Hulle het sewe jaar gelede by die televisiepersoonlikheid Tammy-Anne Fortuin se verjaardagpartytjie ontmoet. “Hy was so ’n cool ou,” onthou Tracey (34). "Ons het dadelik gekliek.

“Daar lê nou lekker opwindende dinge voor,” borrel die sprankelende donkerkop en verduidelik: "Ons het al vier weke gelede verloof geraak, maar wou dit bietjie privaat hou en die tyd eers geniet."

Avukile het vir haar die jawoord by hul huis in die Kaapse middestad gevra. “Ek het van die kerk af gekom. Hy het gereël dat ’n persoonlike sjef vir ons ontbyt maak: al my gunsteling-dinge was daar, soos egg benedict, muffins, oesters, croissants, sjampanje en sonneblomme. Dit het vir my gevoel asof ek in ’n hotel is.”

Vir twee ure lank het sy nie verwag wat gaan gebeur nie, toe vra Avukile (36) sowaar die groot vraag. “Ons het vir die res van die dag rondgehardloop na vriende en familie om die goeie nuus met hulle te deel.”

Avukile het self die verloofring ontwerp en by Jack Friedman laat maak: roosgoud met ’n sjampanjekleurige diamant en twintig klein konjakkleurige diamantjies rondom.

Daar is nog nie ’n troudatum nie.

Tracey is KFM-omroeper en Bravo!-aanbieder en Avukile ’n strategiese direkteur. Die twee reis gereeld die wêreld plat en het al onder meer Boedapest, Mosambiek, New York, Brasilië, Instanboel, Duitsland, Nederland en die Tseggiese Republiek saam besoek. 

Aangesien hulle die wêreld platreis, het hulle in 2016 vir die pret die reisblog Travul Diary begin, waar hulle reiswenke en pragtige foto’s deel.

“Ons is albei gemaklike reisigers en saam is dit nog lekkerder,” het Tracey onlangs aan Huisgenoot vertel.

Nou maak die paartjie reg vir hul grootste gesamentelike reis nog.

Baie geluk, julle twee!