Die skatryk familie het eintlik nog altyd soos adel geleef – byna soos ’n Amerikaanse weer­gawe van die Britse koninklikes.

En toe pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, en kinders onlangs Engeland toe vlieg, het die presidentsgesin hul allerbes probeer om die koninklikes se kollig te steel.

Maar al weet hulle hoe om glansryk te lyk, kan niemand by die koningin en haar familie kers vashou wat onderbeklemtoonde koninklike styl en houding betref nie.

DIE AANKOMS

Met sy landing op die Stansted-lughawe in Engeland is Amerika se opperbevelvoerder deur ’n erewag van die Koninklike Lugmag verwelkom.

Sy gevolg van 1 000 mense het sy vrou, Melania, en vier oudste spruite, Ivanka, Donald jr. en Eric Trump (sy kinders by sy eerste vrou, Ivana) en Tiffany (sy dogter by sy tweede vrou, Marla Maples) in­gesluit.

Trump se jongste seun, Barron (13), het in Amerika gebly.

Maar die president het gou vir omstredenheid gesorg toe hy in een van sy eerste twiets op Britse bodem die Londense burgemeester, Sadiq Khan, ’n “stone cold loser” noem.

DIE ONGEMAKLIKE GROET

Hoewel die 72-jarige Trump vooraf ingelig sou word oor hoe om die koningin volgens protokol te groet, het hy die raad geïgnoreer.

Toe die Britse monarg hom by Buckinghampaleis in Londen verwelkom, het dit gelyk asof hy haar met ’n ontspanne vuisstamp groet. Dit blyk dit was toe al die tyd ’n effens aangepaste weergawe van sy berugte magshanddruk, waartydens hy haar fyn handjie in syne vasgeklem het eerder as om met ’n plat hand blad te skud.

Hy het later by die staatsdinee weer protokol oortree deur aan die koningin se rug te raak. Dit het nie gelyk of dit die koningin pla nie.

Sy het al die regte goed oor die betrekkings tussen Amerika en Brittanje gesê en geglimlag.

BÊRE DIE BURGERS . . .

Daar was 170 gaste op die staatsdinee. Foto: Gallo
Daar was 170 gaste op die staatsdinee. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die musiek is met sorg gekies om hul Amerikaanse gaste te vereer en het die liedjies Thinking Out Loud deur Ed Sheeran en Tonight uit West Side Story ingesluit.

Trump en koningin Elizabeth lei gaste na die staat
Trump en koningin Elizabeth lei gaste na die staatsdinee in Buckinghampaleis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op die ete in Buckinghampaleis is gestoomde vis met bronkorsmousse, aspersies en kerwelsous bedien. Die hoofgereg was Windsor-lamsvleis met ’n kruievulsel, lentegroente en ’n portsous.

Niemand sal weet wat Trump van die kos gedink het nie. Hy is glo vol fiemies wat kos betref en verkies burgers en goedgaar steaks met ’n skeut tamatiesous bo fynproewersgeregte.

Die nagereg, aarbeitert met suur­lemoen-verbenaroom, het waarskynlik meer in sy smaak geval, want hy het ’n suikertand.

Die koningin stel ’n heildronk in. Foto: Gallo Ima
Die koningin stel ’n heildronk in. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar was oorgenoeg drank. Tydens die ete is gaste op vyf alkoholiese drankies getrakteer – sjampanje, witwyn, rooiwyn, nageregwyn en port. Hoewel Trump ’n geheelonthouer is en Diet Coke verkies, het hy tog ’n glas sjampanje vir die koningin se heildronk gelig.

DIE VOORSTE VROUE

Die Trumps word deur prins Charles en Camilla, di
Die Trumps word deur prins Charles en Camilla, die hertogin van Cornwall, in hul Londense ampswoning, Clarence House, verwelkom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit kan nie maklik wees om die kollig te deel met Melania, ’n voormalige supermodel, nie, maar die hertogin van Cornwall het haar beste voetjie voor gesit.

Toe Camilla saam met haar man, prins Charles, en die koningin die Trumps by Buckinghampaleis welkom heet, het sy ’n roomwit rok, pasgemaak deur die Britse ontwerper Fiona Clare, gedra.

Die presidentsvrou het ook wit gedra en verruklik gelyk in ’n pasgemaakte rok deur Dolce & Gabbana en ’n stylvolle hoed deur Hervé Pierre.

Die ontmoeting vroeër die dag. Foto: Gallo Images/
Die ontmoeting vroeër die dag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Melania se skoonheidsgeheime het onlangs uitgelek. Sy lyk op amper 50 so fantasties omdat sy glo ’n grimeerroetine van 75 minute het, hoofsaaklik vrugte eet (sewe porsies per dag) en met enkelgewigte in die Withuis rondloop.

Sy het dalk vir die 71-jarige Camilla in die stylafdeling op haar neus laat kyk, maar die hertogin het laaste gelag met ’n snaakse gebaar wat vinnig op die internet versprei het. Toe sy en Charles later die dag die Trumps by hul Londense woning, Clarence House, onthaal, het sy omgedraai en vir haar lyfwag geknipoog.

Dit het talle laat wonder watter soort boodskap sy wou oordra.

STYLVOLLE DOGTERS

Alle oë was op Ivanka en Kate, die hertogin van Cambridge. Albei is bekend vir hul styl­volle uitrustings, en die wêreld was nuuskierig om te sien wat hulle na die swierige staatsdinee sou dra.

En as daar nou een geleentheid was waar ’n mens van Ivanka (37) sou verwag om haar behoorlik op te dollie, was dit dié een.

Ivanka (37) ’n eenvoudige pastelblou rok deur Caro
Ivanka (37) ’n eenvoudige pastelblou rok deur Carolina Herrera gedra. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tog het sy ’n eenvoudige pastelblou rok deur Carolina Herrera gedra.

Hoewel dit pragtig was, het sommige kommentators gewonder of dit nie ’n bietjie te ontspanne vir so ’n formele geleentheid was nie. Die etiketkenner William Hanson het gesê dis meer geskik vir ’n tuinpartytjie.

Kate (37) het soos ’n prinses gelyk in ’n wasige w
Kate (37) het soos ’n prinses gelyk in ’n wasige wit skepping deur Alexander McQueen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kate (37) was in die kol. Sy het soos ’n prinses gelyk in ’n wasige wit skepping deur Alexander McQueen, wat sy saam met die Lover’s Knot-kroon gedra het – ’n tiara waarvoor prinses Diana lief was.

AL DIE PRESIDENT SE KINDERS

Pres. Donald Trump salueer die Koninklike Lugmag-e
Donald jr., Lara en Eric Trump, Ivanka en haar man, Jared Kushner, en hul jonger suster, Tiffany, met hul aankoms by Buckinghampaleis vir die staatsdinee. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoewel dit duidelik is hoekom Ivanka en haar man, Jared, deel van die toer was – albei is raadgewers vir Trump – het die president se besluit om sy drie ander kinders met hul maats saam te bring, die oë laat rek.

Trump het in ’n onderhoud voor die reis gesê hy wil hê Ivanka, Donald jr., Eric en Tiffany moet ’n ver­gadering hou met prins William, sy vrou, Kate, en prins Harry. Hy noem dit ’n “volgende-geslag-vergadering”.

Donald jr. (41) en Eric (35) werk nog by die familieonderneming, Trump International, en Tiffany (25) is pas klaar met haar tweede­jaar-­regstudie aan die Georgetown-univer­siteit.

Sy is in ’n verhouding met die miljardêr Michael Boulos (26). Dit was die eerste keer dat die drie hul pa tydens sy presidentskap op ’n internasionale reis vergesel het.

ONGEMAKLIKE OOMBLIKKE

Harry moes ook die president en sy gevolg op ’n to
Harry moes ook die president en sy gevolg op ’n toer van die koningin se kunsversameling in Buckinghampaleis – onder leiding van sy oom, prins Andrew – vergesel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoewel al die werkende koninklikes by die dinee was, het prins Harry en Meghan in hul afwesigheid geskitter.

Die paartjie het oënskynlik tuisgebly om na hul pasgebore seun, Archie, om te sien, maar kommentators vermoed die ware rede is dat hulle nie vir ’n ete saam met Trump kans gesien het nie.

Voor die Amerikaans gebore Meghan in die koninklike familie ingetrou het, was sy uit­gesproke oor haar afkeer in hom. En net voor hy sy vliegtuig Engeland toe gehaal het, het Trump teruggekap deur haar “nasty” te noem.

Hoewel Meghan toegelaat is om ’n ongemaklike ontmoeting met Trump te vermy, was Harry verplig om minstens gesig te wys by ’n ete wat tydens sy verblyf gehou is.

Hy moes ook die president en sy gevolg op ’n toer van die koningin se kunsversameling in Buckinghampaleis – onder leiding van sy oom, prins Andrew – vergesel.

Kommentators het opgemerk dat hy nie gelukkig gelyk het om daar te wees nie. Hoewel hy die vertrek saam met Ivanka binnegestap het, het hy afgedwaal om met iemand te praat en toe aan die agterkant van die vertrek uitgehang voor hy uitgeglip het.

DIE HERDENKING VAN D-DAG

Trump op ’n geleentheid waartydens D-Dag herdenk i
Trump op ’n geleentheid waartydens D-Dag herdenk is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Trump en die koningin het gelyk of hulle lekker gesels waar hulle by ander wêreldleiers, insluitend Angela Merkel van Duitsland, Emmanuel Macron van Frankryk en Justin Trudeau van Kanada, in die Engelse stad Portsmouth aangesluit het vir die 75ste herdenking van D-Dag.

 Hy deel ’n grappie met die koningin terwyl hulle
Hy deel ’n grappie met die koningin terwyl hulle ’n lugmag-­vertoning dophou. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Trump het met die aanvang van die seremonie ’n uittreksel gelees van die gebed wat die Amerikaanse pres. Franklin D. Roosevelt voor die inval van Normandië in 1944 oor die radio gedoen het.

Maar terwyl die wêreld die dapper soldate vereer het wat hul lewe tydens die Tweede Wêreldoorlog opgeoffer het, het Trump byna ’n bespotting geword toe hy in ’n onderhoud gedwing is om te erken hy het tydens die Viëtnamoorlog diensplig ontduik.

Die rede vir sy ontduiking?

Hy het beweer hy het benerige groeisels in sy hakke wat dit moeilik maak om te loop; ’n probleem wat hy sedertdien reggestel het.

Trump het verduidelik hy was streng gekant teen die oorlog in Viëtnam, en volgehou destyds het niemand “nog ooit” van die land gehoor nie.

“Ek dink ek maak nou op daarvoor,” het hy laat hoor.

PROTESOPTOGTE

Nes met sy vorige staatsbesoek het sy teenwoordigheid in Engeland tot betogings gelei; duisende mense het die strate van Londen ingevaar.

Maar dit het nie gelyk of dit die president pla toe hy ’n ompad na Downing Street moes neem om die skare te vermy nie.

Hy het tydens sy ontmoeting met die Britse premier, Theresa May, vrolik geskerts. ’n Lipleser het later onthul wat hy gesê het wat Theresa so histeries laat lag het – hy het glo laat val die betogings is klein en nie so groot soos verlede jaar nie.

Hy het later getwiet die skare “was dié wat byeengekom het ter steun van my en Amerika”.

TOT SIENS

Dit het gelyk of Trump ’n huppel in sy stap het toe hy regmaak om sy vlug uit Engeland na ­Ierland toe te haal. “Dit was ’n groot eer om saam met jou te wees,” was sy afskeidswoorde aan die koningin, waarop sy geantwoord het:

Trump sê

Die president het tydens ’n onderhoud met sy ou pel Piers Morgan sy mening oor die koninklike familie en ander kwessies gelug. Dit is wat hy oor hulle te sê gehad het:

Die koningin ‘Sy’s ’n wonderlike dame’

Prins Charles ‘Hy stel baie belang in klimaatsverandering en dis goed. Ek wil dit so hê. Ek hou daarvan.’ Dit ten spyte van die feit dat Trump self bekend is vir sy ontkenning van klimaatsverandering

Meghan ‘Sy was vieslik met my. En dis oukei vir haar om vieslik te wees; dis nie goed vir my om vieslik met haar te wees nie, en ek was nie’

Prins Harry ‘Ek dink hy is ’n wonderlike ou. Hy kon nie gawer gewees het nie’

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, VANITYFAIR.COM, CNN.COM, WASHINGTONPOST.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.