Een oggend, weke nadat die hartseer einde van haar sprokiesromanse met boer Rèan haar deur “die diepste, aakligste waters’’ laat gaan het, het Rox-Zee Veldhuizen wakker geword en vir haar ouers gesê: “Ek is nie ’n boom nie; hoekom moet ek vir die res van my lewe in Hillcrest woon?”

Haar drome van ’n plaaslewe saam met boer Rèan was dalk aan skerwe, maar dit was tog nie nodig om tot stilstand te kom nie? 

Sy wil uit dié Durbanse voorstad Kaap toe trek, het sy vir haar ouers, Robbie en Rijkie, vertel. En hulle het ja gesê.

Nou sit die pragtige Engelse blondine wat Rèan Clasen se hart in die 11de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer Soek ’n Vrou gesteel het in ’n rooi hemp en blou jeans op ’n donkergrys bank in ’n luukse woonstel aan die voet van Tafelberg.

Sedert sy hul kortstondige verlowing oor die Paasnaweek verbreek het, het sy 14 kg verloor.

“Mense vra my gereeld hoe ek dit reggekry het om soveel gewig af te skud. Wel, raak verloof, breek jou hart en gaan deur daardie hartseer,” skerts sy, gemaak opgewek.

rox-zee veldhuizen,rèan clasen
Dit was soos ’n sprokies­verhaal toe boer Rèan Rox-Zee ­vroeër vanjaar vra om te trou. Maar die verlowing het ’n skamele twee weke ­gehou. Dié ­duifies was verlede jaar die gewildste paar­tjie in Boer Soek ’n Vrou; en ook die vryerigste. Foto: Verskaf

Die diamantverloofring wat net twee weke lank aan haar vinger geskitter het nadat Rèan (27) haar, ná ’n warrelwindromanse voor die kameras, die jawoord gevra het, is nou iewers in ’n kluis weggebêre. 

En die pynlike herinnerings aan dié boer vir wie sy so lief was, maar wie se familie glo teen hul verhouding gekant was, het sy eindelik agter haar gesit. 

Maar om tot hier te kom was nie ’n maklike pad nie ’n pad na genesing wat sy tree vir tree ná ’n ineenstorting met die steun en hulp van haar ouers, ’n sielkundige en ’n psigiater moes stap.

“Alles wat jy hier sien, het ek vir my en Rèan se huis op die plaas gekoop,” beduie Rox-Zee (28) met ’n wye handgebaar. 

“Mense sê ek was nie bereid om plaas toe te trek nie, maar dis nie waar nie. Ons het die tema van elke vertrek van die plaashuis beplan en ek het al hierdie meubels reeds gekoop.”

rox-zee veldhuizen,boer soek ’n vrou,kaapstad
Die stylvolle, warm sitkamer waar Rox-Zee ná ’n dag by die werk kan ontspan. Foto: Misha Jordaan

Maar nou staan die donkergrys L-vormige rusbank saam met die res van die meubels hier in ’n tweeslaap­kamerwoonstel in Kaapstad pleks van in ’n plaasopstal op Groblershoop in die Noord-Kaap, waar Rèan met druiwe en pekanneute boer.

Sy het twee weke tevore in die spoggerige woonstelkompleks ingetrek. 

Dis in die hartjie van die Moederstad tussen klein winkeltjies, bakkerye en ’n geskiedkundige ou rolprentteater in ’n omgewing waar jong mense en kunstenaars elke aand kuier. 

Rijkie, ’n binneversierder, het saamgekom om haar dogter se nuwe blyplek in ’n koloniale styl te help inrig.

Buite is dit ’n grou Kaapse winterdag en die oggend se reën lê in plasse langs die sypaadjies. 

“Alles wat jy hier sien, het ek vir my en Rèan se huis op die plaas gekoop,” beduie Rox-Zee met ’n wye handgebaar.

Tog is dit asof die son vir Rox-Zee ná ’n donker tyd in haar lewe weer begin deurbreek.

Sy is gereed om hier in die Kaap met ’n nuwe hoofstuk te begin en nuwe drome te droom. Ook oor die liefde. 

Sy het skaars in die Kaap aangeland toe dit begin gons dat Rox-Zee ’n nuwe liefde het; weer ’n boer, dié keer van Piketberg in die Wes-Kaap. 

Op die eerste foto wat sy van die aantreklike donkerkopman, JJ Stander, met haar meer as 34 000 aanhangers op Instagram gedeel het, sit sy op sy skoot. 

Dis buite haar woonstel tydens ’n daknatmaakpartytjie geneem. Daarna het sy nog ’n foto gedeel van ’n kis nartjies wat hy vir haar gebring het. 

rox-zee veldhuizen
Rox-Zee en haar ma, ’n binneversierder, het saam haar Kaapse woonstel ingerig. Haar kombuis is vol vars blomme, vrugte en natuurlike lig. Hier kuier sy gereeld om die kombuistafel saam met haar vriende. Foto: Misha Jordaan

Maar die tonge het behoorlik geklap toe sy ’n foto plaas waar sy hand om die lyf met die 24-jarige boer staan, albei in ’n wit hemp en blou jeans. 

Daarby het Rox-Zee geskryf dat hulle nie dié eenderse uitrustings beplan het nie, maar dat hulle wel beplan om die hele dag en nag saam deur te bring. 

Pols jy haar oor JJ, lag sy net. Nee, nee, hulle is net vriende, hou sy vol. 

“Ek is nie nou gereed vir enige verhouding nie; ons vat dit baie stadig,” verseker sy jou.

Maar hoe het haar pad met dié van boer JJ gekruis? Hy lyk darem baie soos boer Rèan?

“Ek is nie nou gereed vir enige verhouding nie; ons vat dit baie stadig,” verseker sy jou.

Eers wil sy niks verklap nie, maar later bieg sy: Sy het op die maatsoekapp Tinder ingeteken.

“JJ het my op Tinder raakgesien en herken en vir my op Instagram ’n boodskap gestuur. Ons het oor my perde begin gesels,” vertel Rox-Zee, ’n kranige ruiter. 

“ ’n Paar dae later het hy laat weet hy’s in die Kaap vir die dag.”

“Toe bring hy die hele dag saam met my, my ma en my vriendin in die winkels deur. Hy was so ordentlik en het ons pakkies gedra.”

“Ek en my ma het daarna Piketberg toe gery om sy ouers te ontmoet en my ma is mal oor sy ma.”

Sy het altyd van skoongeskeerde metromans gehou, vertel Rox-Zee, maar Rèan beskryf sy as ’n regte boer, terwyl JJ ’n kombinasie van boer en metroman is. 

“Hy gaan nie met sy plaasklere na ’n restaurant toe nie; hy trek vir hom baie netjies en mooi aan – ek hou daarvan,” sê sy en gee ’n amperse giggel. 

Wanneer sy oor JJ praat, glinster ’n nuwe hoop in haar groen oë. So asof die seer van die afgelope drie maande nooit gebeur het nie...

rox-zee veldhuizen,
Saam met ma Rij­kie, haar beste vriendin. Foto: Misha Jordaan

Sy het halsoorkop op Rèan verlief geraak. Met hul eerste ontmoeting voor Boer Soek ’n Vrou se kameras het hy kykers laat skater toe hy Rox-Zee in die oë kyk en sê: “Jy’s mooi, maar jy is Engels.” 

Sy het bloedrooi gebloos en die skoot was hoog deur. Ná haar blitsafspraak met hom het sy in die bussie vir die ander deelnemers gesê sy het pas haar trouman ontmoet.

“Ons het net gekliek. Ons is baie dieselfde,” sê Rox-Zee.

Hulle was die gewildste paartjie in verlede jaar se seisoen van dié kyk­NET-werklikheidsreeks. En ook die vryerigste. 

Daar was geen einde aan boer Rèan en Rox-Zee se soene nie – die twee was duidelik mal oor mekaar.

“En vandag blameer ons onsself as ouers omdat ons nie vroeër Rox se hartseer kon keer nie.”

Nadat die TV-kameras aan die einde van die seisoen ophou rol het, kon nie eens die afstand van 1 200 km tussen Hillcrest en Groblershoop die liefdesvlam blus nie; ook nie die lastigheid dat hulle mekaar net elke drie weke kon sien nie. 

Sedert Julie verlede jaar was hulle in ’n vaste verhouding en hulle het begin drome droom om vir altyd saam te wees.

Toe daag Rèan in Maart vanjaar by Rox-Zee se ouerhuis op om Robbie en Rijkie toestemming te vra om met hul enigste dogter te trou. Hulle het ook ’n seun, Robbie jr. (27).

“Toe Rox gebore is, het ek ’n polis gaan uitneem,” vertel Rijkie.

“Toe my man vra waarvoor dit is, sê ek dis vir Rox-Zee se troue eendag.”

“Ons was so opgewonde. Rèan het ons baie ernstig kom vra of hy met Rox kan trou en dat hy groot planne het vir hulle saam. Hy het vir ons gesê hulle gaan net so drie tot vyf jaar op die plaas bly, want hy wil nie vir altyd op Groblershoop woon nie. Hy het groter drome gehad,” onthou Rijkie en kyk na haar dogter wat stil op die bank oorkant haar sit.

“Ons het vir Rèan ons blessing en ons kosbaarste besitting gegee,” sê sy, haar stem nou gelaai. 

“En vandag blameer ons onsself as ouers omdat ons nie vroeër Rox se hartseer kon keer nie.”

rox-zee veldhuizen,kaapstad
’n Koskas vol kos. Rox-Zee het 14 kg verloor nadat die ver­lowing beëindig is. Foto: Misha Jordaan

Nadat hulle verloof geraak het, kon Rijkie nie wag om almal daarvan te vertel nie. 

“Maar toe sê Rèan ons moet dit stilhou, want sy ouers weet nie daarvan nie. My man sê toe vir Rèan dit werk nie so nie; hy moet dadelik sy ouers gaan bel. Hy het buitentoe gegaan, hulle gebel en die nuus met hulle gedeel.”

“Later kom hy toe snot en trane terug in die huis.” Sy ouers het glo vir hom gesê hy maak ’n fout; Rox-Zee is nie welkom op die plaas nie.

Dit was glo nie net die taalkwessie wat sy ouers gepla het nie; hulle het glo ook gevoel dat Rox-Zee nie op die plaas sou aanpas nie en dit duidelik aan die twee liefdesduifies gestel.

Sy wil nie meer oor Rèan praat nie, sê Rox-Zee skielik. 

“Ek het heeltemal in­gegee. Ek dink ek het ’n senu-ineen­storting gehad,” vertel sy.

“Kyk, ek is nie perfek nie, maar Rèan ook nie. Nadat ons verloof geraak het, het sy houding baie verander.” 

Sy vertel sy was bewus van Rèan en sy ouers se konflik oor hul verhouding en sê: “Ek wou weet wat aangaan. Want dan sou ek Groblershoop toe trek sonder enige vriende of ondersteuning van sy familie. En Rèan wou net almal gelukkig hou; dis die soort mens wat hy is.”

Sy het besef dis nie hoe sy haar verlowing – wat veronderstel was om een van die gelukkigste tye van haar lewe te wees – wil deurbring of haar lewe wil lei nie.

Ná twee weke het sy die verlowing verbreek.

“Voor my en Rèan se verlowing het ons baie oor trou gepraat. Ons het reeds alles beplan: ons huis, my pragtige trourok wat nou nog in Londen is, my trouskoene, die venue was bespreek, die fotograaf en die videograaf, die strooimeisies is gekies, en al die strooijonkers was deel van ’n WhatsApp-groep,” vertel sy, ooglopend steeds hartseer wanneer sy aan alles terugdink.

“Nadat ek die verlowing verbreek het, het ek in myself begin twyfel. Ek het ’n geweldige dip gevat. Ek was steeds baie lief vir Rèan; ’n mens kan nie net jou gevoelens aan- en afskakel nie. En ek het gewonder of ek nie dalk ’n fout gemaak het nie.”

rox-zee veldhuizen,boer soek ’n vrou,kaapstad
Haar grootste verslawing: jeans. Foto: Misha Jordaan

Maar toe begin haar vriende vir Rox-Zee foto’s stuur van Rèan waar hy liefies langs ’n donkerkopmeisie sit.

“My hart was stukkend...heeltemal stukkend.” Sy het siek geword en moes in ’n hospitaal opgeneem word. 

“Ek het heeltemal in­gegee. Ek dink ek het ’n senu-ineen­storting gehad,” vertel sy.

“As ’n ma...om jou kind so te sien, is verskriklik,’’ sê Rijkie. 

“Drie weke lank het ek net saam met haar in die bed gesit. Sy het heeldag geslaap of gehuil. Sy was heeltemal depressief; sy kon nie eet nie, kon nie slaap nie.” 

“Eenkeer het Rox so histeries gehuil dat ons met haar hospitaal toe moes jaag sodat dokters haar ’n inspuiting kon gee om haar te kalmeer. Ek het gedink my kind gaan beter word, maar sy het nie.”

“Ons hele familie moes om haar laer trek. Ek is nie kwaad vir Rèan nie, maar as hy ooit weer naby my kind kom...”

Dus het haar ouers besluit om haar in die motor te laai en deur die nag na Potchefstroom te ry, waar “die beste sielkundiges is”, sê Rijkie, wat in dié universiteitstad in Noordwes grootgeword het.

Rox-Zee moes ses weke lank daar bly en drie keer per week ’n sielkundige en ’n psigiater besoek.

Terwyl haar ma praat, raak Rox-Zee tranerig.

“Dit was regtig ’n ongelooflike donker plek om in te wees,” sê sy en staan op om ’n sneesdoekie te gaan haal.

“Sy was stukkend,” sê Rijkie terwyl haar dogter uit die vertrek is. 

“Ons hele familie moes om haar laer trek. Ek is nie kwaad vir Rèan nie, maar as hy ooit weer naby my kind kom...”

Dan kom Rox-Zee weer binnegestap, gaan sit op die bank en gooi haar bene oor mekaar.

“Ek het deur alles gewerk. Ek het deur die donkerste, aakligste waters gegaan en ek is aan die ander kant uit. En baie cool dinge het daaruit gespruit,” sê sy met ’n mooi, breë glimlag. 

rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad
Haar woonstel is stylvol in­gerig met or­namente, familiefoto’s en skilderye. Alles in Rox-Zee se nuwe blyplek is vir haar spesiaal. Foto: Misha Jordaan
rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad
Foto: Misha Jordaan
rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad
Foto: Misha Jordaan

Soos die groot trek Kaap toe. Dis nie dat sy ongelukkig in Durban was nie.

“Maar ek het nie eintlik ’n sosiale lewe daar gehad nie.”

“Wanneer ek nie my ma met die binneversiering gehelp het nie, was ek by my perde. Ek was saans al seweuur in die bed.”

Sy het besluit om Kaapstad toe te trek, want sy het lief geword vir die Moederstad toe sy sewe jaar gelede ses maande lank hier as vryskutfotograaf gewerk het. 

Sy het toe modelle afgeneem en gesien hoe hul besprekingsagente werk. 

“Ek wou dit nog altyd doen. Jy reël basies die modelle se lewe, hul fotosessies, verblyf en vlugte. Ek stuur toe my CV na al die agente in die Kaap.”

Sy het besluit om Kaapstad toe te trek, want sy het lief geword vir die Moederstad toe sy sewe jaar gelede ses maande lank hier as vryskutfotograaf gewerk het.

Binne ’n week het Rox-Zee ’n werk as ’n besprekingsagent by ’n bekende modelagentskap in die Kaap gekry asook verblyf.

“Dis ’n baie junior pos sodat ek eers kan touwys word. Ek is verskriklik opgewonde,” sê sy ’n dag voor sy op 1 Augustus daar sou inval.

Die verskuiwing Kaap toe was ’n bietjie vreesaanjaend, bieg sy, maar sy het baie vriende hier en hulle het haar gou laat tuis voel.

“Mense sê die Kaap is kliekerig, maar ek ervaar dit glad nie so nie. Die mense is so vriendelik hier en almal is trots op wat hulle doen. Die karwag is trots daarop om ’n karwag te wees; die straatveër is trots daarop om ’n straatveër te wees. Die wind is nie so erg nie; die weer is nie so erg nie. En al is daar vier seisoene in ’n dag, is dit steeds baie mooi hier.”

Rox-Zee, wat ook haar eie skoonheidsalon vanuit haar woonstel bedryf, sê sy beplan om voor en ná werk wimperverlengings en wenkbroubehandelings vir kliënte te bied.

rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad
’n Kas waarop Rox-Zee foto’s van haar familie saam met vars rooi tulpe uitstal. Foto: Misha Jordaan
rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad,perd
’n Foto van haar van en haar perd. Foto: Misha Jordaan
rox-zee veldhuizen,woonstel,kaapstad
’n Foto van haar hond. Foto: Misha Jordaan

“ ’n Wonderlike ding het ook nou die dag gebeur. Ek wou nog altyd vir ’n organisasie sonder winsoogmerk werk wat help om mensehandel te beveg,” vertel sy, en haar oë skitter. 

“Een van my kliënte vra my toe of ek nie die ambassadeur vir hul organisasie wil wees wat mans, vroue en kinders uit mensehandel red nie.” 

Vir Rox-Zee is dit ’n groot pluimpie, ook omdat die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam al ’n ambassadeur vir hulle was.

Ma Rijkie gaan nog ’n rukkie in Kaapstad aanbly om seker te maak Rox-Zee is in haar nuwe woonstel gevestig.

“Ek glo Rox moes deur hierdie moeilike tyd gaan, want die Here gaan haar vir iets groots gebruik. 

“Sy kan jong meisies wys jy is steeds pragtig al waardeer ’n man jou nie, en al is jy in die donkerste put, sal jy daar kan uitkom.”

Wat sou sy Rox-Zee wou leer voor sy haar in die Kaap agterlaat?

“Sy kan jong meisies wys jy is steeds pragtig al waardeer ’n man jou nie, en al is jy in die donkerste put, sal jy daar kan uitkom.”

“Nee, ek kan eerder by haar leer,” sê die ma trots. “Rox is ’n baie sterk vrou, nè, Koeks?” vra sy haar dogter.

Rox-Zee steek ’n string blonde hare agter haar oor in en knik. “Ek dink vroue is sterker as wat hulle dink,” sê sy dan en glimlag vir haar ma.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.