Die ma van twee het onlangs op Instagram gesê sy weet sy was die laaste ruk stil, maar daar is ’n rede voor. 

“So dis ek, ek dra 24/7 'n masker in my huis en probeer om ons kinders te beskerm terwyl ons probeer om oor covid-19 te kom. Neem dit as ’n waarskuwing: Hierdie pandemie is nie verby nie. Ek is so versigtig. Ek beperk my blootstelling. Ek is die mees paranoïese mens. Ek ontsmet alles. Ek gaan skaars êrens. Ons help ons oppasser met privaat vervoer sodat sy veilig by die werk kan kom. Infeksiesyfers is laag en ons almal het steeds hierdie virus opgedoen,” skryf Roxy. 

View this post on Instagram

A post shared by Roxy Burger (@roxyburger)

Roxy, wat getroud is met die sakeman Neil Shraga (37), sê hulle het geen idee hoe hulle die virus opgedoen het nie. “Vlak 1 beteken nie dat corona verdwyn het nie,” sê sy. 

Die aanbieder, wat ’n driejarige dogtertjie, Adrienne, en vyf maande oue seuntjie, Finnley, het, sê dis een van die moeilikste dinge waardeur sy al ooit moes gaan, en dis nog moeiliker dat sy nie haar seuntjie kan vashou of vir haar dogtertjie ’n soentjie of drukkie kan gee nie. 

“Finn het oor die naweek ’n hemelhoë koors gehad ons kon dit nie breek nie en moes hom na die ongevalle neem (ons is ontslaan toe ons medikasie gekry het en die koors onder beheer was),” skryf sy in die inskrywing, wat sy Vrydag gedeel het.

“Hy kon dit dalk gehad het aangesien al drie sy versorgers getoets is, maar ons kan nie seker wees sonder ’n toets nie. Dit is waarskynlik, maar ons het besluit om hom nie te toets nie omdat ons as ’n gesin afsonder en albei kinders reeds blootgestel is voordat ons geweet het ons is. Plus, ek dink regtig nie my angs kan dit hanteer nie,” skryf sy. 

Roxy skryf verder dat sy regtig nie haar ervaring deel vir simpatie nie. “Ons gaan oukei wees, ek deel dit om net vir jou bewus te maak dat hierdie pandemie nog steeds bestaan en dat mense steeds siek word. Pas jouself asseblief op. Pas asseblief die weerloses rondom jou op. Wees asseblief versigtig. Moenie selfvoldaan raak nie.” 

Dit gaan op die oomblik beter met haar en Neil, hoewel hulle nog ligte simptome het. “Dit gaan ook goed met ons kinders, insluitend Finn my klein dapper een.”

Talle plaaslike bekendes het vir Roxy en haar gesin ’n spoedige herstel toegewens. 

“Stuur so baie liefde vir jou, vriendelike siel. Ek weet dat dinge vir jou beter sal word soos wat die dae verbygaan. Baie liefde,” skryf die voormalige Mej. Suid-Afrika Liesl Laurie in die kommentaarafdeling.

“O, my Rox! Wens ek kan tot by jou huis ry om jou te help en jou baba vir jou ’n drukkie te gee,” skryf die aktrise Angelique Potgieter. 

"Bid vir jou en jou gesin vir 'n spoedige herstel Rox," skryf die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe