As kind was sy pal op die “verhoog”. As dit nie tussen die wingerde op haar ma se grootwordplaas in die Hexriviervallei was nie, was dit in die tuin van Leeuwenhof, vandag die Kaapse premierswoning, wat sy danksy haar pa se werk leer ken het.

Elsabé Daneel (63) is van kindsbeen af op haar gelukkigste wanneer sy kon toneelspeel – deur die een of ander storie na ’n fantasiewêreld weggevoer. “Daar is foto’s van my en my broer, Jannie, toe ons klein was.

Hy het my pa se baadjie en skutpet aan, en ek my ma se sonbril. Hy staan waardig langs my en ek ewe met die handjie hier langs my gesig,” sê die aktrise en lag.

“Ek hou al konsert vandat ek twee treë kon gee.” En nou, byna 60 jaar later, is daar steeds geen keer aan haar nie. Elsabé is te sien in kykNET se nuwe gesinsdrama, Alles Malan, wat pas begin het.

“Dit was een van die lekkerste projekte waaraan ek al gewerk het,” sê sy.

“Daar was van die eerste oomblik af ’n ongelooflike kameraderie onder die akteurs, en die regisseurs het ons die vryheid gegee om die karakters te ontgin.”

Boonop het sy die geleentheid om vir die soveelste keer teenoor haar vriend die akteur Albert Maritz te speel. Hulle ken mekaar al van skooldae af.

Die aktrise in haar kombuis. Sy kan goed kook, maar is soms so aan die gang, sy vergeet om te eet. Foto: Luba Lesolle

“Ons het mekaar ontmoet toe ons ’n radioteaterstuk opgeneem het. Ek was 15 en hy 13, en hy het sulke groot blou oë gehad en wou by my weet wat hy moet doen.” Die stylvolle blonde vrou met die helderblou oë raak opgewonde toe sy oor Brenda, haar karakter in Alles Malan, gesels.

Juis omdat daar soveel ooreenkomste tussen hulle is, vertel sy.

“Brenda is ’n sterk vrou. Sy is sensitief, maar ook strategies. Sy weet hoe om met haar man en elkeen van haar kinders te praat. ’n Wilger. Nie ’n akkerboom nie. Ek het my as kind op die plaas altyd so aan die wilgers verkyk. Hulle beweeg saam met die wind, en jy kan hulle buig en vleg.”

Haar ma, Roeline Grobbelaar, het op die plaas De Vlei buite De Doorns grootgeword. Net soos Brenda die vermoë het om aanpasbaar te wees en by die kronkels en draaie van die lewe aan te pas, kan Elsabé dit ook doen.

Sy is byna vyf jaar gelede van haar man, John Daneel, ’n sakeman in die diamantbedryf, geskei, maar dit het haar allermins ondergekry.

“Ek moes van rat verwissel,” sê sy. “Dit was nog altyd vir my belangrik om getrou aan myself te wees en vorentoe te streef. Verandering is deel van die lewe, en jy moet aanpasbaar wees, maar as jy in die aand in die bed klim, moet jy steeds onbevange jouself wees.”

Haar dubbelverdiepinghuis buite Stellenbosch, waar die helder son op dié winterdag instroom, is vol herinnerings met items wat op verhoë gebruik is en memorabilia wat sy op haar reise versamel het. Hier tel sy haar seëninge, sê Elsabé.

Ons het haar in die 1980’s leer ken as die aanbieder van joernaalprogramme soos Uit en Tuis, Potpourri en Kaap om 6. Sy was deur die jare ook in TV-reekse soos Sonkring 2, Torings, Vloeksteen en Die Byl te sien, maar sy word veral vir haar rol in die sepie 7de Laan onthou, waar sy Linda Jordaan gespeel het.

Familiefoto’s en memorabilia is oral in Elsabé se huis te sien. Foto: Luba Lesolle

Haar dramaloopbaan het op nege aan die Laerskool Jan van Riebeeck in die Kaapse stadskom begin toe sy die gedig Poppie Se Rokkie op die eisteddfod voorgedra het.

Die drama-afrigter Babs Laker was ’n beoordelaar en het haar ma gevra om haar vir dramalesse te bring. “Ek moes tussen dramalesse en Voortrekkers kies, want daar was nie geld om albei te doen nie. Oe, ek onthou die Voortrekkermeisies se hoede was so mooi. Maar toe al was ek strategies. Ek het geweet ek sou net tot st. 5 Voortrekkers kon doen en drama het tot st. 9 gegaan.”

Elsabé sê sy vermoed sy kry haar dramatalent van haar ma se kant van die familie, want ook haar vyf tannies was baie dramaties.

“Hulle was almal drama queens. Die hele lot. Hulle kon almal vreeslik stories vertel en hulself inleef. My een tannie, Elaine, het altyd drieuur in die middag voor Springbokradio gaan sit. En dan het niemand gepraat nie.”

By haar ouerhuis het sy smiddae saam met maats in Leeuwenhof se tuin baljaar. Sy het toegang gehad omdat haar pa, Jan Grobbelaar, jare lank die privaat sekretaris van die administrateurs van die voormalige Kaapprovinsie was; hul woonstel was ’n klipgooi van Leeuwenhof, toe die administrateurs se ampswoning.

“Daardie tuin was my paradys. Ons het dinge opgevoer. Leeuwenhof was ons herehuis, en dan het ons skepe in die hawe gehad met seerowers wat aankom.”

Daneel se drie kinders
Elsabé se drie kinders, van links, Xander, Roe­line en Pieter. Foto: Faceboo/@Roeline Daneel

Ná skool wou haar ouers nie hê sy moet drama studeer nie, en sy het onderwys gedoen. Tog het sy ’n plan beraam om haar passie te ontwikkel, en sy het dramateorie deel van haar studie gemaak. Sy het by die Universiteit Stellenbosch se amateurteatergeselskap aangesluit en in ’n klomp produksies gespeel.

“Ek het altyd ’n tweede plan gehad. En weet jy, dit is presies hoe Brenda ook is. Sy is vol planne. As A nie werk nie, gaan ons B toe.”

Dit was in haar studentejare op Stellenbosch dat sy vir John ontmoet het. Sy het in die Strand en Johannesburg skoolgehou, waar sy haar drie kinders, Roeline (34), Pieter (32) en Xander (28), gehad het.

Dit was hier waar John die familieonderneming begin het, en in die Goudstad het sy besluit om ’n loopbaan as vryskutaktrise aan te pak. Sy het eers oorklanking-, radio- en filmwerk gedoen; ná ’n ruk het haar televisieloopbaan vlam gevat.

In 1996 het die gesin van Johannesburg na Stellenbosch getrek. Hier het sy haar eie produksiemaatskappy gestig en kommunikasieslypskole aan die Universiteit Stellenbosch begin aanbied.

Sy beskryf haarself as iemand wat veerkragtig is – iets wat sy glo sy van haar ouers gekry het.

“Ek dink dit is omdat ek die dood al baie ervaar het. My ma en my pa en tannie Esmé (Jackson, haar ma se suster) – sy was soos nog ’n ma vir my. “Tyd was nog altyd vir my ’n belangrike pasaangeër. Daar is ’n tyd vir alles.

Roeline en Daneel
Sy en en haar aktrisedogter is baie geheg aan mekaar. Roeline is nou swanger met haar eersteling. Foto: Faceboo/@Roeline Daneel

“Alles hou nie noodwendig vir ewig nie, maar terwyl dit daar is, is dit reg en goed. Ek het drie pragtige kinders uit my huwelik gekry en ek het pragtige herinnerings.”

Maar vir nou gryp sy die geleenthede aan wat na haar kant toe kom en is sy opgewonde en dankbaar om elke dag wat sy gegun word met oorgawe aan te pak.

“As ek snags in my bed lê met my staffie, Nala, agter my rug, weet ek: Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval.”

Sy oefen nie, maar is altyd op ’n drafstap. “My vriende sê ek word nie moeg, kwaad of honger nie. Dit ís so. Ek slaap min en soms is ek so aan die gang, ek vergeet om te eet.” Daar is nie ’n nuwe liefde in haar lewe nie, maar dit pla haar min, sê Elsabé.

“As daar nou ’n ridder op ’n wit perd opdaag, sal ek nie omgee nie. Maar dit sal iemand moet wees wat dieselfde passies en vreugdes as ek deel.”

Intussen sien sy daarna uit om ouma te word. Haar aktrisedogter, Roeline, is swanger met haar eersteling, en groot opgewondenheid heers oor die nuwe toevoeging tot die familie.

“Ons is na aan mekaar en doen baie dinge saam. Ek sien daarna uit dat Roeline dieselfde vreugde uit die kleintjie kry as wat ek uit my kinders kry.”

  • Alles Malan is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).