Elke oggend het hy in die spieël gesien hoe die kaal kol teen die kant van sy kop groter word. Eers kon ’n vyfrandstuk dit bedek, maar later was die bles byna so groot soos sy handpalm.

Dag ná dag moes die sanger toekyk hoe sy hare uitval terwyl hy beangs wonder hoe hy dié verlies vir sy aanhangers gaan wegsteek.

Op foto’s wat geneem is in die jare voor sy haarverlies, kyk Joe Foster direk in die kameralens. Sy blonde hare is volmaak gestileer en sy tande flits wit. Met sy kenmerkende oorbel in albei ore lyk hy selfversekerd.

Maar op foto’s wat die afgelope jaar geneem is, dra hy pal ’n hoed. In dié tyd wou die sanger en musiekvervaardiger iets wegsteek, ’n ongemaklike geheim wat hy nie eens met die mense naaste aan hom wou deel nie.

Joe het byna ’n jaar lank sy haar­verlies onder ’n hoed probeer wegsteek. Hy het baie selfbewus gevoel. Foto: Instagram

Vandag vertel hy vir die eerste keer kaalkop die waarheid: “My hare het uitgeval. Ek het kaal kolle op my kop gehad waar nie ’n haar gegroei het nie,” sê hy en vat-vat aan die plek waar hy destyds die eerste kol gekry het.

Die toestand alopecia areata is in Februarie verlede jaar by Joe gediagnoseer. Dit ontwikkel wanneer die immuunstelsel foutiewelik jou eie haarwortels aanval en dit daartoe lei dat jou hare uitval.

Nadat sy hare maande lank uitgeval en bles kolle op sy kop gelaat het, het dit onlangs ná suksesvolle behandeling eindelik weer begin teruggroei. Die nuwe donsies op sy kop is sy natuurlike bruin.

Hy was tot dusver skrikkerig om dit weer te kleur na die blond wat sy aanhangers leer ken het toe hy eers in die musiekgroep Adam en later as solokunstenaar naam begin maak. Die enigste teken van die toestand wat hy nou nog het, is ’n effense gaping in die hare bo sy regteroor.

Maar Joe sien nou eers kans om te praat oor die ervaring, want dit was vir hom baie moeilik. Met lang klaviervingers streel hy deur sy bruin kroon.

“Maande lank het ek in die openbaar hoed gedra. Selfs as ek tussen my vriende was. Ek het nooit kon dink watter groot invloed dit op my sou hê nie,” sê hy.

In Januarie verlede jaar, toe hy die eerste bles kolletjie gewaar, het hy gehoop dis sommer niks en die hare sal weer teruggroei.

“Ek het my hare gaan sny en die haarkapper het dit gesien. Die bles kol was omtrent so groot soos ’n vyfrandstuk,” vertel hy.

Hy vat ’n sluk koffie hier in sy kantoor in die ooste van Pretoria. Maar die kol het ál groter geword en sy haarverlies het binne weke vererger. Later het hy kaal kolle op ander plekke ook gehad.

“Ek kon dit naderhand nie meer sonder ’n hoed wegsteek nie.”

Hy was aanvanklik te skaam om ’n dermatoloog te gaan spreek; selfs te skaam om sy hare weer te laat sny.

“Ek het net aan die kante van my kop kaal kolle gekry. Bo was my hare fine. Ek het elke dag die kant van my kop geskeer. Maar as ek een dag oorgeslaan het, kon ’n mens die kolle sien,” sê hy.

Nog kaal kolle het langs sy kop verskyn. Foto: Verskaf
Die kaal kol was eers so groot soos ’n R5-­muntstuk, maar het geleidelik groter geword. Foto: Verskaf

“Aanhangers het kommentaar gelewer oor my hare wat nou so kort is aan die kante, want hulle het nie daarvan gehou nie.”

Selfs sy baard het plek-plek uitgeval.

“Mense het gedink ek skeer mis. Ek het maar net vir hul grappies gelag.”

Op pad om resies te jaag op @midvaal_raceway_mx_track?? Say what?!? #racingwithcelebs ??

A post shared by Joe Foster (@joefosterofficial) on

Depressie en angstigheid

Joe het al voorheen openlik oor sy pad met depressie gepraat en drink elke oggend voorgeskrewe kalmeerpille, maar hy het met sy haarverlies-ervaring darem die donker gat van depressie vrygespring. Die sanger van treffers soos In die Reën vir Jou en Pad na Jou Hart sê angs was ook nog altyd iets waarmee hy spartel.

“Angstigheid is my kruis. Ek kan vreeslik angstig word omdat ek alles gelyk wil doen en almal wil tevrede stel.”

Hy moes as introvert leer om in die musiekbedryf as ’n ekstrovert op te tree; daarom was hy dikwels buite sy gemaksone. Angs en stres het moontlik bygedra tot sy haarverlies, glo hy.

“Ek dink dit was ’n sameloop van omstandighede.”

Hy noem die gebeure wat sy lewe binne ’n kort tyd omgekeer het: Hy het einde 2016 van Knysna na Gauteng verhuis; sy paaie het met dié van sy sakevennoot geskei omdat ander en beter geleenthede opgeduik het; en hy het in Junie 2016 sy hand gebreek toe ’n boks uit ’n kas daarop val.

“En ek was bekommerd oor of ek weer sal kan klavier speel.

'Daardie brief . . . '

“Dan was daar ook die backlash met die brief aan Rudi.”

Joe het einde 2016 ’n ope brief aan die sanger Rudi Claase en sy vrou, Suzette, geskryf. Rudi was met ’n man getroud voor hy en Suzette in September 2016 afgehaak het. In sy brief het Joe aangevoer Rudi skep die idee dat kinders wat gay is, kan verander.

Joe het nie daarmee saamgestem nie. Sommige aanhangers het Joe gekritiseer dat dit niks met hom te doen het nie. Dit het seergemaak. Hy het nooit bedoel om Rudi en Suzette te na te kom nie en “wens hulle net die beste toe”.

Hy handhaaf steeds die mening wat hy destyds in die ope brief gedeel het, maar sê hy is ná die herrie “versigtiger om my mening te lug”.

Die behandeling

Toe sy hare in dié stresvolle tyd begin uitval, het hy nie kans gesien om daaroor te praat nie; hy was selfbewus daaroor.

“Ek’s ’n popster. Mense verwag ek moet goed lyk,” sê hy.

“Ek het gevoel my hele loopbaan gaan daaronder ly.”

Nadat ’n dermatoloog die toestand eindelik verlede Februarie gediagnoseer het, het hy kortisoonbehandeling voorgeskryf. Kortisooninspuitings word gebruik om die immuunstelsel te onderdruk om te keer dat dit haarfollikels aanval.

Joe het binne ’n tydperk van drie maande 32 kortisooninspuitings in sy kopvel gekry en sy hare het onlangs weer in donsies begin teruggroei.

Baie mense ly daaraan. Ek dink nie almal kry altyd die regte behandeling nie en mense is skaam daaroor. As ek dit weer kry, sal ek openlik wees daaroor.

“Ek was so verlig. Dit het aan die begin soos fyn blonde babahaartjies gelyk.”

Of die toestand sal terugkeer en sy hare weer sal uitval, kan sy dokter nie voorspel nie. Maar daaroor bekommer hy hom nie meer nie.

“Ek wil nie weer so wees nie. Ek was by ’n show en ’n aanhanger het aan my gekarring om my hoed af te haal vir ’n foto. Toe stamp die ou my hoed af en ek verloor my humeur. Dis toe dat ek besef ek moet daaroor kom.

“Baie mense ly daaraan. Ek dink nie almal kry altyd die regte behandeling nie en mense is skaam daaroor. As ek dit weer kry, sal ek openlik wees daaroor.”

Dié keer skuif hy gemaklik voor die kamera in, weer die ou Joe wat die ene selfvertroue is – met of sonder ’n hoed. 

Wat is alopecia areata?

Alle haarverlies word alopesie genoem, sê dr. Irshad Essack, ’n dermatoloog in Johannesburg.

Hare val meestal uit omdat die haarwortels doodgaan, maar die oorsaak kan verskil.

Van die oorsake is outo-immuunsiektes (soos in Joe se geval), voedingstekorte, hormoonwanbalanse, swangerskap en fungi. In baie gevalle is die haarverlies behandelbaar.

Soms dink mense hulle het oornag grys geword, maar eintlik het net al die donker hare uitgeval.

Alopecia areata, wat Joe gehad het, is veroorsaak deur ’n fout in sy immuunstelsel. Dié haarverlies kan skielik gebeur en jou oornag tref.

Dit val net donkerder hare aan, nie grys hare nie, verduidelik dr. Rakesh Newaj, ook ’n Johannesburgse dermatoloog.

“Soms dink mense hulle het oornag grys geword, maar eintlik het net al die donker hare uitgeval.”

Dié toestand is nie permanent nie en kan gestuit en omgekeer word. Dit kan wel later terugkeer en moet dan weer behandel word. As ’n mens skielik baie hare verloor, moet jy ’n dermatoloog gaan spreek om vas te stel watter soort haarverlies jy het sodat jy die regte behandeling kan kry.

Mans wie se haarlyn geleidelik terugkruip, ly ook aan alopesie.

“Mans word bles omdat hul haarwortels sensitief raak vir die testosteroonhormoon in hul bloed. Dis geneties en party kry dit al in hul vroeë 20’s. Maar die proses kan gestuit word as hulle vroeg genoeg ’n dokter spreek,” sê hy.

Volgens Rakesh begin alle mense tussen 35 en 40 jaar hare verloor.

“Hoeveel jy verloor, hang van mens tot mens af.”

Hoe gemaak as jy bles word?

Baie mans verkies om hul hare kort te skeer wanneer hulle begin bles raak.

As dit egter nie vir jou ’n opsie is nie en jy wil teen jou bles baklei, kan jy die volgende oorweeg, sê Craig Pieterse, eienaar van Hair Options in Gauteng:

  • Haaroorplanting: Jou eie hare word uitgehaal en weer ingeplant op die kaler gedeeltes van jou kop, maar dit kan net op klein areas gedoen word.
  • Haarstuk: Gaas word op jou kopvel geplak, maar net aan die kante sodat jou kopvel steeds kan asemhaal. Menshare word dan aan die gaas vasgeheg. Dit hou enigiets van drie maande tot drie jaar, maar jy moet elke paar weke vir instandhouding gaan.
  • Tatoeëring: Dit werk vir mense wat hul hare afskeer maar steeds wil hê dit moet lyk of daar hare is. Spikkels wat soos hare lyk, word op jou kop getatoeëer.
  • Laserbehandeling: Haartjies word gestimuleer om weer te groei, maar net party mense is goeie kandidate vir dié bepaalde behandeling.
FOTO'S: FANI MAHUNTSI, INSTAGRAM, VERSKAF