Hier is ’n paar van die uitdagings wat van ons bekendes gedoen en in die sosiale media gedeel het: 

#BringSallyUp 

Die oorsprong van hierdie uitdaging is in die Amerikaanse sanger Moby se liedjie "Flower".

In die liedjie verwys die sanger na ’n ou Amerikaanse kinderrympie genaamd Green Sally Up. In "Flower" klink dit eerder of die sanger die woord bring sing eerders as green

In die uitdaging moet deelnemers opstoot-oefeninge doen. Elke keer wanneer Moby sing “bring Sally up”, moet jy opstoot, en wanneer hy sing “bring Sally down”, sak jy weer af. 

Die rugbyspelers Morné Steyn en Ivan van Zyl het video's van hulself in die sosiale media gedeel waar hulle dié uitdaging aandurf. 

#FlipTheSwitch

Hierdie uitdaging kom ook soos #BringSallyUp van ’n liedjie af, in hierdie geval die Kanadese rapper Drake se 2018-liedjie "Nonstop". 

Die Amerikaanse senator en voormalige presidentskandidaat Elizabeth Warren het die internet aan die gons gehad toe sy hierdie uitdaging op die televisieprogram Saturday Night Live uitgevoer het saam met die aktrise Kate McKinnon.

Kate verskyn gereeld in sketse op die komedieprogram as Warren. 

In die uitdaging ruil mense klere uit met wie ook al saam met hulle in die video verskyn.

Sedertdien het ander sterre ook by haar aangesluit en hul eie weergawes gedeel, waaronder die sangereresse Mariah Carey en Jennifer Lopez.

Jennifer se verloofde, die voormalige bofbalspeler Alex Rodriguez, was in haar video te sien. En op 'n kol pryk hy in sy verloofde se rok.

Ons voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Tebow en haar man, die Amerikaanse bofbalster Tim Tebow, het ook besluit om in die pret te deel terwyl hulle tuis geoefen het.

Wanneer die video begin, lê Demi-Leigh op 'n jogamat en oefeninge doen terwyl haar man, Tim, staan en gewigte optel. In die middel van die video ruil die twee dan plekke om. 

Hier op eie bodem het die voormalige Survivor SA-deelnemer en VIA-aanbieder Katinka Oosthuizen en haar verloofde, Braam Weyers, ook hul eie video gedeel waarin hulle klere ruil terwyl Drake se liedjie "Nonstop" gehoor kan word.

#NoHandsChallenge

Die voormalige Protea-kolwer en huidige waarnemende direkteur van Krieket Suid-Afrika, Graeme Smith, het hierdie uitdaging aan sy volgelinge in die sosiale media sowel as die Protea-krieketspan gestel. 

“Tydens hierdie #21dayLockdown is dit my plig as waarnemende direkteur van krieket om seker te maak dat ons nog steeds ons vermoë opskerp en ons reflekse verbeter terwyl ons veilig bly. Ek daag vir @kagisorabada uit om die #nohands uitdaging te doen,” het die oud-kaptein van die Proteas op Twitter geskryf.

Daarmee saam het hy ’n video gedeel waarin hy probeer om ’n tennisbal tussen sy bene te vang. 

Kagiso het weer die #nohands-uitdaging aangepak terwyl hy tuis geoefen het.

Ander krieketsterre soos Rassie van der Dussen, Temba Bavuma en Faf du Plessis het Graeme se voorbeeld gevolg en hul eie video's van hul #nohands-uitdaging in die sosiale media gedeel. 

"Die uitdaging is om enigiets te vang sonder om jou hande te bruik," het Rassie by sy video geskryf. In die video vang hy 'n houer met speserye onder sy arm en gooi dit dan op vleis vir 'n braai.

Sy spanmaat Temba het iets in sy mond gevang sonder om sy hande te gebruik.

Faf het sy twee honde vir 'n stappie deur sy huis gevat - en dit sonder om sy hande in te span.

Die voormalige krieketspeler AB de Villiers het ook deelgeneem nadat hy deur Kagiso genomineer is. 

Ekstra bronne: YOU, IMPOSSIBLE , TIME