Tydens ’n onderhoud in The Howard Stern Show het die 29-jarige aktrise oor haar verhouding met Robert gepraat. Dié verhouding het ná vier jaar geëindig nadat sy afgeneem is waar sy die Hollywood-regisseur Rupert Sanders soen.

Die soen het glo tydens die verfilming van Snow White and the Huntsmen gebeur. Kristen het die hoofrol van Snow White vertolk en Rupert was die regisseur. 

Kristen en Robert se verhouding het geëindig toe paparazzi-foto’s waarop sy en Rupert mekaar soen, hul affair aan die wêreld ontbloot het. Hy was toe met die model Liberty Ross getroud. 

Die jong akteurs het toe besluit om uit te maak, maar die aktrise het onlangs gesê sy wou met hom getrou het. Tydens die onderhoud met Howard het Kristen erken sy het gedink “dit was dit” toe sy met Robert uitgegaan het.

“Ek weet nie. Ek wou, ja. Ek bedoel, ek dink so,” het sy geantwoord toe Howard haar vra of sy met Robert sou getrou het as hy haar gevra het.

“Ek weet nie. Ek is nie ’n vreeslike groot tradisionalis nie, maar terselfdertyd, in elke verhouding waarin ek al was, het ek gedink dit was dit.” 

Al het die twee se paadjies geskei en gaan Robert met die model Suki Waterhouse uit en Kristen met die draaiboekskrywer Dylan Meyer, het sy net mooi woorde oor haar “eerste liefde” te sê.

“Ek was dolverlief op my hoërskoolkêrel. Dol-, dol- f***** verlief op hom. Hy’s die beste. Hy’s die beste,” sê Kristen van haar eks. 

Bronne: Metro, Cosmopolitan