Hy het soos ’n kluisenaar gelewe – hom dae lank in sy huis toegesluit en net uitgegaan wanneer hy regtig moes. 

Hy was nie lus vir mense nie, moes sy bekommerde vriende en familie hoor – om van ’n vrou in sy lewe nie eens te praat nie.

Maar nou, skaars ’n jaar later, sing Dozi ’n ander deuntjie en kan die sanger met die hees rasperstem nie ophou met glimlag nie. 

Weg is die kluisenaarsbestaan, en aan sy sy is ’n blonde skoonheid wat hy al ses maande lank sy vrou noem.

“Ek was nog nooit só gelukkig nie,” sê hy beslis. 

Hy het soos ’n kluisenaar gelewe – hom dae lank in sy huis toegesluit en net uitgegaan wanneer hy regtig moes.

Dit lyk of die wittebroodfase nooit vir hom en die 28-jarige Kim gaan ophou nie. 

Terwyl ons foto’s neem, kruip sy gereeld onder Dozi (55) oftewel Henk Opperman soos hy eintlik heet se arm in vir beskerming teen die winterkoue. 

“Hy is net Henk vir my,” sê sy met ’n glimlag oor die man wat sy ’n jaar gelede ontmoet het. 

Hul troue in Desember verlede jaar was ’n swierige geleentheid by die Pretoria-buiteklub saam met 160 van hul naaste vriende en familie. 

Maar hier by hul huis op Hartbeespoort is enige glans vergete. 

dozi,sanger,kim,huwelik
Kim pas perfek in die waai van Dozi se arm. Hy sê sy is lief vir hom wat Henk is, nie vir Dozi die glanspersoonlikheid nie. Foto: ER Lombard

Hier is hulle net Kim en Henk wat saam met hul vier honde en twee katte in ’n gemaklike huis woon waar die kaggelvuur heeldag lank knetter. 

En al klap die skindertonge op sosiale media oor die ouderdomsverskil tussen die twee, sal niks dié liefde stuit nie. “Ons is happy. Eintlik meer as happy!” sê Kim. 

Die egpaar doen alles saam. “Wanneer sy dorp toe gaan, gaan ek saam. As ek ’n show het, gaan sy saam. Sy is my beste pel, en ons geniet dit om tyd saam deur te bring. Hoekom sal ek iets sonder haar wil doen?” sê Dozi, terwyl hy ’n sigaret opsteek en die pakkie na Kim uithou. 

Mense raak soms lelike goed aanlyn kwyt – oor hoeveel ouer hy as sy is of oor hoe dit sy derde huwelik is. 

Maar dit pla Dozi meer as vir haar, sê Kim stil en selfversekerd. 

dozi
Dozi en Kim saam met hul Jack Russell, Zoltan, op hul kleinhoewe naby Hartbeespoort, waar hulle ook ’n kuier-­en-eetplek, Back to the Roots, bedryf. Foto: ER Lombard

“Ek steur my nie daaraan nie. Met ons wittebrood in Thailand het ons ’n foto van ons twee op Facebook gedeel, en ’n vrou het gecomment: ‘Kom ons hoop dié een hou.’ ” Dit het hom só ontstel,” sê sy en skud haar kop.

“Hierdie is nie ’n 50%-ding nie,” sê Dozi. “Ons is alles in. Kim organise. Sy vat nie nonsens nie, en sy sê vir my wanneer ek verkeerd is, maar sy laat my ook begaan...”

“En hy laat my relax,” voeg Kim by. “Ons vul mekaar aan. Ons is teenoorgesteldes; tog dieselfde,” vertel hy. 

Later tel hy sy kitaar op en tokkel ’n paar note terwyl Kim op haar selfoon gesels om reëlings te tref vir ’n opkomende vertoning by Back to the Roots, die kuier­en-eetplek op hul kleinhoewe waar bekendes op Sondae saam met Dozi optree. 

Die paar deel ’n liefde vir musiek - “sy ken die lirieke vir byna énige liedjie”- en gehaltetyd saam is vir albei belangrik. 

“Ek steur my nie daaraan nie. Met ons wittebrood in Thailand het ons ’n foto van ons twee op Facebook gedeel, en ’n vrou het gecomment: ‘Kom ons hoop dié een hou.’ ” Dit het hom só ontstel,” sê sy en skud haar kop.

Maar Kim is baie meer georganiseerd as hy, erken Dozi. En dít werk nie net goed vir hul verhouding nie; dit werk ook op die sakefront. 

Sy was voorheen ’n suksesvolle eiendomsagent in Pretoria, maar behartig nou al die bemarking en besprekings van sy vertonings en bestuur die finansies. 

Sy bestuur ook besprekings vir die Blues Bar, ’n intiemer kroegarea wat verlede maand oopgemaak het, ook op die kleinhoewe waar hulle woon. 

“Sy geniet dit en is vrek goed daarmee. Ons het vanjaar ’n paar mense gefire, want ons het agtergekom geld raak weg,” sê die lenige sanger. 

“Vir my gaan dit net oor die musiek, maar sy is die een vir syfers. Binne ses maande kan ek sien hoe die finansiële kant van dinge beter lyk.” 

dozi opperman
Dié twee op hul wittebrood in Thailand. Foto: Instagram/@doziopperman

Kim lyk aanvanklik stil, maar ’n mens kom gou agter sy is nie bang om haar sê met selfvertroue te sê nie.

“Van die enigste fights wat ons het, is omdat hy te lank by vertonings speel. Hy moet ’n uur en ’n half speel en ek weet hy speel altyd langer, so ek los hom tot so op ongeveer twee uur.” 

“Maar wraggies, ek kan hom nie drie uur lank laat speel nie; die mense betaal mos net vir ’n uur en ’n half,” laat sy met ’n glimlag hoor. 

Mense misbruik Dozi se goeie hart soms vir hul eie gewin, en sy jong vrou weier om dit toe te laat. 

“Mense wil nie betaal om by Back to the Roots in te kom nie, want hulle sê hulle was saam met hom op skool. Ek kan dit mos nie toelaat nie. Die sanger wat saam met hom optree, word ook per kop betaal. Selfs my familie moet iets betaal wanneer hulle kom.”

dozi opperman,musikant,musiek,kim,huwelik
Party mense op sosiale media het lelike aanmerkings oor die wittebrood foto’s gemaak. Kim vertel dit het Dozi baie meer ontstel as vir haar. Foto: Instagram/@doziopperman

Haar betrokkenheid pas Dozi uitstekend: Hy vertel hy kan vir die eerste keer in jare nét op sy musiek fokus en het die afgelope ses maande sommer twee nuwe liedjies geskryf gekry. 

Tog beplan die sanger van treffers soos Ou Ryperd en Grassade nie om binnekort ’n nuwe album uit te reik nie. 

Maar sáám het die Oppermans groot planne. “Ons dink daaraan om ’n eiendomsagentskap hier in Harties oop te maak, maar ek is tans so besig ek sal eers moet wag en kyk of dinge rustiger raak en of ek daarvoor gaan tyd hê,” vertel Kim. 

Hulle wil ook die Blues Bar vestig, en hul huis herbou. Hulle droom hardop saam van die tweede verdieping wat hulle wil bysit, en hoe die nuwe huis meer oopplan en nóg geselliger gaan wees.

Daar moet ruimte wees vir kinders ook. “Ek is nou gereed vir tjokkers wat hier om my rondhol,” sê Dozi en beduie na die groot grasperk om die huis. 

“Van die enigste fights wat ons het, is omdat hy te lank by vertonings speel. Hy moet ’n uur en ’n half speel en ek weet hy speel altyd langer, so ek los hom tot so op ongeveer twee uur.”

Kim wat al voorheen gesê het sy hoop hulle kan twee kinders hê glimlag net stilweg.

Dozi het een seun uit sy eerste huwelik. Storm (22) kuier juis vir die naweek uit die Kaap en ’n gemaklike atmosfeer heers tussen die drie. 

Storm lyk baie soos ’n jonger weergawe van sy pa, toe dié nog sy hare langer gedra het. 

Hy maak ook musiek vir ’n lewe en speel by kroeë en troues, nes Dozi destyds aan die begin van sy loopbaan. 

Maar hy wil nie ’n onderhoud saam met sy pa doen of vandag foto’s neem nie, sê Storm, want hy wil sy eie naam in die musiekwêreld maak, en nie op sy pa se roem staatmaak nie. 

dozi
Kim sê sy voel sy moet Dozi beskerm teen mense wat sy goedhartigheid vir eie gewin wil misbruik. Foto: ER Lombard

“Ek het hom maar min gesien toe hy klein was, want ek was besig om die land vol te toer,” sê Dozi. 

“Hy het homself geleer kitaar speel. Dis nou so lekker om saam te kan sit en musiek maak en hom ’n paar goed te wys. Ek is trots op hom. Dis vir my mooi dat hy sy eie way ook wil vat.” 

Hy weet Kim het hom lief omdat hy Henk is, en nie vanweë sy bekendheid nie – juis omdat sy so van die kollig af wegdeins, sê Dozi en loer teer na sy vrou. 

“Verlede Sondag was daar mense wat wou foto’s neem by Back to the Roots, en Kim sê toe: ‘Nee wat, ek is besig, neem julle.’ Dis vir my lekker en goed so, want sy verstaan ook ek het ’n werk om te doen, en sy is glad nie jaloers nie.”

Nee wat, sy is dolgelukkig op die agtergrond, sê Kim en lag. 

dozi
Dozi sê sy hart wil bars so gelukkig is hy saam met Kim. Foto: ER Lombard

“Die vroue by die Pick n Pay se tills noem my missus Dozi!”

Maar nadat haar hare en grimering vir die fotosessie gedoen is, lyk sy soos ’n ster in eie reg. 

“Hemel, my liefie, jy lyk lekker,” koer Dozi met ’n stoute glimlag. Missus Dozi kyk hom diep in die oë en glimlag terug. 

Die twee gaan later vanjaar in Viëtnam toer – hulle het dié vakansie as trougeskenk ontvang. 

“Ons sien daarna uit om saam te reis,” sê Kim. 

“My lewe in Pretoria was altyd so gejaag. Ek sou my nooit kon indink dat ek op ’n plaas sal woon nie, maar ek is so rustig en content.” 

Dan soen Dozi haar hand en laat hoor in sy rasperstem: “Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar môre, oormôre én die dag daarna moet dieselfde wees, want my hart wil bars so gelukkig is ek.” 

Stilering: Loandi Boersma; hare en grimering: Enrique Fourie; kim – blou broek met patroon, David Hutt