“My hele DNS is dig verweef met musiek,” het die immergroen sangeres in 2011 aan Huisgenoot gesê. Maar ondraagbare pyn en vermoeienis het haar kreatiwiteit vir ’n tyd opsy gestoot en haar stem was stil ná 25 jaar van goue klanke.

Vir haar talle bewonderaars was dit ’n groot slag; sy was immers een van die herkenbaarste stemme op die Afrikaanse musiekmark en kon ewe gemaklik ’n ligte liedjie of ’n weergalose gospelliedjie met siel en gevoel vertolk.

Om nie van die blymoedige glimlag te praat wat so gereeld sigbaar was nie. Maar min het werklik besef hoe intens die pyn was waardeur Anneli moes worstel vir 23 van haar 25 jaar in die kollig.

’n Breinoperasie in 2004 het nie die beloofde resultate gelewer nie. En ’n volgende operasie in Oktober 2007, waartydens ’n neuroloog ’n naald deur haar wang gedruk het om die senuwee en hoofslagaar te skei, was onsuksesvol.

“Ek het heeltemal stukkend uit die teater gekom,” het sy gesê. Ná die afloop van die prosedure kon Anneli haar mond net 1 cm oopmaak. Sang was nie ’n opsie nie haar planne om ’n nuwe gospel-CD op te neem, is heeltemal daardeur ontspoor.

Maar Anneli sou weer opstaan en met daardie goue stem van haar bekoor . . .

Eindelik: My nuwe begin - deur Danél Blaauw (Huisgenoot, 20 September 2012)

’n Breinkwaal het haar loopbaan gestuit en haar jare lange pyn besorg, maar danksy ’n groot operasie kan Anneli dalk gou weer sing.

Die sny is net onder haar linkersleutelbeen. Pienk, effens opgehewe en so lank soos ’n wysvinger. Onder die vars litteken vorm die inplantaat ’n duidelike bult onder haar vel.

Anneli van Rooyen (51) druk met haar vingers al langs die buitelyne van die battery.

“Dié outjie is sterker as wat ek gedink het. Dis ’n 12 V-batterypak. Ek kan omtrent ’n lorrie met hom aanskakel,” lag sy blymoedig oor die operasie wat haar lewe kan verander.

Die battery is maar een komponent van ’n ingewikkelde toestel waarvan ’n deel ook in die sangeres se brein geplant is om haar jare lange foltering weens senupyn te verlig.

Die elektrodes en kabels is in Julie tydens twee operasies ingeplant. Die kabeldraadjies wat aan die elektrodes op die motorkorteks van haar brein verbind is, loop al agter haar oor, teen haar nek af tot by haar borskas, waar dit aan die battery gekoppel is.

“Die uitdrukking ‘vol draadwerk’ het nou vir my nuwe betekenis,” skerts sy.

In haar hand is ’n afstandbeheerder. Sy hou dit op die battery, druk ’n knoppie en siedaar! Die toestel in haar brein is afgeskakel.

Die sny waar die batterypak ingeplant is.
Anneli begin wen eindelik die stryd teen jare lange pyn.
Anneli van Rooyen kyk met nuwe oë na die toekoms. Ná ’n breinoperasie kan die pyn dalk binne die volgende ses maande deur middel van frekwensies en verstellings algaande minder raak.



“So kan ek darem deur veiligheidshekke stap sonder om alarms te laat afgaan,” sê sy en lag.

Sy lag baie, want dit is een van haar goeie dae. Die vlak van pynverligting is so 40%, verduidelik sy. Dis draaglik.

“Die operasie was beslis ’n sukses, maar dit is ’n moeilike konsep. Hoe soek jy die regte frekwensie om die pyn te blokkeer?”

Elke twee weke gaan sy hospitaal toe sodat die frekwensies gestel kan word om die pyn te verlig.

“Die ideaal is om pynvry te wees, maar dis nie altyd moontlik nie. Enige persentasie verbetering skep vir my ’n nuwe werklikheid wat nie net uit pyn bestaan nie.”

’n Jaar gelede was sy nog onseker oor dié ingrypende operasie. Dit was die laaste uitweg teen die blywende senuskade weens ’n mislukte prosedure in 2007. Toe is haar regterkaakgewrig boonop ontwrig en dit kon eers verlede jaar herstel word.

“Ek het my hart vasgehou en ingegaan. Dr. Pieter Slabbert, my neuroloog, was fantasties. Terwyl ek in die koue teater lê, het hy Ek Lewe gespeel. Ek’t geweet ek is veilig by hom en sy span en bowenal veilig in al die gebede wat vir my opgegaan het.”

 Toe sy haar oë ná die operasie oopmaak, was die verligting daar. So ook ’n nuwe lewe.

Sy draai haar kop skuins en wys na die sny op haar skedel. Net hier, op die deel van die brein wat haar motoriese funksies aan die regterkant van haar gesig beheer, is die inplanting gedoen. Nou, twee maande ná die operasie, begin haar hare uitgroei.


In 1988, toe Anneli op die kruin van haar sangloopbaan was, het sy skielik kwaai pyn aan die regterkant van haar gesig begin ervaar.

Sy moes 16 jaar lank daarmee saamleef voor dit eindelik in 2004 as tipe 2- trigeminale neuralgie gediagnoseer is. Ná die mislukte prosedure in 2007 het etlike mediese kenners gesê hulle kan haar nie verder help nie, onthou Anneli.

“Die pyn en uitputting was daagliks byna oorweldigend.”

In April vanjaar het sy besef die pyn takel haar liggaam te veel af. Die operasie was al uitweg.

“Toe ek daarna wakker word, was my eerste gedagte: Eina, dis verskriklik seer.”

Ná die eerste operasie op 20 Julie is eers gekyk of die neurostimuleerder ’n uitwerking het op haar pynvlakke. Sy het ses dae rondgeloop met verbande wat die drade teen haar kop vashou. Die drade was aan twee toetsbatterye gekoppel.

Op 26 Julie is haar skedel weer oopgemaak sodat die drade geheg en verbind kon word met die nuwe batterypak in haar bors.

“Die afgelope maand was sleg; ons het verskillende frekwensies begin toets. Twee dae gelede het ons dit weer gestel op die sterkte waarop dit ná die operasie was. Ná ’n verstelling duur dit tot 48 uur om in te skop.

“Vandag voel ek vir die eerste keer weer ’n groot verbetering,” vertel Anneli.

Sy was 15 dae in die Pretoria-Oos-hospitaal, waarvan 10 in die hoësorgeenheid.

“Op die vyfde dag het ek kwart voor vier die oggend wakker geword toe ’n vrolike mensie inkom. Sy het bloed getrek en is weer uit. Ek het besef die boonste deel van my gesig was sonder pyn,” vertel sy.

“Ek’t papier gekry en ’n paar reëls van ’n liedjie neergeskryf. Dit was niks wonderliks nie, maar dit was wonderlik om te besef tussen die pyn is nog kreatiwiteit en musiek.”

‘Dit was ’n moeilike reis tot hier’  

“Elke dag was ’n berg om te klim of ’n stroom om oor te steek. Ek’t bang geword, want saam met die pyn kom vrees. Maar met die genade van die Here het ek dit oorwin. Ek het besluit die pyn sal nie my identiteit bepaal nie.”

Sy glo dis net ’n genade en danksy haar verantwoordelikheidsin dat sy nooit aan pynstillers verslaaf geraak het nie.

Wanneer sy al om die ander week hospitaal toe gaan vir die verstelling van die frekwensies, word ’n deel van die meesterbord teen haar batterypak gehou. Die lesings en voorstellings  is dan op die meesterbord sigbaar en word so verander.

Die batterypak moet elke sewe jaar vervang word.

“Ek kan op ’n verhoog werk, maar moet maar liewer verbyhou waar daar sterk magnetiese velde is!”

Sy het ’n moeisame pad gestap sedert sy in 2007 die laaste keer gesing het. Die pyn het jare lank haar loopbaan gekortwiek, haar van ’n normale lewe beroof en haar drome verydel.

Vroeër vanjaar was dit nog so erg dat sy nie kans gesien het vir ’n optrede by Huisgenoot-Skouspel nie.

Al gaan die herstelproses nog minstens ses maande duur, is daar deesdae weer musiek in haar huis in Pretoria. Sy is weer optimisties.

“Ek sê dit versigtig, maar volgende jaar wil ek ’n CD uitreik; my eerste in 10 jaar.”

Anneli is een van net ’n handvol Suid-Afrikaners op wie die operasie al uitgevoer is. Gelukkig dek haar mediese fonds die volle koste van meer as R200 000.

Intussen het sy ’n skadevergoedingseis ingestel teen die dokter wat in 2007 die mislukte operasie uitgevoer het.

“Ondanks soveel wonderwerke en reddingswerk deur die dokters, is daar steeds mense wat seerkry en sonder ’n heenkome agterbly. Ek was een van hulle. Dalk kan ek eendag ’n stem wees vir mense wat beskadig is.”

Wat is trigeminale neuralgie?

Trigeminale neuralgie is ’n chroniese toestand wat een van die grootste senuwees in die brein (die trigeminale senuwee) aantas.

Die toestand veroorsaak pyn soortgelyk aan elektriese skokke aan die een kant van die lyer se gesig.

Tipe 1 trigeminale neuralgie behels sporadiese pyne wat ’n kort tydjie duur.
Tipe 2 behels ’n gedurige brandpyn.

Die siekte kom voor by vyf tot 15 uit elke 100 000 mense. Die meeste lyers is ouer as 40 en twee keer meer vroue as mans kry dit.

Dit is nie lewensbedreigend nie en met medikasie of chirurgiese ingryping kan pasiënte ’n betreklik normale lewe lei.

Van die simptome

  • ’n Prikkelende gevoel in die gesig net voor ’n kwaai steekpyn.
  • Die tussenposes tussen die steekpyne word algaande korter.
  • Daaglikse aktiwiteite soos tandeborsel en eet, asook sing, word baie pynlik.

Wat veroorsaak dit?

  • Die oorsaak is grootliks onbekend.
  • ’n Bloedvat in die brein druk teen die trigeminale senuwee en dit veroorsaak die pyn.
  • Dit kom soms voor weens bejaardheid (bloedvate word langer met die ouderdom) of by mense wat aan veelvuldige sklerose ly.


Bronne: ninds.nih.gov, mdguidelines.com, nhs.uk

Meer oor Anneli

1. Sy was nege jaar oud toe sy van haar perd, Sixpence, geval het. Die voorval het haar met net 11% gehoor in haar linkeroor gelaat.

2. Toe sy in matriek is, word sy deur die F.A.K. met 'n spesiale penning vereer vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse liedjie.

3. Haar eerste groot treffer was Neem My Saam (1980) en kort voor lank het dié album dubbel goue status behaal.

4. Ek Lewe (1985) behaal platinumstatus terwyl Neem My op Vlerke in 1999 die botoon gevier het.

5. Daar is ’n spesiale roos vir Anneli geweek – ’n ligpienk roos wat as die Anneli van Rooyen-roos bekendstaan.

Volgens Ludwig's Roses is die Anneli van Rooyen gek oor die son wat die kleur daarvan wat van 'n diep roomkleur tot koraal na vore bring. Heel gepas. Foto: Ludwig's Roses.

6. In September 2007 het sy haar laaste openbare optrede op Noot vir Noot gemaak voor sy noodgedwonge ’n rustiger leefstyl moes volg.

7. Tydens die Huisgenoot-Skouspel 2013 is erkenning aan Anneli verleen as ’n eietydse musieklegende.

8. In 2016 word Anneli bekroon met ’n Huisgenoot-Tempo vir Nogtans Sal Ek Sing.

9. Sy reik ook haar gospelalbum Seënbede uit kort nadat sy in 2016 op Die Republiek van Zoid Afrika Ek Lewe saam met Karen Zoid gesing het.

10. In April vanjaar maak sy haar verskyning op die gewilde musiekprogram Klavierkuiers met Pedro. En ja, daardie stem bekoor nog eenstryk deur!

Bykomende bronne: annelivanrooyen.co.za, rooirose.co.za, ludwigsroses.co.za