Ewan (36) en sy vrou, Adrienn (35), is die trotse ouers van twee seuns, Kèan (6) en Dominic (3). Vir Ewan is dit belangrik om die tyd met sy gesin deur te bring. Paasnaweek is altyd bedrywig, vertel hy.

Hierdie jaar is ek die seromoniemeester by die Two Oceans-marathon, maar die res van die Paasnaweek beplan ek om saam met my gesin deur te bring,” vertel hy aan Huisgenoot. 

Ewan, wat ook ’n omroeper by die radiostasie Smile 94.0FM is, vertel dat sy gesin gewoonlik tydens Paasfees saam kuier en kook.

Ons gaan nie juis oor Paasnaweek weg nie. Ons verkies om dit by die huis deur te bring,” sê hy. “Enige tyd wat ek beskikbaar het om met my gesin, pragtige vrou en twee seuns deur te bring is 'n seëning!” vertel Ewan.

Wanneer die gesin wel weggaan, betrek hulle die kleingoed en kies gewoonlik saam 'n bestemming. So voel die kroos hulle is ook deel van die beplanning. "Met dit gesê, handig ek die keuse van bestemming aan Adrienn oor. Sy’t die oog daarvoor,” grap hy. 

Die glansman woon tans in Blouberg in Kaapstad met sy gesin. Hulle is baie aktief, vertel hy, en geniet dit om tyd in die buitelug deur te bring.

"Wanneer ek by die huis is, gaan stap ons in die woud. Ek neem hulle om fiets te ry of ons vat ons twee Italiaanse windhonde see toe vir 'n stappie. Wat ook al ons in die buitelug kan doen, dis wat ons najaag!” sê Ewan.

Watter aktiwiteite raai Ewan aan vir ouers met jong kinders? 

Volgens dié bedrywige pa is dit belangrik om die kleingoed in die natuur te kry en vir hulle om te speel.

"Tegnologie speel deesdae ’n groot rol in kinders se lewe, maar ons raak al meer afgeskakel van Moeder Natuur, en dis hoekom dit belangrik om seker te maak kinders maak hul voete vuil. Dis hoekom ons gereeld kampeer,” verklap hy. 

Ewan geniet graag self die buitelug. Hy gaan stap gereeld en is gaande daaroor om tyd onder die sterre deur te bring. Om sulke aktiwiteite met sy seuns te doen en te sien hoe hulle dit geniet, smelt sy hart, vertel hy. "Daarsonder sal ek glad nie ’n gelukkige knaap wees nie."

Om tyd saam met sy seuns deur te bring is ook sonder twyfel vir hom sy hoofprioriteit. “Ons het so min tyd saam met hulle voor hulle grootword en ons wil nie sukkel om vir verlore tyd om te maak nie,” sê hy. 

En wat is die grootste les wat hy as pa by sy kinders leer? 

“Dit maak nie saak wat jy besig is om te doen nie, doen dit met 'n glimlag en geniet dit net soos 'n kind kan. . .” sê Ewan.