Snags word hy wakker van woorde wat in sy binneste woel. Dan pen hy dit dadelik neer in ’n Afrikaanse gedig om later op maat van ’n rapritme in te ryg. Daarmee wil Churchil Naudé nie net vermaak nie; hy wil mense wakker skud oor maatskaplike kwessies soos huishoudelike geweld.

Dié rapper van die Kaapse Vlakte kan Afrikaanse musieklegendes soos Koos Kombuis onder sy aanhangers tel: “My gunsteling-rapper is ’n kalant van Mitchells Plain. Hierdie ou kan nog groot gaan in ons taal se musiek; groter as Jack Parow, so groot soos Tafelberg,” het Koos voorspel nog voor Churchil se debuut-CD, Kroeskop Vol Geraas, in 2015 uitgereik is.

Die sanger-skrywer Koos Kombuis is ’n groot aanhanger van hom. Foto: Facebook/Meneernaude

Churchil – ja, met een “l” om hom van die eertydse Britse premier Winston Churchill te onderskei – is deel van die Wasgoedlynprojek waar ’n verskeidenheid kunstenaars hul eiesoortige musiek kom “ophang” – mense soos Anton Goosen, Riku Lätti en sy vrou, Jackie, Les Javan en Frazer Barry van Tribal Echo.

“Enige sanger en musikant kan iets daar kom ophang. ’n Kous sal nie verander word in ’n onderbroek nie,” gesels Churchil (46) by sy huis in Lentegeur, Mitchells Plain, oor dié anderste musikale wasgoedlyn. Die sangers het al saam albums opgeneem en tree ook saam op.

Oral in die buurt wapper vandag klere in allerhande kleure aan egte wasgoedlyne. Kinders speel in die straat met tolle wat hulle in die stof laat spin.

Hy is as skrynwerker in Parow-Oos opgelei.

Een van hulle is Churchil se kleindogter, Naeelah (6). Sy kleinseun, Dyan (3), kom groet soos sy oupa met die hand. Hier werskaf die bekende rapper ook as skrynwerker. Agter sy huis staan tafels vol hout waaraan hy saag en skaaf. ’n TV-kas met genoeg plek vir CD’s en boeke in die sitkamer, ’n houtwerkblad en ’n asbak kunstig uit ’n boomstomp gevorm, is alles sy handewerk.

Maar musiek is duidelik sy eerste liefde. Tussen die gesels deur trommel Churchil met sy vingers ritmes op die tafel uit of neurie deuntjies. “Ek verdwyn heeltyd in my kop,” erken hy. “By stywe meetings is ek ná vyf minute weg.”

Al ryg hy vandag sy kwinkslae moeiteloos in Afrikaans uit, het hy in sy hoërskooljare sy “raps in Engels geskryf”, vertel hy. “Ek het in daardie tyd toevallig op Adam Small se digbundel Klawerjas afgekom. Hy het ’n groot invloed op my werk gehad. En ook Breyten Breytenbach se bundel Die Hand Vol Vere.”

Dis juis na aanleiding daarvan dat hy sy eerste CD Kroeskop Vol Geraas genoem het. Daarop roer hy die kwessie van huishoudelike geweld in die snit Meisie aan. Dit klink aanvanklik soos ’n danstreffer, maar luister jy na die woorde, het dit ’n kragtige boodskap: Meisie, jy wil dit glo as hy sê I love you still / meisie, lyk my jy like dit om te hop as hy brul / meisie, hy sê hy’s lief vir jou dan sluk jy die pil / meisie, gooi weg die sleutel girl en kap toe die grill . . .

Die naam Churchil is geen verhoognaam nie, maar die naam wat sy ouers hom gegee het met dié dat sy ouboet Winston (49) heet. Sy pa, Wilfred Doans, is in 1994 op 45 aan tuberkulose dood, en sy ma, Doreen Naudé, twee jaar later op 47 aan borskanker.

Hy het ’n liedjie, Sê vir Mamma, vir haar geskryf en saam met David Kramer vir sy tweede album, Kroesifaaid, opgeneem. Dis verlede jaar uitgereik. Sy ma se tweede man, Richard Hulley (89), woon nog hier om die hoek “en kom pop gereeld in”.

Churchil saam met (van links) die musikante Riku Lätti, Bacchus Nel en David Kramer saam met wie hy al liedjies opgeneem het. Koos Kombuis

Elders gaan bly? “Nooit,” sê Churchil oor die omgewing waar hy die grootste deel van sy jeug deurgebring het. Hy is in Oos-Londen gebore, maar het op sewe saam met sy ma Mitchells Plain toe getrek. “Ek is nogal nostalgies oor my kinderjare. Ons het in die straat bal geskop en in ’n kokon geleef oor wat in die res van die wêreld aangaan,” vertel hy.

Aan die Hoërskool Portland in Mitchells Plain het hy in die laat 1980’s bewus geraak van politieke spanning in die land. Daar was gereeld helikopters en traangas by die skool wanneer dit gelyk het asof leerders met massavergaderings besig is.

“Dan dink ek: Watter ou mans sit daar in die kabinet en maak planne om f***** skoolkinders te gaan moer?”

Daardie jare het sy digkuns gevorm, maar hy fokus nie net op die donkerte nie. “Daar is mos ook altyd lig,” sê hy.

Hy en sy vrou, Warda, het saam grootgeword en was skoolliefdes. Hulle het ’n dogter, Sariena (25), wat by ’n inbelsentrum by Century City werk. “Ons is nie heeldag in mekaar se gesig nie,” sê hy oor hul huwelik wat al ’n kwarteeu lank hou.

“Mense dink mos Mr Right en Sneeuwitjie bestaan. Hulle glo aan die sprokie, en daarna sit hulle met skuld.”

Maar nie Churchil en sy bruid nie. Hulle het ’n Moslemtroue in die Kaap gehad by Warda se ouma Koelsoem Lewis. “Die familie het saam gekook; daar was nie eens ’n fotograaf nie,” onthou hy.

Warda bly uit die kollig. Sy kom net vinnig oor haar man se musiek gesels. “Dis uitstekend,” sê sy en verdwyn na die bure toe.

Sy vrou, Warda, is ’n groot aanhanger, maar bly ui
Sy vrou, Warda, is ’n groot aanhanger, maar bly uit die kollig. Foto: Corrie Hansen

TV-kykers was ewe beïndruk met haar man toe hy in 2015 in Vat die Rap, Coenie de Villiers se musiekprogram op kykNET, verskyn het. Daarin is ou Afrikaanse treffers in rap-meesterstukke omtower.

Churchil het bekend geword toe hy saam met Anton opgetree het en dié se Boy van die Suburbs “ ’n Boy van die Plain” geword het: Deur die straat getrain / deur die lewe ontnugter / deur die pyn geskyn / deur die liefde verraai.

Churchil werk nou aan ’n nuwe album wat nog moet naam kry in Riku se ateljee in die Strand. Hy en dié sanger en vervaardiger het mekaar 10 jaar gelede in Kaapstad ontmoet en later weer in “Joburg opge-hook”, waar Churchil toe agt maande lank as skrynwerker gewerk het.

Hulle het saam met geesgenote begin musiek maak en optree: Bacchus Nel, Chris Kreef en die rocker Piet Botha, wat onlangs oorlede is.

“Baie mense dink ons is teen die doef-doef-Afrikaanse musiek. Maar ons is net die ander kant van dieselfde muntstuk,” sê Churchil oor die Wasgoedlynprojek. “Dis soos ’n informele krieketspan. Piet het nog ’n paar weke gelede sy laaste game saam met ons gespeel,” vertel hy.

Churchil het van 1999 af drie jaar lank saam met John W. Fredericks, draaiboekskrywer van die rolprent Noem My Skollie, kursusse in die tronk vir die jeug aangebied – hy oor rap en John oor die kreatiewe skryfkuns.

Hy werk tans hard aan sy tweede CD. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hier in Lentegeur, waar Churchil en sy gesin in dieselfde huis woon waarin hy grootgeword het, hoor hulle gereeld skote klap wanneer bendegeweld losbars. Tog sê hy: “Daar is meer hier as gangsters and guns. Ek het ’n gedagte om ’n movie te skryf oor die comedy van die Kaapse Vlakte – ons tipe humor.

“Maar ek wil steeds praat oor issues en dit benader sonder wit gloves. Ek wil hê dat ons almal vir ’n slag ons vel uittrek en dan miskien begin heal. Miskien word ons dan Suid-Afrikaners; op die oomblik is ons wittes, swartes en bruines.

“Ek noem dit my ontk**kingsveldtog – om al ons baggage eens en vir altyd te laat bly lê.

“En los die gebreekte Engels. Praat met my Afrikaans as jy Afrikaans is,” sê die man wat in sy liedjie Praat Saam My sê: My taal is soes rooiwyn op ’n nuwe mat / ek sal ’it aanhou praat tot ieman’ my in my bek kom slat . . .