Elma het onlangs in die sosiale media onthul sy het in 2018 ’n noue ontkoming gehad met kanker. 

Juis omdat haar familie ’n geskiedenis het van borskanker, hou sy, haar ma en suster mekaar op hul tone deur gereeld vir ondersoeke en skanderings te gaan.  

“Gewoonlik sal ’n mens vir ’n mammogram gaan, maar in vroue onder 35 is dit dikwels nie doeltreffend nie weens die borsweefsel wat nog te dig is," vertel sy.

“In my geval het ’n spesialis in 2018 ná ’n roetineondersoek genoeg rede tot kommer gehad om my vir ’n MRI-skandering te stuur. Sy was later ook bekommerd oor die uitslae,” vertel Elma aan Huisgenoot. 

“Ons het begin praat oor die moontlikheid van ’n mastektomie. Ek het toe konsultasies met ’n herkonstruksie-chirurg gehad en so byna ingestem, maar ons het toe weens ’n verskeidenheid faktore besluit om nog 'n bietjie ondersoek in te stel.”

Ná nog skanderings en toetse het hulle eindelik bepaal dat hulle chirurgie met minstens ’n paar maande kon uitstel, sê Elma. 

“Ek kon vir eers bekostig om die situasie net te monitor. Ek het vir genetiese toetse gegaan om te bepaal of ek 'n hoërisiko-geenmutasie het, wat gelukkig nie die geval is nie en sedertdien hou ons die situasie fyn dop,” sê die sportaanbieder.

Sy het die inskrywing op Instagram geplaas ná haar onlangse MRI-skandering in ’n poging om groter bewussyn te probeer skep, veral onder mans, omdat baie mense nog nie weet dat mans borskanker kan kry nie. 

Elma het in die Instagram-inskrywing onthul sy het in 2018 'n noue ontkoming met kanker gehad. "Ek is bly om aan te meld ek is kankervry, vir nou," het sy laat hoor.

“Ek het ’n oupa gehad by wie dit ’n paar jaar gelede gediagnoseer is. En was ook verstom oor al die stories wat ek in wagkamers en hospitale by mense gehoor het oor jong, perdfris mans by wie borskanker gediagnoseer word,” sê Elma. 

Daarom wil sy hê mense moet weet dis belangrik om so vroeg moontlik by 'n dokter uit te kom as jy vermoed iets is nie pluis nie.