Hy staan amper 2 m hoog in sy sokkies, oftewel so ’n rapsie onder ses voet vyf in die ou taal. Maar dis nie sy lengte wat van hom so ’n reus op die televisieskerm maak nie.

Die afgelope 30 jaar al bring hy weekliks al die aksie, drama, hartseer en inspirasie agter die grootste nuusgebeure in ons leefkamers in.

Van Suid-Afrika se brandende townships in die 1980’s tot die massagrafte van die Bosniese burgeroorlog in die 1990’s was hy ’n betroubare en gerespekteerde gids tot die nuus.

Met deernis het hy ons die skokkende en roerende verhale vertel agter alles van dieremishandeling tot die lyding van kinders wat op orgaanskenkings wag. Deur dit alles was hy een van die gewildste gesigte van ons bekendste aktualiteitsprogram.

En vanjaar vier Derek Watts en Carte Blanche ’n allemintige mylpaal: Albei is 30 jaar op die kassie!

Dit was ’n loopbaan vol avonture en gevare, maar Derek sal die eerste een wees wat sal erken daar klop eintlik ’n sagte hart in daai groot lyf wat soos ’n rugbyvoorspeler s’n lyk.

Hy is ’n doodgewone gesinsman waar hy ons op die stoep van sy huis in Bryanston, Johannesburg, inwag.

“Dit is Diesel,” stel hy ons voor aan die miniatuur-yorkshireterriër wat hy in sy groot hande vashou.

Diesel lig net sy bolip en knor saggies. Ons kry die boodskap: Raak net aan my mens . . .

“Ons het nog ’n yorkie, Gucci, wat hier êrens in die huis is,” sê Derek en begelei ons na die agterstoep met sy uitsig op die groot grasgroen tuin vol bome en struike wat jou sommer vredig en tuis laat voel.

“Dit is Belinda wat die tuin so mooi in stand hou,” sê Derek oor sy vrou terwyl ons gemaklik raak op die rottangstoele.

Derek en sy vrou, Belinda. Foto: Twitter

Ons pak sommer dadelik die nuusbul by die horings: Dertig jaar voor die kamera vir dieselfde program . . .

Raak ’n mens nie moeg daarvan om so lank dieselfde werk te doen nie? Maar gentleman wat hy is, neem hy nie aanstoot met dié reguit aanslag nie en antwoord in dieselfde diep, rustige stem wat TV-kykers so goed ken: “Ek raak nooit verveeld met my werk nie. Juis danksy die verskeidenheid van die programme wat ons maak.

“Ons doen enigiets, van Parktown prawns (die grillerige Johannesburgse goggas) tot die Boipatong-slagting en staatskaping. Die naam Carte Blanche beteken immers ‘verskeidenheid’. Dit is onmoontlik om verveeld te raak.”

Om die waarheid te sê is drie dekades by dié program vir hom allesbehalwe ’n leeftyd. “Ek wil nog die volgende honderd jaar daar werk,” sê hy. En soos elke keer wanneer hy in die kamera kyk en die storie agter die storie onthul, twyfel jy nie ’n oomblik aan sy toewyding nie.

Dis moeilik om te glo dié energieke en avontuurlustige joernalis is al 69 jaar oud. Derek is in Johannesburg gebore, maar het in die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe) grootgeword.

Sy joernalistieke loopbaan het in 1974 begin, en hy het onder meer vir die Rhodesian Herald gewerk. Terug in Suid-Afrika het sportliefhebbers hom in die 1980’s as aanbieder van TopSport op M-Net leer ken.

Maar dit was as medeaanbieder van M-Net se Carte Blanche, aanvanklik saam met die ewe gewilde Ruda Landman, dat sy kragtoer van ’n nuusloopbaan begin het.

Derek saam met Ruda Landman tydens die heel eerste uitsending van Carte Blanche. Foto: Verskaf

Wanneer hy eers op sy rustige manier begin vertel van die humor, drama en benoude oomblikke van die afgelope 30 jaar, hang jy behoorlik aan sy lippe. Soos toe hulle die oerwoud van Kameroen in Wes-Afrika binnegevaar het op soek na iemand wat ape jag vir hul vleis.

“Ons is met ’n skedonk van ’n taxi die oerwoud in. Ons het ’n jagter opgespoor en hy het ons die kas gewys waarin hy primate se vleis rook. Dit was eintlik skokkend,” vertel Derek.

“Later het dit donker geword, en ons kon nie terugry nie, want die taxi was sonder ligte. Ons moes die nag in die woud deurbring sonder kos of slaapplek.”

Toe bied die jagter aan om vir hulle kos te maak. En dadelik sit Derek voor ’n reusedilemma. Hy is ’n ontsaglike groot diereliefhebber – maar hy was ook rasend honger.

“Ons het die jagter laat belowe hy sal nie vir ons aapvleis gee nie. Tot vandag toe weet ons nie wat ons geëet het nie.”

Een van die gevaarlikste plekke wat hy vir Carte Blanche besoek het, was die Bosniese stad Mostar in 1995, waar ’n etniese oorlog toe gewoed het.

Hulle het deur die stad se sogenaamde sniper’s alley gery, waar burgerlikes gereeld deur skerpskutters afgemaai is. Derek se nekhare het gerys, maar hy is genadiglik veilig daardeur.

In Suid-Afrika was daar ook gevaarlike tye. Tydens die townshipoproer van die 1980’s is die Carte Blanche-span met ’n gepantserde voertuig Soweto binne.

“Ons het in ’n skietgeveg tussen inwoners en die polisie beland,” vertel hy.

“’n Polisieman is reg langs my voertuigdeur raak geskiet. Ek het die deur oopgemaak en hom ingetrek. Toe jaag ons hospitaal toe. Daar was baie bloed; ek het gedink hy gaan in my arms doodbloei.”

Die polisieman het oorleef. Maar dit was in die Drakensberge dat hy gedink het sy laaste oomblikke breek aan. Teen ’n krans het Derek en die professionele bergklimmer Sean Wisedale, wat die sewe hoogste pieke in die wêreld baasgeraak het, probleme ondervind.

“Ek was besig om my greep te verloor. Ek het vir Sean gesê ek dink nie ek gaan dit maak nie. Toe sien ek hy het ook probleme waar hy aan ’n smal rotslysie vasklou. Hy sê toe hy gaan dit ook nie maak nie. Maar wonder bo wonder hét ons.”

Sommige van sy Carte Blanche-kollegas het deur die jare die hoogste prys betaal. Die vervaardiger Rick Lomba is in 1994 tydens verfilming in Angola deur ’n tier doodgemaak.

Die Carte Blanche-span sny saam die program se 30ste-verjaardagkoek. Van links is Bongani Bingwa, Claire Mawisa, Derek, Ruda en Devi Sankaree Govender. Foto: M-Net

En die kameraman Dudley Saunders is in 2013 dood toe ’n trein hom raak gery het terwyl hy in Soweto verfilm het.

“Ek dink gereeld aan hulle en mis hulle,” sê Derek.

Daar was darem snaakse oomblikke ook, sê hy en glimlag.

“Ek en Ruda het op die stel gewag. Ek het vir haar en die produksiespan snaakse gesigte getrek. Ruda het kort-kort aan my gestamp en gesê ek moet ophou, maar ek het net meer gesigte getrek. Toe besef ek eensklaps ons is reeds op die lug.”

So groot soos wat hy is, so klein kan sy hartjie soms wees. Hy raak maklik emosioneel oor kinder- of dieremishandeling. “Ek kan dit nie verduur nie,” bieg hy.

“Soos die storie oor klein Micaela Hunter wat uit ’n hospitaal gesteel is. Dit was baie traumaties, maar my hart het gejubel toe sy twee jaar later gevind is.”

Hy lyk vreesloos wanneer hy mense konfronteer. Is hy al ooit bygekom? Nee, dis gewoonlik die kameraman wat deurloop, antwoord hy.

“Die meeste onderonsies is wanneer iemand die kamera wil wegstamp.”

Derek moes al baie hoede in sy loopbaan dra, en soms die toerusting ook. Foto: Twitter

Die ding waarvoor hy regtig bang is? “Klein spinnekoppies en groot hokvegters.”

Die lang tye weg van die huis af het beslis druk op sy kinders geplaas, sê Derek. “Maar hulle het dit altyd verstaan, en ek het speelgoed saamgebring.” Vandag het hul dogter, Kirsty (25), ’n graad in ekonomie, en hul seun, Tyrone (27), doen digitale bemarking.

“Vir hulle is Derek Watts net hul pa,” sê Derek.

Die alombekende aanbieder gee nie om as mense hom op straat voorkeer nie.

“Ek hou daarvan om met mense te gesels.”

Vir ontspanning slaan hy graag tuis gholfballe op sy sintetiese setperk. En dié Sharks-ondersteuner kyk graag sport. Wat weet mense ná al hierdie jare nog nie van dié TV-persoonlikheid nie?

“Ek staan elke oggend ’n paar minute lank op my kop. Dit laat die bloed na my brein toe vloei.”