Die tiara het plek gemaak vir ’n weermaguniform. Pleks van ’n septer in die hand dra Mej. Suid-Afrika 2017 ’n stetoskoop om die nek.

Dis moeilik om ’n mens twee uiteenlopender wêrelde voor te stel: dié van ’n glansryke skoonheidskoningin teenoor ’n militêre geneesheer s’n.

Maar as ’n mens die mooie dr. Adè van Heerden kan glo, stem dit meer ooreen as wat dit verskil: “In albei gevalle werk jy met mense en ook as Mej. SA verbeter jy mense se lewe met jou liefdadigheidswerk.

“Ek dra as dokter nie meer elke keer hoë hakke nie. Maar dit was emosioneel net so uitdagend om Mej. Suid-Afrika te wees, want jy moet altyd jou beste voetjie voorsit. Jy kry ook nooit ’n dag vry nie.”

Nadat die weermag haar beveel het om weer ná haar termyn as Mej. Suid-Afrika aan te tree, het Adè (26) op 23 Julie vir diens by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg in die Kaap aangemeld om haar internskapsverpligting as mediese dokter in die weermag na te kom.

Haar gesin by haar ná die Mej. SA-­kroning is van links sus Emma, ma Anna, pa André en ousus Pauli, wat ook ’n mediese dokter is. Foto: Verskaf.

’n Week nadat sy terug in die tuig was, gesels ons in haar ousus, Pauli (29), se woonstel in Seepunt met ’n uitsig op die buurt en die see in die verte. Haar grimering is perfek en die mosterd pakkie vlei haar figuur.

Sien jy haar so in gewone klere, is dit moeilik om jou voor te stel hoe sy in ’n uniform lyk. Adè was tot einde Mei Mej. SA nadat sy die titel by Demi-Leigh Nel-Peters oorgeneem het toe dié Mej. Heelal word en ander verpligtings moes opneem.

Die donkerkop het spesiale verlof van die weermag gehad terwyl sy haar ampspligte as Mej. Suid-Afrika moes uitvoer.

Maar toe sy twee maande ná die einde van haar ampstermyn en die aanwysing van Tamaryn Green as ons nuwe Mej. SA nie by die werk opdaag nie, was daar gerugte dat sy dros.

Sy ontken dit en sê dit was nooit haar bedoeling om haar diensplig te versaak nie; daar was net ’n geskil tussen haar en haar werkgewer, wat intussen opgelos is.

Ja-nee, die militêre wêreld is ’n plek van streng dissipline. Haar dag as weermagdokter begin kwart voor vyf. Sy gim eers ’n driekwartier lank en is net ná sewe by die werk. Maar dis ook waar sy geleer het om haar sagte, menslike kant te wys en uit te leef.

“Die wêreld verwag vroue moet óf die mooi poppie óf die sagte tannie óf die kwaai, sterk, streng sakevrou wees. Ons mag nie ’n kombinasie wees nie,” sê sy. “Maar ek het vandag in ’n rok gaan werk en kon ook sag en vroulik wees. As dokter moet jy ’n band met pasiënte smee en insig in hul probleme kry.”

Een van haar onvergeetlikste en traumatiesste ervarings was in haar vyfde studiejaar, in 2014, aan die einde van haar gemeenskapsdiens in verloskunde in Mbombela. “Dit was my eerste ervaring van die geboorteproses. Dit was ongelooflik om ’n baba in die wêreld te help bring. Dis baie emosioneel,” onthou sy.

Die ma was net 12 jaar oud en MIV-positief. Adè het ’n naaldprikbesering opgedoen en moes ses weke lank antiretrovirale middels neem.

“Een van die newe-effekte wat ek ervaar het, was bradikardie, ’n baie stadige hartklop. ’n Normale hartklop is tussen 60 en 100, maar myne was net 32 slae per minuut. Ek moes dringend hospitaal toe, want die professors aan die Universiteit van Pretoria wou seker maak my hartspier het nie seergekry nie.”

Gelukkig was haar hart gesond en het sy ook negatief vir MIV getoets, maar sy moet haar steeds elke drie maande vir die virus laat toets. “Jy stres elke keer,” erken sy.

Adè sê sy is die weermag baie dank verskuldig; nie net omdat hulle haar ’n beurs gegee het toe albei haar ouers hul werk verloor nadat sy medies begin studeer het nie.

“Ek het in die weermag geleer jy moet vasbyt. Môre is nog ’n dag. En die mense van die weermag staan saam. In sommige diensbeurte moet jy 30 uur aaneen werk. Jy is in staat tot soveel meer. Die adrenalien help jou werk. Elke dag is ’n uitdaging.”

Adè se groot belangstelling in die geneeskunde is dieet-intervensie vir leefstylsiektes soos hipertensie en diabetes. Sy wil graag eendag daarin spesialiseer om dié siektes te help voorkom of bestuur deur middel van die regte eetgewoontes.

Sy stel ook belang in psigiese gesondheid en glo mense moet praat oor toestande soos depressie.

“Ek besef die meeste van my volgelinge is jong meisies wat baie probleme het met hul lyfbeeld en die perfekte lewe. Die skoonheidswêreld is ’n fantasie. Ek was sewe maande lank Mej. Suid-Afrika en probeer dit duidelik maak dat ek ook soms die hele dag in die bed wil lê, dat ek nie elke dag grimeer nie en ook puisies kry en sweet in die gim.”

Vra jy dié skoonheid uit oor skoonheidswenke, het die dokter in haar ’n eenvoudige en praktiese antwoord: “Slaap tussen sewe en agt uur per nag. Drink 2 L water. Stap elke dag ’n halfuur.

“Skoonheid is in die eye of the beholder. Ek voel die belangrikste karaktertrek van ’n vrou is om innemend te wees,” sê sy. Sy bewonder dinamiese, sterk vroue met ’n beroep en vertel hoe trots sy op haar twee susters is.

Pauli werk ook by 2 Militêre Hospitaal en spesialiseer in verloskunde en ginekologie. Kleinsus Emma (24) het ’n honneurs in omgewingsvolhoubaarheid aan Tuks en Maties behaal.

Die man in dr. Van Heerden se lewe, Alexander Forsyth-Thompson (30), kuier by haar uit Johannesburg. Tydens ons onderhoud hou sy heeltyd sy hand vas.

Die twee het mekaar ná haar kroning ontmoet nadat hulle op Instagram foto’s van mekaar gesien het; hulle het toe op ’n eerste afspraak gegaan.

Saam met haar kêrel, Alexander Forsyth-Thompson, ’n finansiële slimkop. Foto: Jacques Stander.

“Al daardie ander dinge het niks beteken nie. Ek het haar ontmoet as Adè in tekkies,” sê Alexander, ’n finansiële ontleder. “Hy is baie nederig. Google sy naam,” fluister Adè.

Daar is nog nie sprake van trou en kinders nie. “Ek’s self nog ’n kind,” meen Adè.

Eers moet sy haar internskap voltooi voor sy terugkeer Gauteng toe, waar geleenthede wink. Sy wil nie meer verklap as dat sy nie dadelik voltyds in medies sal praktiseer nie.

Ons sal moet wag, maar van dié mooi dokter sal ons beslis nog baie sien . . .

DIE GESKIL

Adè het gedeeltelik met ’n weermagbeurs haar mediese studie voltooi en moet as ’n beursvoorwaarde ook haar internskap by die instelling doen.

Omdat sy as Mej. SA by liefdadigheidsprojekte in Gauteng betrokke geraak het en sedert Mei een van die aanbieders van The Morning Show op e.tv was, het sy om ’n oorplasing aansoek gedoen sodat sy die oorblywende twee maande van haar internskap in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria kon voltooi.

Dis geweier omdat sy kragtens riglyne van die Raad op Gesondheidsberoepe haar internskap moet klaarmaak waar sy dit begin het.

Sy voltooi die uitstaande modules in verloskunde en ginekologie, asook pediatrie, in 2 Militêre Hospitaal, Wynberg.

MEJ. SA 2017

Adè is in Maart 2017 as eerste prinses aangewys toe Demi- Leigh Nel-Peters as Mej. SA gekroon word.

Omdat die Mej. Heelal- en Mej. Wêreld-kompetisie albei in November gehou is, het Adè die land in die Mej. Wêreld-kompetisie in Sanya, China, verteenwoordig, waar sy die top-10 gehaal het.

Toe Demi-Leigh kort daarna in Las Vegas as die 66ste Mej. Heelal gekroon word, het Adè in haar plek Mej. SA geword.

Sy het by haar ouers, Anna en André van Heerden, op Heroldsbaai aan die Suid-Kaapse kus gekuier toe sy uitvind sy is Mej. Suid-Afrika.

“In dieselfde bed waar ek as kind geslaap het, het ek tweeuur in die oggend die Mej. Heelal-kompetisie gekyk en gesien hoe Demi-Leigh as wenner aangewys word,” onthou sy.

“Dit was ’n heilige oomblik vir my en ’n bewys dat jou drome waar kan word as jy hard werk.”