Die geliefde sanger het Donderdagoggend ’n foto van hom en sy vrou, Annatjie, by die see gedeel waarin hy gesê het hulle is tuis. “Ander mense gaan die vakansie see toe en ons trek die vakansie see toe,” het hy verder by die foto geskryf.

Die sanger Bok van Blerk wat saam met sy vrou, Hanna Grobler, sowat ’n jaar gelede Ballito toe getrek het, het hom tuis verwelkom.

Hanna het in November vir Huisgenoot vertel dat hulle besluit het om vir hulle kinders ’n veilige hawe in die kusdorp te kom skep. “Die lewe in Gauteng kan spanningsvol raak. Die daaglikse gejaagdheid het te veel geraak vir ons. Die lewe by die see is rustiger en hier is meer dinge om in die natuur te doen. Die mense is vriendelik en almal is rustig,” het sy vertel.

Nog 'n bekende wat in Ballito woon is die sangeres, Patricia Lewis, en haar man, Mark Whitfield, saam met hul seuntjie, Max.

Bobby se ma en bestuurder, Ronel Brink, het by navraag gesê sy kan nie bevestig dat hulle Ballito toe trek nie. “Ek kan niks sê tot Bobby nie gereed is om self daaroor te praat nie.”

Bobby duik gereeld in Sodwana-baai en as dit inderdaad so is dat hulle in Ballito gaan nesskop, is dit nou sommer net om die draai.