Hy skrik nie daarvoor om soos ’n wafferse verkleurmannetjie van gedaante te verander vir elke rol nie – selfs al moet hy sy kop kaal skeer of net die punte van sy kortgeknipte donker hare blond kleur vir die frosted tips-styl van die 1990’s.

Maar of Arno Greeff nou ’n eietydse regstudent speel soos in die dramareeks Tydelik terminaal, wat tans op kykNET te sien is, of ’n hartebreker van ’n paar dekades gelede in die nuwe fliek Vergeet my nie, een ding bly dieselfde: Daardie stoute kyk in sy donker oë onder die ruie wenkbroue.

“Ek lyk soos ’n ou wat stout is,” sê Arno (24) self en lag. “Mense het ook al gesien as hulle vir my so ’n rol gee, is ek klaar ingeoefen...” 

In die fliek Die pro was hy die boelie, in Vaselinetjie die slegte ou en in die rol van Drikus in Tydelik terminaal ’n aantreklike maar arrogante LL.B.-student. 

En wanneer hy vroeg volgende jaar weer op die silwerdoek verskyn, sal dit as Braam wees in Vergeet my nie, Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se tweede fliek, wat deur die ware liefdesverhaal van die Huisgenoot-lesers Mardaleen en Hugo Derks van Namibië geïnspireer is. 

“Ek lyk soos ’n ou wat stout is,” sê Arno (24) self en lag. “Mense het ook al gesien as hulle vir my so ’n rol gee, is ek klaar ingeoefen...”

“Braam is net daardie cool ou. As hy by die partytjie instap, dan wil almal om hom wees. Meisies raak op hom verlief, want hy is dáái ou. Hy is nie ’n slegte mens nie, maar ongelukkig geniet hy al die aandag,” gesels Arno oor sy karakter.

Maar is hy regtig so stout soos die karakters wat hy keer op keer speel? “Ek hoop nie so nie,” lag hy. 

Tog erken hy as kind was hy “stout”, voor hy dit met “nuuskierig” vervang. 

Hy onthou nog sy en sy ouboet, Ruan (nou 29), se rowwe stoeigevegte en hoe ’n Mickey Muis-bedlampie eenmaal in die slag gebly het. 

“Op laerskool het ek baie baklei; ek was ’n fighter-tjie. Ek het gedink ek is orraait, maar ek was eintlik nie ’n great mens nie,” erken hy. 

arno greeff,akteur,tydelik terminaal
Arno kuier deesdae elke Woensdag op die kassie in Tydelik terminaal as die karakter Drikus. Hier is hy saam met die aktrise Eve Rasimeni (Mandy). Foto: kykNET

As hy nou terugkyk, besef hy hy was ’n boelie. Maar as gr. 8-kind in die koshuis aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is die bordjies verhang en het die ouer seuns gesorg dat die groentjie gou nederig word – ’n verandering wat hom “baie skaam” gemaak het. 

Jare later sou Arno terugdink aan hierdie ervarings uit sy skooldae toe hy hom vir sy eerste fliekrol in Die pro voorberei.

“Dit was terapeuties om in die teks te kon sien hoe my gedrag as boelie was,” vertel hy openhartig, “en hoe ek ander mense daardeur beïnvloed het.”

In sy noupypjeans, olyfgroen kraaghemp en wit tekkies lyk die donkerkopakteur vandag hier in sy woonstel in Honeydew, Johannesburg, heel anders as in sy rol as Braam in Vergeet my nie. 

Op foto’s wat op die stel geneem is, sien jy hom met ’n ketting om die nek en ’n oorgroot beige baadjie by blou jeans wat soos ’n sak aan hom hang. 

“Dit was terapeuties om in die teks te kon sien hoe my gedrag as boelie was,” vertel hy openhartig, “en hoe ek ander mense daardeur beïnvloed het.”

En sy haarstyl kom uit die vorige eeu – blond gebleikte haarpunte wat ’n skrille kontras met sy donker hare vorm. Hy’s pure pierewaaier. 

“Die grootste uitdaging, maar ook die lekkerste ding, is dat Vergeet my nie in ’n ander tydperk afspeel. Ons moes teruggaan 1990’s toe, en ons moes die stelle en props skep,” vertel Arno. 

Hy moes nou wel sy kop kaal skeer vir sy rol in die 2017-fliek Vaselinetjie, maar die haarstyl uit die 1990’s was ’n perd van ’n ander kleur. 

“Mense dink nie dis weird as hulle iemand sien wie se hare afgeskeer is nie. Maar ek moes ’n maand lank met frosted tips rondloop.” 

Hy kon nie waag om daardie blonde haarpunte af te sny voor hy seker was hulle gaan hom nie terugroep om van die tonele oor te skiet nie. 

marguerite van eeden,arno greeff,vergeet my nie
Marguerite van Eeden (Mardaleen) en Arno Greeff (Braam) deel ’n toneel in Huisgenoot en kykNET se nuwe fliek, Vergeet my nie. Foto: Onkgopotse Koloti

Arno se tonele is in Junie vanjaar binne drie dae in Potchefstroom verfilm. Sy karakter, Braam, is die vroulike hoofkarakter, Mardaleen (gespeel deur Marguerite van Eeden), se universiteitsliefde voor haar pad met dié van Hugo (gespeel deur Sean-Marco Vorster) kruis.

Arno het dit geniet om weer met twee vriende uit sy eerste twee groot flieks saam te werk: Marguerite, wat die titelrol in Vaselinetjie gespeel het, en die regisseur André Velts, wat ook met Die pro in die regisseurstoel was. 

“Ek en André het voor die tyd lekker lank oor my karakter gesels omdat hy in sy kort tydjie op skerm ’n wesenlike rol in die storie speel.”

Dit was so amper of Arno het nooit ’n akteur geword nie. In gr. 10 aan Help­mekaar Kollege in Johannesburg het hy besluit om drama as ekstra vak te neem – omdat hy gereken het dis “seker beter” as om ’n vry periode op sy rooster te hê. 

Een vakansie het sy dramaonderwyser gebel en gesê hy soek mense vir ’n toneelproduksie. 

Dit was so amper of Arno het nooit ’n akteur geword nie. In gr. 10 aan Help­mekaar Kollege in Johannesburg het hy besluit om drama as ekstra vak te neem – omdat hy gereken het dis “seker beter” as om ’n vry periode op sy rooster te hê.

“Ek het nie die Cravenweek­span gehaal nie en het gedink ek moet dalk iets anders probeer,” vertel Arno, toe ’n kranige rugbyspeler. 

Pa Izak (60), ’n rekenmeester, en ma Riada (48), ’n uitvoerende assistent in die hotel­bedryf, het sy besluit gesteun. 

Die produksie het die eindronde van die landwye ATKV-tienertoneelkompetisie gehaal. Aan die einde van daardie jaar het dieselfde dramaonderwyser Arno gehelp om ’n agent te kry. 

“Ek het omtrent 60 tot 70 oudisies vir verskeie televisie-en fliekrolle afgelê waarvan niks gekom het nie,” vertel hy.

In 2013 was hy met sy matriekeindeksamen besig toe hy die goeie nuus kry dat hy vir drie maande ’n rol in die kykNET-sepie Binnelanders losgeslaan het.

arno greeff,akteur,ouers
Ma Riada en pa Izak het Arno nog altyd bygestaan in sy droom om ’n akteur te wees. Foto: Verskaf

“Dit was my training ground,” onthou hy oor sy rol as Krige Vos, wat saam met oom Okkie (Ben Kruger) in die kuierplek Tonik gewerk het.

“My akteurspel was nie heeltemal so goed nie, so ek het by die regisseurs lesse gekry en die ouer akteurs het ook gehelp; dit was my universiteit,” vertel Arno. 

Hy het eindelik nege maande in die sepie gespeel. Arno het ook ’n bekende gesig in Getroud met rugby geword toe hy sowat 18 maande lank Tommie in die sepie gespeel het.

Deesdae is hy ’n aanbieder van kykNET se aktualiteitsprogram Fiësta, en hy was ook al kameraman en regisseur vir die kykNET-leefstylprogram Leef jou Reis. 

In sy vrye tyd speel hy graag kitaar of ’n potjie gholf. Hy maak ook video’s om in die sosiale media te laai of vir kliënte. 

Hy mik nou daarna om nie net elke keer die slegte ou te speel nie. “Ek wil die nice ou in ’n romantiese komedie wees. Nee, regtig!” laat hy met ’n groot glimlag hoor.

Arno is enkellopend sedert hy en sy meisie in Mei vanjaar hul vyf jaar lange verhouding verbreek het.

Daaruit het hy wel lesse geleer, soos om eerlik met jouself te wees en aandag te gee aan dinge wat pla. 

“En jy moet jouself gereeld in die ander persoon se skoene sit om te verstaan hoekom hulle voel soos hulle voel en jy voel soos jy voel.”

Hy fokus nou op sy loopbaan. “Wanneer jy jonk is, moet jy nie êrens stagneer nie. As my grootste droom was om in ’n sepie te wees, dan het ek dit al op 19 bereik. So die droom raak met elke nuwe rol net groter...”

Hy mik nou daarna om nie net elke keer die slegte ou te speel nie. “Ek wil die nice ou in ’n romantiese komedie wees. Nee, regtig!” laat hy met ’n groot glimlag hoor.

Dan spot hy: “Ek wil die nice ou wees wat vir sy meisie by die kansel wag en dan daag sy nie op nie. Dan is sý die slegte een!” 

  • Vergeet my nie word op Valentynsdag 2020 uitgereik. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.