Victoria (44), wat destyds Posh in die bekende vrouegroep Spice Girls was, wil niks meer oor enige gerugte van ’n egskeiding of huweliksdrama hoor nie.

Die ma van Beckham se vier kinders het vir die eerste keer oor die gerugte gepraat nadat sy 'n roerende boodskap vir haar man gehad het, berig Daily Mail.com

Victoria sê David (43) is ’n betrokke ouer en man. Sy het tydens haar praatjie Dinsdag by die Forbes Women’s Summit in New York vertel hoe David die kinders skool toe neem en sjef speel wanneer sy weg is vir sake.

Die paartjie is al 19 jaar getroud. Gerugte van ’n egskeiding het vroeër vandeesmaand in die sosiale media die ronde begin doen. 

Victoria het gesê: “Ek het die ondersteuning van ’n ongelooflike man. Ons is regtig gelyk met alles wat die huis en ons kinders betref. Wanneer ek weg is, is hy die een wat die kinders skool toe neem en kook.”

#momentcaptured ? ?? @katrinaisrael

A post shared by Victoria Beckham (@victoriabeckham) on

As sy saans by die huis kom, sit sy haar foon neer en probeer tyd saam met haar kinders en man deurbring, sê Victoria. 

Dié modeontwerper maak geen geheim van hoe verlief sy en haar man steeds is nie en deel gereeld foto’s van hulle saam in die sosiale media. Hul kinders, Brooklyn (19), Romeo (15), Cruz (13) en Harper (6), word ook gereeld saam met hulle afgeneem en die gesin lyk baie gelukkig saam. 

’n Gesinsverteenwoordiger van die Beckhams het aan Hello! gesê skei is nie deel van die paartjie se toekomsplanne nie. Hulle het ook aan ander publikasies gesê die gerugte is “bisar en ’n vernederende vermorsing van tyd,” berig Hello!.

David het die gerugte van skei al verlede jaar getakel. Hy het aan Desert Island Discs vertel die rede hoekom hulle saam is, is nie omdat hulle ’n handelsnaam is nie, berig Mirror Online. “Ons bly bymekaar, want ons is lief vir mekaar. Ons bly bymekaar, want ons het vier ongelooflike kinders,” het hy gesê.

Victoria het op Vadersdag ’n foto van David op Instagram gedeel waar hy met geskenke van sy gesin pronk. “Gelukkige Vadersdag, @davidbeckham, aan die beste pa in die wêreld! Ons almal is so lief vir jou! Baie soene van almal van ons,” het sy by die foto geskryf. 

Daar het julle dit. Posh en Becks is steeds gelukkig getroud!

Bronne: DailyMail, Hello!, The Sun, Mirror Online