my naam agter die insetsel voeg.

Ek het, en dit was die begin van alles.”

Tossie en Roberto het eers in Toskane gewoon en later verhuis na die Carraragebergte op die platteland beroemd vir die wit en grys Italiaanse marmer wat daar ontgin word.

Hul kinders, Sara Cucinelli (49) en Leonardo (47), het in 2005 na Suid-Afrika verhuis nadat Roberto in 2005 weens longkanker oorlede is. Tossie het hul voorbeeld in 2008 gevolg.

Tossie in Italië. Foto: Verskaf
Tossie in Italië. Foto: Verskaf

“Ag, die natuurskoon was nie genoeg om die alleenheid te verberg nie,” vertel sy. “En daar was maar ’n geldknyp omdat ek in dieselfde tyd my radiowerk verloor het.”

Sy het Martin, ’n oudkleremaker, in dieselfde jaar in Pretoria ontmoet. Die koeël was sommer dadelik deur die kerk.

Tossie woon die afgelope 10 jaar saam met haar lew
Tossie woon die afgelope 10 jaar saam met haar lewensmaat, Martin Snyman, in Pretoria. Maar sy wil terug Italië toe – om haar “ander kêrels te groet”, lag sy. Foto: Verskaf

“Ons het nie tyd vir fieterjasies op ons ouderdom nie,” lag Tossie.

Martin se liefde en haar kinders se omgee dra haar, want die aanpassing ná haar opwindende radioloopbaan was maar moeilik.

“Jong, ek het nog nooit gehou van stilsit nie,” bieg sy.

Sy wys die Spar waar sy voor die koms van covid-19 gewerk het.

“Ek het op ’n dag hier ingestap, maatjies gemaak met ’n vrou by die blommeafdeling en haar toe sommer begin help. Later het die winkel ’n nuwe eienaar gekry.

‘Staan jy sommer net hier tussen die rakke, en as iemand vra waar die sjokolade is, wys jy hulle waar dit nou is,’ was sy woorde.

En ek hét . . . En later ook by enigiets anders betrokke geraak,” vertel sy.

“En weet jy wat? Ek is nie gebodder deur die dinge wat mense kwytraak nie.

“Almal het hulle swarigheid. Ja, ’n mens draai jou sente om; die meeste van ons doen. Maar dis eerlike werk. Dis maar die paadjie waarop ek moes wandel, en dis heeltemal oukei.”

Dan bring sy Bruna Viola, ’n bestuurder by die Spar, nader om ons te ontmoet.

“Tossie is die hart van hierdie winkel,” laat Bruna dadelik hoor.

“Ek is seker sy sal een van die dae na die span terugkeer.”

Tossie lag.

“Dis eintlik ’n grappie tussen die twee van ons. Ek help nog hier en daar. Ek is tegnies werkloos – en dit op 83! Bid jou dit aan.”

Sou sy nie verkies om haar goue jare tuis met ’n lekker boek deur te bring nie?

Tossie maak haar oë groot.

“Ek, stilsit? Nie sommer nie.”

Dan word sy ernstig.

“Dit kom dalk vir mense voor asof ek goed lyk vir my ouderdom, maar ek is eerlik oor my beperkings.

Ek weet my dae is getel; ek weet iets kan enige oomblik skeefloop. Maar ek is ’n aartsoptimis.”

Soms is haar verlange na die Italiaanse platteland en berge pynlik, erken sy.

Maar om terug te gaan is nie so maklik nie.

Dan spot sy weer.

“Ek wil al my boyfriends daar gaan groet. Jy weet, dié waarvan Martin nie weet nie.”

En weer swaai haar gemoed.

“Weet jy hoe breek dit my hart om op televisie te hoor hoe swaar my mense daar in Italië trek weens die pandemie? Ek wil teruggaan; ek móét teruggaan.

“Ek wil nie hê die beeld van Italië se moedeloosheid en gebrokenheid moet in my kop ingebrand bly nie. Ek wil die ooptes en die mooi een laaste keer sien. Dán sal ek finaal vrede hê.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.