Vandag is Irshaad Ally 'n ster in een van die land se gunstelingreekse. Hy speel Rhafiek in die kykNET-sepie Suidooster en het ook in die fliek Noem my Skollie gespeel. 

Irshaad sê hy het van 1997 tot 1999, gewoonlik van Oktober tot Februarie, vir die munisipaliteit gewerk. Dan het hy badkamers en toilette by Kampsbaai en Seepunt skoongemaak. 

Irshaad Ally. Foto: kykNET

“Ek het gehelp om die badkamers daar skoon te maak, vloere te was, urinale skoon te maak en toilette te skrop. Ek moes selfs die koperwerk blink vryf. 

“Ons moes al die openbare toilette van Kampsbaai tot in Seepunt skoon hou,” vertel hy aan Huisgenoot. 

Voor dit was Irshaad ses maande lank vir dwelmverslawing in 'n rehabilitasiesentrum. “Toe ek uitkom moes ek noodgedwonge begin werk. Ek het dié werk by die munisipaliteit gekry. En werk is werk. Ek moes iewers begin.

“Daarna het ek 'n bestuurder by ’n advertensie-agentskap geword en toe grafiese ontwerp gedoen.”

Maar dié herinnering van hom as toiletskoonmaker het onlangs weer by hom opgekom toe hy ’n inskrywing van ’n Kaapse joernalis en blogger, Stephanie Pekeur, op haar Instagram oor die Seepuntse swembaddens sien. 

“Die Seepunt-pavilion is die mooiste plek as die son soggens opkom,” het hy by haar Instagram-foto geskryf. 

Irshaad sê hy kan dit soms steeds nie glo dat hy van skoonmaker na Suidooster gegaan het nie. “Dit voel soms so onwerklik. Dis wêrelde verwyder van mekaar. Die verantwoordelikheid wat 'n mens nou het van mense wat na jou opsien, is ongelooflik groot. 

“Ek is dankbaar vir die sukses wat ek behaal het, maar 'n mens moet beskeie daaroor bly en weet jy moet aanhou hard werk. 

“Dit klink soos ’n cliché, maar aanhouer wen. Moet nooit toelaat dat iets jou terughou nie, en as jy iets nie die eerste keer regkry nie, probeer weer. 

“Deursettingsvermoë is ongelooflik belangrik,” sê Irshaad.