Die aktrise Marguerite van Eeden het Stellenbosch vir Seepunt in Kaapstad verruil. 

“Ek was vyf jaar lank in die Paarl op skool en nou vyf jaar op Stellenbosch. Maar ek het nog altyd daarvan gedroom om eendag in Seepunt te bly,” vertel sy vrolik. “En nou is dit die tyd daarvoor.”

View this post on Instagram

A post shared by Marguerite Anne van Eeden (@margueritevaneeden)

Ja, haar bokse is reeds in haar woonstel uitgepak, bevestig die donkerkop wat vroeër vanjaar in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, te sien was. 

“Dis danksy my ma en my beste pel, Jeandré. Ek het Maandag ingetrek en ons het lekker vinnig uitgepak,” vertel sy. 

“Dit is hartseer om Stellenbosch te groet,” sê sy, maar verduidelik sommer vinnig dat dit darem nie heeltemal koebaai is nie.

Marguerite gaan volgende jaar haar meestersgraad in teaterstudies doen. “Ek hoef nie heeltyd daar te wees nie, so ek gaan in Seepunt bly en my M.-(graad) op Stellenbosch doen.”

Sy kan skaars wag om volgende jaar gereeld op die Seepunt-promenade te gaan stap.

“En ek wil volgende jaar leer om beter kos te maak,” sê sy laggend.  

Marguerite sal ook vroeg volgende jaar in die nuwe kykNET-dramareeks Afgrond te sien wees. Die reeks gaan oor vyf vroue uit uiteenlopende wêrelde wie se paaie kruis wanneer hulle vir hul bestaan baklei. Jana Kruger, Stian Bam en Kim Cloete is ook in die reeks te sien.

“Dit was ’n vreemde jaar. Ek dink die grootste uitdaging was om nie jou vriende en familie so gereeld te sien nie," vertel Marguerite. "Maar nou is die uitdaging om konstant te bly met dié dat covid-19 steeds met ons is. Hoewel dinge 'n bietjie meer na normaal begin terugkeer, moet ons steeds onthou die siekte is nog hier,” sê Marguerite op ’n ernstiger noot. 

Albei haar oupas is vanjaar oorlede.

“So dit was nogal hartseer,” voeg sy by. “Dit was wel ’n goeie jaar om nuwe dinge te leer en jouself weer te vind - so cliché soos wat dit ook al kan klink. Maar om uit te vind wie ek is en wat ek wil wees en waarheen ek op pad is.”

Marguerite beplan om oor Kersfees tyd saam met haar familie op Struisbaai deur te bring en daarna gaan sy en ’n paar vriende op die Oranjerivier roei. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe