“Ek is hier by Matt in Engeland,” vertel sy aan Huisgenoot. “En dis lekker koud. Dis nog nie baie reënerig nie, maar net koud."

’n Nuwe variant van covid-19, wat 70% meer oordraagbaar is, is onlangs in Engeland ontdek, en om die verspreiding van die virussiekte in dié land onder beheer te bring, is hulle weer op ’n streng inperking geplaas.

Talle ander lande het reise vanaf Engeland verbied om te keer dat die nuwe variant na hul lande versprei, berig CNN.

“So, ja, ons Kersfeesplanne in Engeland behels ’n lockdown,” sê Vanes-Mari, wat vanjaar op die kassie te sien was as die aanbieder van die kykNET-maatsoekprogram Hoor my, sien my, soen my.

“Hulle het onlangs aangekondig dat Londen deur ’n streng inperking gaan,” sê Vanes-Mari. Maar dit gaan beslis nie ’n demper op hul Kersfees plaas nie. “Ek en Matt gaan Kerstyd alleen geniet en saam lekker kos maak,” sê sy.

Vanes-Mari sê 2020 het haar en Matt baie nuwe lesse geleer. “Ons is dankbaar vir ons gesondheid en dat ons saam kan wees.” Hoewel nie sy of Matt hul families in Suid-Afrika oor die feestyd in lewende lywe sal sien nie, het hulle reeds ’n plan gereed.

“Ons gaan nou wel nie vriende of familie vir Kersfees of Nuwejaarsdag onthaal nie. Weens die inperking hier kan vriende ook nie kom kuier nie, maar ons gaan met ons vriende en familie Skype,” sê sy. 

Die inperking in Engeland pas eintlik die twee. “Alles werk so perfek, want dit was oorspronklik my en Matt se plan om alleen te wees en om net mekaar, sonder enige ander verpligtinge, te geniet,” sê Vanes-Mari.