Maar die TV-aanbieder Vanes-Mari du Toit en haar man, Matt Proudfoot, wat in Engeland rugby afrig, het dié week positief vir covid-19 getoets.

“Ons het gedink ons sou dit nie kry nie. Ons was ’n bietjie naïef,” sê Vanes-Mari vanuit Londen in Engeland, waar sy en Matt hulself vir die volgende 10 dae in hul huis moet isoleer. 

“Ek en Matt kwarantyn saam in Barnes in Londen. Ons bly naby die rivier waarheen ons altyd gestap het, maar ons sal vir nou nie kan nie, want ons mag 10 dae lank nie die huis verlaat nie. Ons het gelukkig lekker geriewe vir aanlyn aankope, wat dit makliker en lekkerder maak om in kwarantyn te wees,” sê sy.

View this post on Instagram

A post shared by Vanes-Mari Du Toit (Proudfoot) (@vanes.mari)

Matt het oor die naweek verkouesimptome begin toon, sê Vanes-Mari.

“En ek het maagkrampe gekry. Ek het gedink dis dalk iets wat ek geëet het. So omdat ons verskillende simptome gehad het, het ons nie dadelik gedink ons het covid-19 nie.”

Matt het Sondagaand siekerig met verkoue begin voel, en sy neus was toe.

“Toe gee ek hom 'n Medlemon. Hy is die Maandag getoets en Dinsdag het hy sy uitslae gekry. Hy was positief. Ons is nog in die baie vroeë stadiums daarvan. Ons is nou op dag vyf van simptome," vertel sy.

Vanes-Mari se simptome sluit maagseer en ’n “verskriklike maagaandoening” in. “Ek het ook 'n verskriklike seer keel, droë hoes en baie slym, en Matt het weer borspyn.”

Hul albei het koors.

“Ek het ook verskriklike hoofpyne, wat baie intens is vir ’n paar sekondes en dan gaan dit weer weg. Matt het weer konstante hoofpyne. Maar ons fokus nie op ons simptome nie, ons probeer fokus op die positiewe dinge,” sê Vanes-Mari. 

“Hy wys nou wel simptome en hy sukkel maar ’n bietjie, maar ons is hier vir mekaar, en as die een sleg voel, is die ander daar om te help. Gelukkig isoleer ons saam en kan ons saam hierdeur gaan,” sê Vanes-Mari, wat Woensdag positief vir covid-19 getoets het. Die paartjie weet glad nie waar hulle dit opgetel het nie.

“Ons is onseker, want ons was so waaksaam en bewus van ons omgewing en die risiko van covid-19, veral omdat ek in Februarie terugkeer na Suid-Afrika toe en Matt binnekort terug moet gaan na die rugbykamp toe.  

“Ons was in kontak met niemand nie, ons was net na ’n kruidenierswarewinkel toe. Maar ons het maskers, vizers en handskoene gedra en het die trollie gesanitize, ’n sosiale afstand gehandhaaf en uit ons pad gegaan om nie die virus op te doen nie,” sê Vanes-Mari, wat verlede jaar op die kassie te sien was as die aanbieder van die kykNET-maatsoekprogram Hoor my, sien my, soen my.

Sy is ook ’n aanbieder op die kykNET-joernaalprogram Kwêla.

Die egpaar doen eintlik net aanlyn aankope, maar was dié spesifieke dag genoodsaak om na die winkel te gaan.

“Daardie dag het my aanlyn aankope nie deurgegaan nie en moes ons winkel toe gaan vir brood en melk. Dit was die een keer dat ons uit was, so ons dink dit kan dalk deur 'n aflewering by die huis wees, dalk deur 'n pakkie, ek weet nie,” sê Vanes-Mari oor hoe hulle moontlik die virus kon kry.

“Maar ons was regtig baie versigtig en tog het ons dit steeds opgetel. Dis ’n raaisel vir ons albei.”

Sy kan nog proe en ruik, sê sy. Om nie te kan proe en ruik nie, is een van die algemene simptome van covid-19.

“Maar dinge proe net anders. Die proegedeelte sal nog seker geaffekteer word. Ek hoop dit word beter en nie slegter nie.”

Matt en Vanes-Mari bestee nou baie meer tyd daaraan om Bybelstudie te doen en te bid.

“As ons soggens opstaan, lees ons ’n stukkie en bid. Ons bid vir ons families en vir mense wat regtig erger af is as ons. Ons is nog aan die jonger en gesonder kant, wat dit seker maar 'n bietjie beter maak, maar ons kan net imagine hoe dit moet wees om in ’n meer verswakte en kwesbare situasie te wees en dan hierdie siekte te moet hê nie.

“Ons hoor ook baie van mense wat sterf as gevolg van covid-19 en ons dink baie aan daai mense. Ons fokus om daar te wees vir ander en fokus op ons geloof en sterk te staan.”

Sy probeer besig bly terwyl hulle in kwarantyn by hul huis in Londen is. “Ek het vir my legkaarte en paint by numbers aanlyn bestel en gaan sommer nou borduurwerk ook begin doen. Ek gaan myself besig hou en 'n kreatiewe uitlating gee,” sê dié voormalige Protea-netbalspeler.

Sy geniet dit ook om te kook. “Ek het nou genoeg tyd om nuwe resepte en bestanddele te probeer. Dis nie altyd die beste nie, maar ek geniet my tyd in die kombuis. Ons het Netflix en kyk dokkies en sal dan daarna ’n hele filosofiese gesprek daaroor hê.

“Ons hou ook van lees en ek hou van legkaarte bou, maar Matt het nie die geduld daarvoor nie. Hy hou van YouTube-video’s oor ou oorlogstories, en ek kan weer glad nie gepla wees daaroor nie,” sê Vanes-Mari.

“Matt is heeldag besig in video-vergaderings. Sy datum waarop hy moet terugkeer, is die 29ste Januarie, so hy mis dan net twee dae van die sesnasiekamp.”

Matt was in kontak met twee ander spanlede wat ook nou isoleer. “Aan die begin was dit geestelik moeilik vir hom, want hy het verantwoordelik gevoel dat hy moontlik ander mense aangesteek het wat nou in kwarantyn moet wees as gevolg van hom wat positief getoets het, maar ek het hom gesê dis iets wat mens nie kan beheer nie.”

Hoewel hulle hul familie en vriende in Suid-Afrika in dié tyd mis, is hulle dankbaar vir al die “virtuele ondersteuning” wat hulle nou kry. “Die ondersteuning wat ons kry van mense is ongelooflik. Ons is dankbaar vir almal wat uitgereik het na ons toe. Ons mis ons families en vriende by die huis. Maar ons is bymekaar. Imagine Matt moes dit alleen deurmaak in Engeland.” 

Covid-19 is nie “fake news of ’n opgemaakte siekte nie”, sê Vanes-Mari.

“Dis 'n realiteit en iets wat ons nou in die gesig staar. Dit is hier, en die beste wat ons kan doen, is om mekaar te ondersteun. Ons moet ook agting hê vir die mediese werkers wat hard werk as ons soldate in die voorste linies in hierdie silent war wat ons tans veg. Baie mense verloor hul geliefdes, maar ons is almal saam daarin.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe