BOYZONE

Die Ierse groep het in 1995 wêreld­bekend geword danksy hul debuut­album, Said and Done.

En Mikey Graham (46), Keith Duffy (44), Shane Lynch (42) en Ronan Keating (41) het sommer nog baie skop.

Al vyf het intussen soloalbums opgeneem, maar hulle het steeds af en toe saam getoer of groepalbums opgeneem. Hul jongste album, Thank You and Goodnight, is verlede jaar uitgereik en sou glo hul laaste een wees.

Maar onlangs het hulle aangekondig Brian McFadden (38), voorheen van Westlife, sal op die Australiese skof van hul nuwe toer by hulle aansluit.

WESTLIFE

Vroeër vandeesmaand het hulle hul eerste enkelsnit in agt jaar uitgereik, ge­titeld Hello, My Love.

Nicky Byrne (40), Shane Filan (39), Mark Feehily (38) en Kian Egan (38) werk kliphard aan ’n nuwe album. Kaartjies vir hul Twenty Tour, wat in Mei begin, is boonop reeds uitverkoop.

Brian McFadden is nie lid van die “nuwe” Westlife nie en hy en sy oudgroeplede het glo nie ooghare vir mekaar nie.

“Ek het hom 10 jaar laas gesien. Ons het net kontak verloor,” sê Shane. Maar dit skeel Brian blykbaar min, want hy toer later vanjaar saam met Boyzone.

TAKE THAT

“Ons is nie meer seuns nie,” erken Mark Owen (47) .

“Ek dink nie die woord seunsgroep het al bestaan nie. Ons het aan onsself as ’n popgroep gedink. En pop raak nooit oud nie.”

Robbie Williams (44) en Jason Orange (48) het die groep verlaat, maar die oorblywende lede, Mark, Howard Donald (50) en Gary Bar­low (48), is steeds aan die gang.

Die drietal het onlangs saam met die Manchester-koor opgetree vir oorlewendes van die terreuraanval wat tydens Ariana Grande se optrede op 22 Mei 2017 in die Manchester-arena plaasgevind het. Meer as 800 is in die aanval beseer en 22 het gesterf.

Al vyf groepslede het herenig met die uitreiking van The Band, ’n musiekspel met Take That se grootste treffers. En die groep vier hul 30 jaar in die musiek­bedryf met ’n toer.


BACKSTREET BOYS

AJ McLean (41), Howie Dorough (45), Nick Carter (39), Kevin Richardson (47) en Brian Littrell (43) het aanhangers die afgelope twee jaar vermaak met hul Las Vegas-opvoerings, getiteld Backstreet Boys: Larger than Life.

Maar dis veral die sukses van hul nuwe album, DNA, wat wys hulle is weer witwarm. En in Mei vanjaar pak die “seuns” hul wêreldtoer aan. AJ het ondersteuners onlangs verseker hulle sal by hul oorspronklike musiekstyl hou.

“Ons probeer met elke ­album verbeter. Een ding waarop ons trots is, is dat ons nooit probeer aanpas by wat elders in die musiekwêreld gebeur nie.”

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, BILLBOARD.COM, INDEPENDENT.IE, THESUN.CO.UK, MIRROR.CO.UK