Theunis was in 2014 in 'n ernstige ongeluk by die Garsfontein-afrit in Pretoria betrokke nadat 'n bakkie agterin sy motorfiets vasgery het.

Sy regterarm is in die ongeluk vergruis en is bokant die elmboog geamputeer.

Hy het egter met sy ondersteuners gedeel dat sy femur (bobeen) ongeveer drie en ’n half jaar ná sy ongeluk steeds nie aangroei nie.

"Ek kon lanklaas hier met julle gesels en julle op hoogte bring van hoe dit met my gaan," het Theunis op sy blad, wat hy intussen na Woema vir Jesus herdoop het, geskryf.

"Die blad is oorspronklik begin juis omdat ek nie self terugvoering kon gee na my ongeluk nie. Nou dat my gesondheid beter is, het ek dit goedgedink om die blad se naam na Woema vir Jesus te verander."

Met die hulp van familie en vriende pak ek elke dag aan soos die eerste dag na die ongeluk - in Sy skadu

Theuns het ook verder vertel dat hy sowat ’n maand gelede in die hospitaal was om twee operasies te ondergaan.

“Die rede hiervoor is dat ons almal mekaar hier in moeilike tye kan ondersteun en moed in praat, soos baie vir my hier gedoen het. Nadat ek 4 weke terug, vir ’n maand in die hospitaal was om twee operasies te ondergaan is ek nou weer volspoed aan die gang."

“My regter been se femur groei nie aan nie. Maar ná nog 'n operasie het ek uiteindelik die infeksie gewen. Drie en 'n half jaar later! Dankie Here! Hoewel daar geen infeksie is nie, groei die femur steeds nie.

“Met die hulp van familie en vriende pak ek elke dag aan soos die eerste dag na die ongeluk - in Sy skadu. Dit is nie altyd maklik nie en ander uitdagings wat baie nader en persoonlik is, maak als net meer van ’n uitdaging.”

Hy het sy ondersteuners verder bedank vir hul ondersteuning. 

“Asseblief bring jul uitdagings hiernatoe, al is dit wat, hier is omgee-maats wat soms in hul stilswye jou sal opdra in gebed,” sluit hy die inskrywing af.

Hy het onder meer naam gemaak met ’n rol in Egoli en was ook voorheen ’n aanbieder op Pasella. Hy was meer onlangs te sien as ’n aanbieder van die program Woema.