Die aanbieder van Drama mammas op VIA sê hy het in die laaste weke – veral tydens die inperking – eers werklik besef hoe uitdagend dit vir hom is om traumatiese gebeurtenisse van die verlede te verwerk. 

Louw verwys na die ongeluk in Junie verlede jaar waarin drie mense dood is nadat hy laataand met sy voertuig teen ’n stilstaande sleepwaentjie agter 'n minibustaxi gebots het.

Hy wou eers oor sy vrywillige opname swyg, vertel Louw Woensdag openhartig aan Huisgenoot. Maar toe kom die besef: Hy het homself beloof om nie ’n dag langer sy oorweldigende emosies te begrawe nie.

“Almal loop mos met soortgelyke stories van seerkry en trauma binne hulle rond,” vertel Louw vanuit die Denmar- psigiatriese hospitaal in Pretoria.

“Jy oortuig jouself jare lank jy is oukei – of jy probeer ten minste om daardie emosies te vermy. Maar oor die langtermyn is dit nie moontlik nie. Ook nie vir my nie.” 

Hy het homself vroeg in Junie by die hospitaal laat opneem. Die TV-aanbieder sê depressie is op 15-jarige ouderdom by hom gediagnoseer. Ná verlede jaar se ongeluk is post-traumatiese stressteuring en angs ook by hom gediagnoseer.

“Ek het so 'n maand terug een oggend wakker geword en besef daardie traumatiese ongeluk was al een jaar gelede. En dis eers toe – ná al die dae, weke en maande – dat ek besef het ek het nog nooit daardie gebeure werklik verwerk nie,” vertel hy.

Die televisiepersoonlikheid, wat vroeg vanjaar met 'n nuwe voorkoms gespog het, sê hy wou nie meer van sy “seerkry en trauma” weghardloop nie.

“Ek wou ’n voller en heler weergawe van myself wees. Dit sou my niks baat om net aan die uiterlike te werk nie – dit vergaan soos alles weer met tyd. Ek het besef my geestesgesondheid is wat werklik saak maak; dit was waaraan ek moes werk. Ek wou heel wees.” 

Louw sê hy was aanvanklik bang om te bieg oor sy opname weens die stigma wat aan sulke soort hulpsentrums en die pasiënte kleef.

“Mense verwys mos gereeld daarna as ’n malhuis. En dan roep jy onmiddellik hierdie beelde op van straight jackets en koshuiskos en kringe waarin mense praat en hul gevoelens deel. Maar dis ’n totaal verwronge idee van wat werklik gebeur.” 

Die TV-aanbieder sê hy het “ongelooflik baie gebaat” by die terapeutiese kursusse wat deur fasiliteerders en kenners aangebied word. Hy verwys dan na kunsterapie en spesifieke klasse wat op angs en depressie en selfbeeld fokus.

“Jy kan die sessies one on one bywoon of jy kan jou storie met ’n klein groepie van 10 mense deel. Maar ons sit nie almal in kringetjies nie. Ons is gewone mense wat gewone lewens lei – daar is niks vreemd daaraan nie.” 

Louw Breytenbach
Louw Breytenbach. Foto: Verskaf
Louw Breytenbach
'n Sexy Louw het in Januarie vanjaar met sy voorkoms op die strand gespog. Foto: Edó Mostert
Louw Breytenbach
Louw in Januarie vanjaar. Foto: Edó Mostert

Hy sê hy het juis besluit om sy stryd teen geestessteurings openbaar te maak om die stigma daarrondom te verbreek.

“Dis maklik om na my te kyk en te dink niks skort nie. Maar dis juis mense soos ek – diegene wat lyk asof hulle selfvertroue het en altyd gelukkig is – vir wie dit vrek moeilik is om hulp te vra,” verduidelik hy.

“Ek het so lank met die idee van perfeksie rondgeloop. Dat ek die en daai mylpaal moet haal in die en daai fase van my lewe. Ek moes leer alles gaan nie altyd perfek wees nie – jy gaan waarskynlik nie al jou drome en ideale bereik nie. Maar jy sal dit moet aanvaar en met jou lewe aangaan. Want terwyl jy daardie gebrokenheid saam met jou dra, sal jy nooit werklik heel wees nie.” 

Louw is 21 dae opgeneem en word binnekort ontslaan. Nou, sê hy, is dit vir hom belangrik om ander te beywer om ook na hul psigiese welstand om te sien, sonder vrees vir veroordeling of diskriminasie. 

“Ek wil hê ander mense moet weet dis oukei om vir hulp te vra en dat wanneer jy vir hulp vra, dit nie oukei is om jou toestand sommer net af te maak nie.

“Dis nié genoeg om vir iemand te sê die son skyn môre weer nie. Want die son skyn dalk nie gou weer nie. Dis belangrik om heel te wees, want eindelik is dit al hoe jy werklik voluit sal kan leef.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe