HULLE REGEER DIE LOOPPLANK

1. Kaia Gerber (16): Dié beeldskone tienermodel is haar ma, die supermodel Cindy Crawford, se ewebeeld. Kaia het vanjaar die loopplank oorheers vir groot name soos Chanel, Calvin Klein en Alexander Wang.

Die langbeenskoonheid, wat ’n modelkontrak met IMG Models het, was ook op die voorblad van talle glanstydskrifte.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

2. Kendall Jenner (22): Die Keeping Up with the Kardashians-ster het vanjaar die Brasiliaanse supermodel Gisele Bündchen (37) onttroon as die model wat die meeste geld laat inrol.

Kendall het die afgelope jaar R308 miljoen verdien danksy winsgewende kontrakte met groot handelsmerke soos Estée Lauder en Adidas.

Sy besit ook ’n klerereeks saam met haar jonger suster, Kylie Jenner (20).

Foto: Gallo Images/ Getty Images

PAARTJIE VAN DIE JAAR

Justin Bieber (23) en Selena Gomez (25) Dit was groot nuus toe die DNCE-sanger, Joe Jonas (28), en Sophie Turner (21) van Game of Thrones-faam verloof raak.

Maar dit het ’n nog groter beroering veroorsaak toe Justin Bieber en Selena Gomez herenig. #jelenaviraltyd! Hopelik is hulle nog saam wanneer jy dié artikel lees.

TV-LIEFIES

Dean Smith (23) en Vashti Prins (22) Wie kan nie in die liefde glo wanneer jy sien hoe dié twee Suidooster-sterre in die sosiale media koer nie? Op die kassie maak hulle dalk vir ander mense ogies, maar in die werklike lewe het dié twee jong akteurs net oë vir mekaar.

WITWARM MODENEIGING

Athleisure Wie’t gesê oefendrag is net vir die gim bedoel? Ons, en die sterre, was mal oor die atletiese styl wat vanjaar posgevat het. Of dit nou in die gimnasium is of op ’n uitstappie, dié modeneiging het oral opgeduik en die sterre is veral mal daaroor.

Van Riri tot die modelsusters Bella en Gigi Hadid (foto) dra dit.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

SILWERDOEKTREFFER

Vaselinetjie Dié plaaslike drama is op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugroman gegrond. ’n Week nadat dit uitgereik is, het dit al meer as R1 miljoen by die loket verdien.

Dis vanjaar op die kykNET Silwerskermfees as die beste rolprent aangewys en Marguerite van Eeden het ’n spesiale vermelding gekry vir haar spel. Sy skitter as die ouer Vaselinetjie.

DIE VEGTER

Selena Gomez Die sangeres en aktrise se stryd teen die outoïmmuunsiekte lupus het vanjaar ons hartsnare geroer, veral toe sy onthul sy het ’n nieroorplanting gehad. Die skenker was ’n vriendin, die aktrise Francia Raisa (29).

Tussendeur het sy by die American Music Awards die nuwe liedjie Wolves gesing. Billboard het haar as hul vrou van die jaar aangewys.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

OPKOMENDE MUSIEKSTER

Paxton Fielies (17) Die naam van die tiener van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte is op baie mense se lippe sedert sy onlangs die plaaslike sangkompetisie Idols gewen het. Sy is boonop ’n kitsmiljoenêr.

En haar debuutenkelsnit, Demonstrate, is tops!

Die kat kom weer

Chloe Lukasiak (16) Dit was hartseer toe dié sangeres en danseres in 2014 die reeks Dance Moms verlaat. Chloe het wel onlangs vir die sewende seisoen teruggekeer. Sy kry enige dansroetine met gemak reg en is vanjaar vir ’n Teen Choice-prys vir Choice-danser benoem.

Haar boek, Girl on Pointe: Chloe’s Guide to Taking on the World, word volgende maand uitgereik.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die liefling

Paris Jackson (19) Die enigste dogter van die wyle koning van pop, Michael Jackson, het in Maart ’n modelkontrak losgeslaan en omtrent in ’n modeliefling ontpop.

Paris het gereeld by glansgeleenthede op die rooitapyt gepryk, sy smeul in die een fotosessie ná die ander, daag by al wat prysaand is op en dit lyk of die bekendes oor hul voete val om haar bestie te wees.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

DIE SKOONHEIDSGHOEROE

Rihanna (29) Ons is mal oor Kylie Jenner se skoonheidsprodukte, maar ’n nuwe skoonheidsghoeroe het op die toneel verskyn: RiRi! Ons is versot op die sangeres se Fenty Beauty-skoonheidsprodukte en dit verkoop soos soetkoek.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

VUURWARM TV-REEKS

Stranger Things Ons hou baie van Eleven en haar kliek in dié Netflix-trefferreeks. Millie Bobby Brown (13), wat dié karakter speel, het weer geskitter in die tweede seisoen van die reeks en is beslis een om dop te hou.

Daar was selfs romanse op die stel: Natalia Dyer (20), wat Nancy Wheeler speel, en Charlie Heaton (23), wat haar kêrel, Jonathan Byers, speel, is ook in die regte lewe verlief.

MEJ. STYLVOL

Demi-Leigh Nel-Peters (22) Ons kan nie genoeg kry van dié onlangs gekroonde Mej. Heelal nie. Demi-Leigh is so trots Suid-Afrikaans soos kan kom en sit nooit ’n modevoet verkeerd nie.

Of sy nou in ’n bikini lyf wys of in ’n sjiek skepping pryk, Demi laat ons bars van trots.

Foto's: Onkgopotse Koloti, Gallo Images/Getty Images, Magazine Features, Instagram