Dié trekkery was ’n jaar gelede nog glad nie op die Gardiner-gesin se radar nie, maar alles het skielik verander nadat sy vrou, Nerine, vroeër vanjaar ‘n werkaanbod as kopieskrywer daar aangebied is. Sy is ’n spesialisskrywer op die gebied van finansiële sake.

“Ons het die aanbod lank oordink en baie daaroor gebid, en eindelik tot die besef gekom dat sy die pos moet aanvaar,” sê Vaughan wie se liedjie-pennevrug oor die afgelope sowat 10 jaar deur baie van Suid-Afrika se top sangers opgeneem is.

Maar Nerine het nie net ’n finansiële kop op haar brein nie; sy skryf self ook lirieke en is verantwoordelik vir talle trefferliedjies wat deur haar man gekomponeer is.

Maar dié onverwagte verhuising beteken nie dat die Gardiner-egpaar se kreatiewe musiektalent nou vir Suid-Afrika verlore sal gaan nie.

“Gee my ’n rekenaar, internet en kantoorspasie en ek kan van enige plek in die wêreld liedjies skryf,” sê Vaughan.

Sy vennootskap as musiekvervaardiger saam met Hugo Ludik in Muse Productions kom ook nie tot ’n  einde nie.

“Om die waarheid te sê, ek en Hugo het reeds daaroor begin praat om Afrikaanse musiek shows in Dubai aan te bied. Daar woon ongelooflik baie Suid-Afrikaners.”

Maar die Gardiner’s gaan nie emigreer nie, want Westerlinge kan nie burgerskap in Dubai kry nie. Hulle behou dus hul Suid-Afrikaanse burgerskap.

“Ons weet ook nie vir hoe lank ons daar gaan bly nie. Alles sal afhang van Nerine se werksituasie,” sê Vaughan. 

Hy, Nerine en hul twee dogters, Ameline (3) en Noëlle (9 maande), gaan volgende Woensdag, 18 September, ’n paar dae Kaap toe om hul familie en vriende te groet. Hul altwee het daar groot geword en hul ouers bly steeds daar.

Intussen “is daar so ’n klein bietjie stres met al die reëlings,” bieg Vaughan. Hulle is onder meer nog besig met die Visa-proses voor hulle op 26 September op die vliegtuig klim. Hulle neem bittermin saam.

“Net 10 bokse met klere en sentimentele dinge soos boeke en CD’s,” sê hy. Die res van hul besittings gaan hulle verkoop. So ook hul huis in Douglasdale in Johannesburg.