Selfs agter die blou-en-wit masker herken ’n mens onmiddellik die vrou met die glansbruin lokke wat deur ’n erewag van eike in die Kompanjiestuin aangestap kom. 

En toe sy by die tafel haar masker afhaal, veroorsaak sy omtrént ’n beroering onder die besoekers wat die somerweer geniet. Selfs die eekhorings wat eetgoed bedel, is vergete.

“Dis mos Tracey Lange daai,” hoor jy die gaste fluister. Koppe knik instemmend, en nekke rek om daardie bekende skitterwit glimlag beter te sien. 

Terwyl die pragtige TV- en radioaanbieder later in opgewekte uitrustings speels vir die kamera poseer, laat haar bekende lag ’n tannie op ’n bankie twee keer kyk. “Dis mos Tracey Lange van Tussen ons,” sê sy hardop en vra ’n selfie. 

“Ja, natuurlik,” roep Tracey (36) uitbundig. Terwyl hulle saam vir die kamera glimlag, vertel die tannie hoeveel sy Tracey se geselsprogram geniet. En ook haar aanbieding van kykNET se Bravo! en haar KFM-radioprogram, Mid-Mornings with Tracey Lange. 

Mense is altyd bly dat jy daar is vir hulle

Dit word ’n patroon dié middag saam met Tracey in die tuin. Dis asof sy in haar eie aansteeklike plas sonskyn en geluk rondbeweeg. Oral steek mense in hul spore vas en lig hul selfone vir ’n foto. En sy is dol daaroor.

“Dis vir my vreeslik lekker om te hoor wanneer mense vir my sê hulle is mal oor die programme, en dis vir my lekker om vir hulle te sê dankie vir die ondersteuning,” borrel sy. 

“Mense sal altyd vra hoe my lewe nou verskil van my lewe vóór televisie en radio. Die grootste verskil is dat mense nou eerste met my praat. Voorheen het ek eerste met mense gepraat!”

Jy kom gou agter haar passie vir mense en haar werk is nou verweef, en albei is belangrike bestanddele van haar geluk. 

Tog het covid-19 en die inperking van die afgelope jaar ook háár lewe aangeraak. Verlede Junie het haar suster, Deidré van der Heyde (45), met die virus geworstel en haar storie in Tracey se program gedeel. 

View this post on Instagram

A post shared by T R A C E Y L A N G E (@traceylange)

“Sy het herstel, maar daarna ’n paar keer in die hospitaal beland weens dit wat die virus aan haar liggaam gedoen het. My ma, Theresa, was baie bekommerd, maar sy is gelukkig nou baie beter en neem medikasie om seker te maak dat haar bloed nie verdik nie.” 

Sy wil dit eintlik nie hardop sê nie, “want mense raak baie moeilik daaroor”, maar die inperking het vir haar persoonlik ook positiewe dinge gebring. “Dit was vir my ’n tyd om rustig te raak. Ek kon net fokus op KFM, want vyf weke het ons nie aan Bravo! en Tussen ons verfilm nie.” 

Al die samesyn het haar verhouding met haar man, Avukile Mabombo (38), net verder versterk. En bowenal kon sy vir die eerste keer behoorlik rou oor haar pa, Colin Lange (71), wat op 30 September 2018 aan ’n hartaanval oorlede is. 

Voorheen het sy as gevolg van haar druk werkrooster net nie tyd vir rou gehad nie.“My werk laat my nie toe om te sit en af te wees wanneer ek die dag wil nie. En om af te wees beteken nie noodwendig ek is hartseer nie; dit beteken net ek is stil,” sê Tracey. 

Dan wuifgroet die soveelste aanhanger, en haar kortstondige erns wyk voor daardie groot, helder glimlag. Terwyl mense deur die pragtige tuin begin huis toe drentel, kyk Tracey terug oor die vol en vervullende pad van haar loopbaan.

Tracey Lange
Al is sy mal oor televisiewerk, bly radio haar eerste liefde, vertel Tracey. Foto: Corrie Hansen

Ja, daar was struikelblokke, en daar is nog elke dag uitdagings. “As jy goeie gehalte wil hê, en jy wil seker maak jy kan dit lank volhou, moet jou produk konstant van uitmuntende gehalte wees. En om daardie soort gehalte te handhaaf beteken daar sal moeilike tye kom.” 

Sy is dol oor televisiewerk, maar radio was en bly haar eerste liefde. In haar 14 jaar in die radiobedryf was dit altyd vir haar opvallend hoe baie mense se eensaamheid in die feestyd verdiep. “Dit was vir my altyd lekker om op Kers-en Nuwejaarsdag te werk, want ek het gevoel mense is altyd bly jy is daar vir hulle.”

Tracey sê die streng inperking verlede jaar was soos ’n nimmereindigende feestyd waar die eensame mense baie alleen gevoel het. Sy het toe haar bes gedoen om hul dae op te kikker. 

“Ons besef nie hoeveel mense stoksielalleen is nie. Met die inperking is dit amper konstant dat jy elke dag daar vir hulle moet wees. Ek het baie druk gevoel, maar sjoe, die liefde wat ek vir radio het, is next level.

’n Mens hoor dikwels hoe taai en mededingend die televisiebedryf kan wees – was die oorgang vir haar moeilik?

Die geselsprogram Tussen ons, waarvan Tracey die h
Die geselsprogram Tussen ons, waarvan Tracey die hoofaanbieder is, is ’n wegholsukses. Op Donderdae bied sy die Tussen ons #TBT-episode aan. Foto: Ramano Fortuin

Sy skud haar kop. Die soort venyn in die televisiebedryf waaroor mense soms praat, het sy self nog nooit teëgekom nie. Om die waarheid te sê werk sy hard daaraan om haar eie produk sowel as die goeie naam van die bedryf in ere te hou “sodat mense kan wegstap en sê: ‘Goeie genugtig, wat hulle van die plek sê, is ’n leuen.’”

Dis danksy dié benadering dat Tussen ons, wat Tracey saam met die Kuier-redakteur, Kay Karriem, Ingrid Jones, Success Lekabe en Zelda la Grange aanbied, die afgelope drie jaar so gewild geword het. 

Sy is tans ook betrokke by die vervaardiging van die fliek Klein Karoo 2, wat later vanjaar uitgereik word. 

Hoe hou sy al die balle in die lug? Deur supergeorganiseerd te wees, natuurlik! “Ek skryf alles neer, en ek moet dit kan afmerk. Ek hanteer alles in my dagboek self om seker te maak ek doen voorbereiding vir my programme, en ek maak seker ek stuur skedules vir KFM om te sê dís die onderhoude wat in die toekoms gaan plaasvind.” 

Haar persoonlike assistent reël dan die onderhoude en help om die vloed e-pos in haar inmandjie te hanteer.

Tracey en haar man, Avukile Mabombo.
Tracey en haar man, Avukile Mabombo. Foto: Verskaf

Dis darem nie alles net werk nie, sê sy met ’n glimlag. Omdat sy haar dinge so ver vooruit vasknoop, is daar tyd om op die balkon van haar woonstel in St. George’s Mall te sit en die uitsig op die stad en see te geniet. 

Sy kom stap ook graag hier in die Kompanjiestuin aan die voet van Tafelberg vir die vars lug. En natuurlik om tussen die mense te wees met wie sy so graag gesels. 

Tracey en Avukile, ’n bemarkingstrateeg, is op 1 Oktober verlede jaar getroud. Die plegtigheid in Kaapstad se Old Foundry Hotel was vir Tracey emosioneel, want dit was ook haar oorlede pa se verjaardag. 

Sy en Avukile is al sewe jaar saam en daarom het hul getroude status eintlik min omtrent hul verhouding verander. “Daar is net meer van ’n sekerheid. Ons het aan die begin harde klippe gekou met die werke wat ons gehad het. Daar was baie goed wat ons moes bespreek en uit-figure, maar ons het deurgedruk. 

“Die ring is ’n bonus; ek het reeds gevoel of ek getroud is, dat ek op hom kan staatmaak...Ons laat mekaar baie ruimte toe, maar ek weet hy is daar wanneer ek hom nodig het.” 

Eindelik rek die eike se skaduwees, en die son sak ál laer oor die see. Tracey se masker is weer op, maar die ligte tred waarmee sy in haar eie sonkol wegstap, is onmiskenbaar hare. 

STILERING: KYRA LOUBSER, HARE EN GRIMERING: MERLIZE DU TOIT.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe