Met sy hande agter sy kop sit hy rustig op die boonste verdieping van sy huis in “suburbia” – die man wat “wonder of daar lewe op ander planete is” en homself as “ ’n afgetrede popster’’ beskryf. Ander beskryf hom as ’n lewende legende, so koel dat die sanger Snotkop selfs ’n liedjie met die naam “Cool soos Koos Kombuis” oor hom geskryf het.

Vra jy Koos Kombuis daaroor uit, lag hy net en vertel sy hond, Piet, het homself in die musiekvideo ingewurm toe sy baas vlugtig daarin verskyn het. Op 65 is hy ontspanne en sielsgelukkig, sê Koos, oftewel André le Roux, wat ook voorheen as die skrywer André Letoit bekend was.

“Ek is gelukkiger as ooit tevore. Behalwe nou vir die politiek . . . Ek is regtig happy. Ek is happy wanneer ek in die oggend opstaan. Ek is in ’n goeie bui,” vertel hy met sy dogter Marleen (17) se helderkleurige popkuns agter hom teen die muur van die ontspanningsvertrek hier in die gesin se huis op Somerset-Wes.

Koos bedryf tans ’n aanlyn kunsonderneming op Facebook en Instagram. Hy verkoop handgeskrewe lirieke en koerier dit na mense om te raam. Hy lyk goed en merkbaar slanker.

Koos Kombuis
Koos besig om lirieke met die hand te skryf vir sy aanlyn kunsonderneming. Hy koerier die handgeskrewe lirieke dan aan kopers om te raam. Foto: Misha Jordaan

“Ek eet minder brood en ry baie fiets; dis maar al,’’ sê hy voor hy flink van die rusbank opspring. “Wag, ek wil gou my kierie gaan haal. Vandat ek nie rook nie, het ek iets nodig om my hande besig te hou.”

Hy kom sit met ’n houtstok met Afrika-patrone daarop en begin gesels oor sy twee liedjies wat binnekort op die klankbaan van Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se nuwe fliek, Vergeet my nie, gehoor gaan word – die bekende “Lisa se klavier” en “Lalie”.

Hy onthou nog goed die dag in die 1980’s toe hy die liedjie “Lalie” geskryf het. Dit was in die Boekesentrum in Sunnyside, Pretoria.

“Ek was nog heel onbekend. Ek het in die shopping centre geloop en was moeg vir die kitsch en k** om my, en toe verlang ek na die Weskus.

“Ek het sommer die naam van die girl opgemaak. Dit was ’n manier om met die taal te speel. Dit gaan eintlik meer oor die verlange na eenvoudige Afrikaans.”

Die pianis Liza Joubert was die inspirasie vir “Lisa se klavier”.

Hy het haar die eerste keer gesien toe sy saam met Nataniël by ’n koffiekroeg verbygestap het waar hy gesit het. Later het hy Nataniël oor haar uitgevra.

Hulle het vriende geraak en gou besef dit stuur nie op ’n romanse af nie. Hy het baie aande by haar woonstel in Oranjezicht, Kaapstad, gaan inloer waar sy klassieke musiek op haar klavier gespeel het.

Vir ’n rocker soos hy was dit wêreldvreemd, maar dit het sy gemoed gesus. Deesdae woon Liza op Stellenbosch en André se seun, Simon (19), ’n Matiestudent, hou nes sy van klassieke musiek soos Tsjaikofski en Stravinsky.

Koos Kombuis
’n Selfportret waarmee hy in sy studeerkamer besig is. Foto: Misha Jordaan

Hy het al na ’n klavieruitvoering van haar gaan luister. En nou gaan “Lisa se klavier” opnuut opklink – as deel van ’n liefdesverhaal op die silwerdoek wat in die 1990’s afspeel.

Vra jy André uit oor sy en sy vrou, Kannetjie, se eie liefdesverhaal, sê hy: “Weet jy, ek sal nie oor my en Kannetjie skryf nie. Dis te persoonlik. Ek skryf oor ander mense se streke.”

Hy sê darem hy is bly hy het nie met ’n medekunstenaar getrou nie. “Ons sou mekaar destroy het. Twee mense wat temperamenteel is, vryf mekaar op.”

Dit is vir hom “baie lekker” dat sy liedjies op die klankbaan van die nuwe Huisgenoot-fliek is, sê André en vertel hy het met die tydskrif grootgeword. “Ons was nie so ryk nie. Ons het Huisgenoot by my ouma-hulle gekry wanneer hulle daarmee klaar was. Ek het veral van Piet King se grappies gehou en ek onthou ‘Fanie en Melanie.’”

Hy maak sy oë vir ’n oomblik toe en sê dan: “Huisgenoot het my lewe gered. Ek was in die vroeë 1980’s down en out op straat. Ek het in ’n hoerhuis in Langstraat gebly. Ek het na die verhaleredakteur, Bennie Frits, se kantoor gegaan. Ek het vertel ek het ’n storie. Hy vra toe: ‘Is dit goed?’ Ek sê ja . . . “Daardie tjekkies van R80 het my van ondergang gered.”

Tot vandag toe verskyn van sy kortverhale soms in Huisgenoot. Hy bly aan die skryf – alles van liedjies tot kinderverhale. Hy spring weer opgewonde op en gaan haal sy kinderboek Eben die ellendige eenhoring en sy jongste CD, Langpad na lekkersing, om vir ons te wys.

Daarop is ’n liedjie, “Ek wil net huis-toe gaan”, wat hy en David Kramer saamgeskryf het en saamsing. Byna 40 jaar nadat hy op die toneel verskyn het, is Koos Kombuis steeds ’n kleinood in die Afrikaanse kultuur.

In die beginjare het die wynkelders Tassenberg, en later Beyerskloof, sy wyn en toere deur die land geborg. Beyerskloof bly sy gunsteling, al is Tassenberg in die lirieke van sy liedjies verewig.

Nou staan bottels van wynplase soos Anura in sy kombuis. Maar saam met ’n glas wyn maak hy nie meer ’n dampie nie, want hy het 11 jaar gelede ophou rook.

“Dit was moeiliker om op te hou sigarette rook as dagga,” vertel hy. Daar was ’n moeilike tyd in sy vroeë jare toe aanhangers bekommerd was oor sy psigiese gesondheid. “Ek het nie depressie gehad nie; ek was plain psigoties, wat nog erger is,” vertel hy.

“Ek het dagga gerook om die psigose te beheer en die stress levels af te bring. Dit het in ’n mate gewerk. “Ek het besef die psigose kom van my kinderjare met die dysfunctional gesin waarin ek grootgeword het.”

André, Kannetjie en hul gesin woon al byna 20 jaar hier in ’n rustige straat op Somerset-Wes. Die egpaar is in 1998 getroud. Nes enige doodgewone pa kan André hom nie keer om breëbors met sy spruite te spog nie.

Oor Simon, wat pas sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, vertel hy: “Hy stel baie belang in sy vakke. IT, wiskunde-goed wat ek nie verstaan nie. Hy sal ons eendag seker kan onderhou.” Hy lag uit sy maag.

Koos Kombuis
Koos in aksie op die verhoog. Foto: Facebook/Koos Kombuis

“Ons deel wel ’n belangstelling in wetenskapsfiksie. Dis nie asof hy heeltemal ’n alien creature vir my is nie.”

Marleen het pas gr. 11 klaargemaak. Nes haar broer presteer sy goed en sy is baie lief vir kuns. André is net so trots op sy en die sangeres Sarah Theron se kind wat as baba aangeneem is, maar kort ná haar 18de verjaardag haar biologiese ouers opgespoor het. Huisgenoot het in 2010 daaroor berig.

Maryke Low (30) is ’n joernalis. Al woon sy in Port Elizabeth, het André gereeld met haar kontak.

“Ek is geseënd met my kinders. Ek weet nie waar hulle vandaan kom nie. Uit die hemel? Hulle is uiters talentvol uit eie reg.”

Baie Suid-Afrikaners beskou dié veelsydige kunstenaar steeds as ’n stem vir oopkop wees oor die verlede en die toekoms.

“As dit nie vir my kwaadgeit oor die destydse bestel was nie, sou ek heel waarskynlik net liedjies soos ‘Lisa se klavier’ geskryf het,” vertel hy. Ook in die nuwe bedeling het hy protesliedjies bly skryf.

Op sy album Bloedrivier van 2008 sing hy oor Eskom en misdaad – dinge wat vandag steeds sonder ophou in die nuus bly. Hy was en bly immers ’n anargis, sê André, al is dit dan nou een “wat nou in die ’burbs bly”.