Op die ouderdom van sewe het hy dit al besef. Dit het hom soos ’n skoot yskoue water in die gesig getref – sy “andersheid”.

Vandag, byna drie dekades nadat hy die legkaart oor sy seksualiteit die eerste keer begin inmekaarpas het, sit die onthou van daardie ervaring nog vlak.

Hy is aangetrokke tot seuns, nie meisies nie, het hy op daardie dag alleen in die slaapkamer van sy ouerhuis in Johannesburg besef.

Dit het hom eers beangs gemaak, vertel die sanger Joe Foster (36) vandag in sy ruim dakwoonstel met ’n uitsig op die Jakarandastad.

Maar nie meer nie, want die lewe het sy draaie gestap, met tyd het aanvaarding gekom, en nou het hy boonop liefde gevind.

In Desember het Joe verloof geraak aan Ziechfried Paul (25), ’n wiskundeonderwyser van Centurion.

Met Ziechfried aan sy sy, vertel die sanger van treffers soos Pad na Jou Hart eksklusief aan Huisgenoot: “Jare lank het ek alles moontlik gedoen om wie ek is van mense weg te steek. Nou wil ek dit uitskree: Ek is heel; ek was nog nooit so gelukkig nie!”

Vir die eerste keer sedert die sanger met sy kenmerkende blonde kuif ’n dekade gelede as lid van die mansgroep Adam naam gemaak het, praat hy openhartig oor die donker tye toe hy alleen oor sy seksualiteit gewroeg het.

Reeds as ’n jong seun in Johannesburg het Joe ’n groot passie vir musiek gehad. Foto: Facebook

Hy het besef hy is gay, maar dié wete binne hom weggesteek. As hoërskoolseun aan die Hoërskool Florida in Roodepoort het hy nagte om getreur en by God gepleit om hom te “verander”.

Sy selfverwyt het soos ’n sweep gebyt en hy het depressief geraak oor die swaar geheim in sy hart. “Jis, dit was donker tye . . .” erken Joe, sy oë strak op die donker leiklipteëls.

“Ek was gewalg deur hierdie ding wat binne my gebroei het, desperaat om dit te onderdruk en kwaad dat ék hiermee moes wroeg. Dit was nie die gaywees wat die donker gedagtes laat ontstaan het nie; dit was die besef dat die samelewing mense soos ek verwerp.”

Laat een aand ná sy 16de verjaardag sluk hy toe ’n hand vol slaappille. Die selfdoodpoging het misluk – maar dit was nie die laaste een nie.

Maande later sou nog volg, en vyf jaar later, toe hy 22 was, die traumatiesste poging: Hy het sy polse gesny, en sy pa, Johan Vorster, ’n kaakchirurg van Johannesburg, het op die bebloede Joe in die badkamer van sy ouerhuis afgekom en sy wonde toegewerk nadat Joe om hulp geroep het.

Joe saam met sy ouers, Jannette en Johan Vorster, en susters, Gerda van Pletsen (links) en Rennette van der Merwe. Foto: Facebook

“Selfs toe, nadat dié geheim eindelik aan my ouers geopenbaar is, en jare later as deel van Adam, het depressie en donker gedagtes bly knaag,” sê Joe.

Toe ontmoet hy in 2016 vir Ziechfried, en alles verander. Saam het die paar gesoek na antwoorde om hul liefde met geloof te versoen.

In Desember het Joe vir Ziechfried op ’n strand by Knysna die jawoord gevra, en nou wil dié twee openhartig oor hul eie pad na aanvaarding praat om ander te help.

Soos in soveel ander verhale soortgelyk aan sy eie was daar nooit ’n enkele gebeurtenis wat hom laat besef het hy is gay nie, sê Joe vandag.

“Die besef het mettertyd gekom weens verskeie faktore, soos die feit dat ek aangetrokke was tot mans en dat ek myself intiem so wou uitleef en uitdruk.”

’n Dekade lank, tussen die ouderdom van sewe en 17, het hy sin probeer maak van sy gevoelens.

“Ek was gediskonnekteer van myself in ’n poging om aanvaar te word. Ek was bang vir verwerping. Ek het byna elke aand in my hoërskoolloopbaan gebid, gepleit en gehuil.

“En wanneer ek soggens wakker word en besef niks het verander nie, het ek net dieper in die put van selfverwyt en depressie verval.”

Voor die eerste selfdoodpoging op 16 het Joe aan sy ouers ’n brief geskryf. Hierin het hy nie sy stryd met sy seksualiteit verklap nie, maar gesê: “As die mooi vir my lelik word, en dit wat ek dink mooi is, is lelik, wil ek nie meer leef nie.”

Sy ma, Jannette, het die brief eers ’n jaar later in ’n boek in sy kamer ontdek. “My geheim was verklap, selfs al het ek dit nie gesê nie . . .” onthou hy.

“My ouers was liefdevol, maar niemand het geweet hoe om dit te verwerk nie.”

Hy het sy gaywees self probeer ontken, sê Joe, maar ná sy studie in klankingenieurswese in Amsterdam, Nederland, het hy besef dit is onlosmaaklik deel van hom.

“Ek het geweldig gewroeg en elke keer net depressiewer geraak.” Dan dink hy ’n oomblik na. “Ek was nog altyd na aan die Here; dis Hom wat ek nie wou teleurstel nie.”

Ná sy terugkeer uit Amsterdam, op 23, het ’n heelwordproses vir Joe begin. Ook sy ouers het later verklaar: “Ons is vir jou lief nes jy is.”

Maar hy het sy seksuele oriëntasie steeds jare daarna privaat gehou, want as lid van Adam was hy vreesbevange dit sou sy loopbaan beïnvloed as hy bekendmaak hy is gay.

“Dis ridiculous,” sê Joe nou. “Ek was psigies nie gesond nie. Binne skreeu die geheim om ontbloot te word, maar die angs om alles te verloor laat my lam.”

Op soek na vrede het Joe Adam in 2013 verlaat en na Brenton-on-Sea, wes van Knysna, verhuis. Hier het hy álles omhels waarvan hy sy lewe lank weghardloop, vertel hy.

Destyds as lid van Adam saam met Reynardt Hugo (middel) en Hugo Ludik. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek moes aanvaar wie ek was: my mededingendheid, dat ek ’n werkslaaf is – en natuurlik dat ek gay is. Ek moes lief raak vir alles in my, en eers toe was ek vry.”

Terwyl Joe gesels, knik sy verloofde langs hom op die bank instemmend.

Die twee het mekaar ontmoet toe Joe in Maart 2016 in Rustenburg in Noordwes opgetree het en sommer dieselfde aand nog foonnommers uitgeruil.

Dis sy verloofde wat hom die moed gee om die wêreld in die oë te kyk en eerlik oor sy seksuele oriëntasie te praat, sê Joe. Foto: Papi Morake

Die volgende maand was hulle saam, en later daardie jaar trek Joe toe terug Gauteng toe – vir Ziech, maar ook ter wille van sy loopbaan.

“Ziech is ’n lig in my lewe,” sê Joe bewoë.

“Hy het my soveel van liefde en van God geleer. Ek het al die antwoorde gekry waarna ek nog altyd soek: Ek is heeltemal oukei.”

En Ziechfried vertel: “Ons glo sedert dag een God het ons in mekaar se lewe ingebring. Ek het al my ervarings met hom gedeel, van hoe ek ook gewroeg het, by die Here gesmeek het, probeer verander het . . . maar hoe ek eindelik besef het dis nie moontlik nie.”

In Desember 2018, ná hul verlowing, besef Joe toe op ’n dag: Met sy hande in dié van Ziechfried gevleg, wil hy die wêreld reguit in die oë kyk en openlik oor sy pad praat.

“Ek wil vir almal sê hoe lief ek hom het. Ek wil spog oor ons Kaapse troue later vanjaar, oor ons drome. Ek wil vir jong mense sê depressie en selfverwyt en selfdood is nie die uitweg nie.

“Ek wil sê ander mense dink dit wat jy voel, is vreemd, en dit maak jou bang, maar daar het ’n tyd gekom dat ons as gemeenskap een moet word. Laat ek dan die eerste wees om hieroor te praat en vir die duisende stukkende mense te sê: Jy is oukei. En alles gaan oukei wees.”