Matt Proudfoot en sy vrou, die TV-aanbieder, Vanes
Matt Proudfoot en sy vrou, die TV-aanbieder Vanes-Mari du Toit, sien uit na 'n wit Kersfees in Desember. Foto: Verskaf

Maar nou is die paartjie reg om ’n wit Kersfees oorsee te hê.

“Ons wil hierdie jaar ’n wit Kersfees in Europa hou waar dit sneeu, dalk in Switserland. Dan wil ons die son Januarie in Suid-Afrika kom verken,” vertel Matt, wat die Springbokke verlede jaar gehelp het om die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan te wen. Hy het op 9 Januarie vanjaar Engeland toe verhuis om daar as afrigter te gaan werk.

Hy het in Maart, net voor die inperking in Suid-Afrika in werking getree het, een van die laaste vlugte uit Engeland na Suid-Afrika gehaal om die inperking saam met sy vrou, Vanes-Mari, by hul huis in die Moederstad deur te bring. Hy is op 1 Augustus terug Engeland toe en Vanes-Mari het ’n maand later by hom aangesluit. 

Sy kuier steeds by hom. “Dit gaan die eerste keer wees dat dit net ek en hy is vir Kersfees,” vertel Vanes-Mari. Die egpaar gesels met ons vanuit die suidweste van Londen waar hulle tans woon.

“Ek en Matt huur ’n woonstel in ’n gebied genaamd Barnes. Dis ’n lekker eenslaapkamerwoonstel, maar ons soek eintlik ’n plek om te koop. Ons ry so 'n bietjie rond en verken die gebied,” vertel die voormalige Protea-netbalspeler, wat later dié week na hul tuiste in Kaapstad terugkeer. Matt gaan binnekort by 'n oefenkamp aansluit, maar vir eers geniet die twee hul tydjie saam in Londen.

Dit is heo Matt Proudfoot sy vrou, Vanes-Mari by d
Dit is hoe Matt sy vrou, Vanes-Mari, by die lughawe in Engeland verwelkom het. Foto: Verskaf

“Ons hou van na koffiekroeë toe gaan en ek is mal oor ontbyt in ’n koffiekroeg. Toe ek hier aangekom het, het ek eers twee dae lank die huis skoongemaak,” vertel Vanes-Mari laggend.

Toe Matt vroeër vanjaar tydens die inperking hier in Suid-Afrika by haar in Kaapstad aangesluit het, was hulle albei nog bedrywig met werk. “Matt het van die begin van lockdown af deur Zoom met die Engelse afrigtingspan gekorrespondeer – elke oggend en aand. Ek het my besig gehou. Omdat ek in die media werk, was ek van die begin van die inperking af as ’n noodsaaklike werker geklassifiseer.

“So ek het aangehou met (die joernaalprogram) Kwêla en ons het tussenin lekker tyd saam deurgebring,” sê Vanes-Mari, wat vanjaar op die kassie te sien was as die aanbieder van die kykNET-maatsoekprogram Hoor my, sien my, soen my.

“Ons het gekook en gebak, in die tuin geoefen en die huis reggepak. Ek kon nie glo hoeveel rugbytruie Matt al oor die jare versamel het nie,” sê Vanes-Mari.

Die twee het ook gereeld podcasts en luisterboeke saam geniet. “Oor die algemeen wanneer ons saam en albei af is, dan lock ons down. Ons is amper sewe jaar saam. Ons doen altyd lockdown as ons saam is,” sê Vanes-Mari.

Matt en Vanes-Mari het vanjaar baie tyd tydens die
Matt en Vanes-Mari het vanjaar weens die inperking baie tyd saam deurgebring. Foto: Verskaf

Noudat hulle in Engeland is, oefen hulle om ontslae te “raak van die gewig wat ons in lockdown in Suid-Afrika aangesit het,” sê Vanes-Mari.

“En ons Netflix ook. Ons bly naby die Teemsrivier en ons gaan stap daagliks langs die rivier,” sê sy oor hul tyd by hul tweede tuiste in Engeland.

Vanes-Mari en Matt gaan gereeld vir 'n oggendstapp
Vanes-Mari en Matt gaan gereeld vir 'n oggendstappie langs die Teemsrivier. Foto: Verskaf

“Verlede jaar was ’n groot jaar vir ons. Vanes-Mari het vier shows gedoen en ek het die Wêreldbeker en die rugbykampioenskappe gedoen. Ons kon in die lockdown net ’n kansie vat om te sit en dink,” sê Matt. 

“Ons het introspeksie en retrospeksie gedoen en doelwitte gestel vir die volgende jaar. Ons het baie tyd met die Here deurgebring en ons het saam in ons geloof gegroei,” sê Vanes-Mari oor hul tyd in die inperking. 

Matt en Vanes-Mari het geestelik saam tydens die i
Matt en Vanes-Mari het tydens die inperking geestelik saam gegroei. Foto: Verskaf

“Ek het geleer hoe belangrik my huwelik en my verhouding met die Here is en om dit alles bymekaar te hou, want dis my veilige plek en waar 'n mens se krag vandaan kom,” vertel Matt. 

Hy het ’n baie suksesvolle 2019 gehad. Die rugbyspanne wat Matt help afrig, het heelwat groot trofeë gewen: die Bokke het die Wêreldbeker en die Rugby-kampioenskap gewen en die Engelse span die Calcutta-beker en die Triple Crown-trofee. 

“En toe wen jy dié trofee-vrou,” sê Vanes-Mari en lag. “Die beste trofee ooit," laat Matt hoor. “Nou moet ons net swanger raak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe