Craig was Tina en haar kêrel Raymond Hill se seun. Sy was 18 toe hy gebore is. Raymond was destyds die saksofoonspeler vir die Kings of Rythm-groep saam met Ike Turner, die man met wie Tina in 1962 getrou het.

Craig het tot en met sy dood as ’n eiendomsagent in die San Fernando Valley-gebied gewerk. Hy het hierdie foto op Facebook gedeel waar hy en sy bekende ma met die kletskoningin, Oprah, in vrolike luim verkeer.

Die foto is na bewering geneem tydens Tina (toe 73) se troue met Erwin Bach (toe 57) in 2013 in Zürich, Switserland. Hulle was toe reeds 27 jaar lank ’n paartjie. Craig is links op die foto en Erwin regs.

Foto: Facebook (Craig Turner)

'n Emosionele kind

Ike het Craig aangeneem en Tina het op haar beurt Ike se kinders, Ike Jr. (toe 2) en Michael (toe 1), aangeneem. Hul kinderjare was allesbehalwe maanskyn en rose vir Craig, sy halbroer, Ronnie, en Ike se twee kinders nie.

Ronnie is in Oktober 1960 gebore en was Ike en Tina se enigste seun saam. Maar Ike en Tina se huwelik was deurgaans stormagtig tot dit in 1978 ontbind is. Hy het haar gereeld mishandel, iets wat Tina glo byna daarna gedryf het om haar eie lewe te neem.

Dit was Craig wat haar gesteun het wanneer Ike nie sy vuiste tuis kon hou nie. Tina het hom in 2005 in ’n onderhoud met Oprah as ’n “baie emosionele kind” beskryf.

Tina en Craig. Foto: Facebook (Craig Turner)

Tina, wat enkele ure voor haar seun se dood die Giorgio Armani Privé Haute Couture-modeskou in Parys bygewoon het, het tot dusver nog nie kommentaar op sy heengaan gelewer nie.

Terwyl bitter min oor Craig bekend is, haal sy halfbroer gereeld die nuus – en die meeste van die tyd om al die verkeerde redes.

Pa se voetspoor gevolg

Tina, wie se geboortenaam Anna Mae Bullock is, se tweede seun, Ronnie, is in 2007 getroud met die sangeres Afida Turner (gebore in Frankryk as Haffida Messaï en met die verhooghaam Lesley Mess).

Demensie is na bewering gediagnoseer by Ronnie, ’n gewese baskitaarspeler, en volgens sy vrou kon hy in 2016 nie meer loop nie. Hulle het Tina genader om hulle geldelike by te staan, maar dié het raad gegee, pleks van geld. Sy het Afida aangeraai om volmag te kry en Ronnie in ’n ordentlik versorgingsoord te plaas.

Afida het nie daarvan gehou nie en het glo haar lot by ’n vriendin bekla: “Tina gee niks om vir haar seun of sy gesondheid nie. Ek hoop Tina besef dis haar seun en dat sy ons kan help.”

Ronnie het ongelukkig in sy bekende – en terselfdertyd berugte – pa se voetspoor gevolg. Hy het ’n lang geskiedenis van dwelmverwante inhegtenisnemings. In Februarie 2016 is hy 16 maande tronkstraf opgelê nadat hy met kokaïen betrap is.

In 2000 het hy na bewering sy houvrou en hul twee kinders uit die huis geskop omdat hulle wou hê hy moes sy dwelmgebruik staak. Die vrou en sy kinders moes snags in hul motor slaap terwyl Ronnie in die woonstel bly woon het wat sy ma vir hom betaal het.

Huldeblyke op Twitter

Gevaartekens van selfmoordgedagtes
Spreek ’n dokter as jy langer as twee weke enige van hierdie simptome ervaar:
    •    voortdurende hartseer, angstigheid en ’n gevoel van leegheid;
    •    ’n gesukkel om te konsentreer, details te onthou of besluite te neem;
    •    moegheid en minder energie;
    •    skuldgevoelens, ’n gevoel van waardeloosheid, hulpeloosheid en/of pessimisme;
    •    slapeloosheid, om soggens vroeg wakker te skrik of uitermate lank te slaap;
    •    geïrriteerdheid of rusteloosheid;
    •    ’n verlies aan belangstelling in aktiwiteite of stokperdjies wat vroeër genotvol was; of
    •    ’n verlies aan aptyt of oormatige eetlus.
Bel Sadag se hulplyn sewe dae per week tussen agtuur soggens en agtuur saans by 011-234-4837.
Help 'n depressielyer só die donker tye oorleef

Kenners* het dié raad vir die geliefdes van ’n depressielyer:
    •    Moedig hulle aan om hulp te kry voor hul simptome vererger.
    •    Bied hulp aan met hul werklas terwyl hulle behandeling vir depressie ontvang.
    •    Te veel empatie kan ’n depressielyer se gedrag versterk. Handhaaf ’n goeie balans.
    •    Help sover moontlik keer dat lyers hulle aan drank vergryp. Drank kan hul depressie vererger. Wees veral versigtig as hulle medikasie gebruik.
    •    Kom voor ’n geselligheid ooreen hoe lank julle sal bly en hou daarby. Dit kan angstigheid verminder.
    •    Omdat lyers geneig is om hulle te onttrek, betrek hulle by aktiwiteite.
    •    Probeer by ’n roetine hou en sien toe dat lyers nie te veel of te min slaap nie.
    •    Laat staan eers die familierusies, sluimerende vetes en ongelukkige verhoudings, veral wanneer iemand met behandeling begin. Deernis en vergifnis help met genesing.
    •    “Nee” is nie ’n vloekwoord nie. Lyers gebruik dit moontlik omdat hulle nie die energie het om aan jou versoek te voldoen nie.

* Bronne: Dr. Hannes Swart, bedryfsielkundige van Bellville; dr. Rosa Bredenkamp, Kaapse sielkundige; Cassey Chambers, bedryfsdirekteur van Sadag; dr. Ajesh Janki, psigiater by die Akeso-psigiatriese kliniek in Umhlanga

Bronne: radaronline.com, intouchweekly.com, msn.com, variety.com, eonline.com