Maar die aktrise Elsje Slabbert het onlangs opgewonde in die sosiale media verklap dat sy haar eersteling, ’n seuntjie, verwag.

“Vir my was dit bietjie van ’n skok, want ek het altyd in my onderbewussyn gedink ek gaan ’n dogtertjie hê,” vertel Elsje (32) aan Huisgenoot.

Sy het op Valentynsdag uitgevind dat sy swanger is en dadelik ’n oulike plan beraam om haar man, Marco (32), te verras.

“Ek het ’n babygrow gaan koop en dit in ’n pakkie gesit. Ek het dit vir hom as ’n Valentynsdaggeskenkie gee; dit was net ’n wonderlike oomblik,” verduidelik sy.

Elsje, wat as Carina Rautenbach in die kykNET-sepie Villa Rosa te sien was, is nou al 19 weke swanger en kan nie wag dat haar bondeltjie vreugde sy opwagting moet maak nie.

Elsje en haar man, ’n siviele ingenieur, het op 8 November 2014 by Avianto in Muldersdrift, Johannesburg, die knoop deurgehaak en is opgewonde om eindelik ouers te word.

Die paartjie het verlede week besluit om die seuntjie na Marco se pa te vernoem en die kleinding sal dus ook Rubin Gordon Slabbert heet.

Elsje en Marco bly ook positief, al maak die wêreldwye COVID-19-pandemie dinge soms ’n bietjie moeilik.

As swanger vrou probeer Elsje nie hul huis in Bloubergstrand verlaat tensy dit absoluut noodsaaklik is nie, en Marco maak veral seker dat hy by die werk die nodige voorsorgmaatreëls tref om gesond te bly. 

“Dit is ’n onsekere tyd, maar ’n mens glo en bly hoop dat alles gaan uitwerk soos dit moet,” vertel Elsje.

Elsje Slabbert
Foto: Verskaf.
Elsje Slabbert
Foto: Verskaf.
Elsje Slabbert
Foto: Verskaf.

Dit is wel vir haar sleg dat haar ma, Esther Griebenow, weens die nasionale staat van inperking nie vanuit Witrivier in Mpumalanga vir hulle kan kom kuier nie.

“Sy kan my nie kom help regmaak en die babakamer verf nie. Ons ouers mis nou uit op so baie,” sê Elsje.

Hopelik gaan haar ma teen Oktober vir hulle kan kom kuier, wanneer die inperking se maatreëls minder streng is, voeg sy by. 

“My ma gaan definitief hier moet kom bly vir ’n ruk wanneer die baba eers hier is, net sodat daar iemand is wat vir my kan sê: ‘Hoor hier, jy doen alles reg en alles sal oukei wees’,” sê Elsje.

Hoewel die donker coronavirus-wolk ’n skadu van onsekerheid oor die toekoms gooi, is daar tog ’n silwer randjie.

Elsje sou in Mei vanjaar begin het om te repeteer aan ’n nuwe teaterproduksie, Hendrik Lotz, maar dit is weens die coronavirussiekte tot 2021 uitgestel.

Die teaterproduksie, saam met die aktrise Marisa Drummond, sou dan vir die res van die jaar by verskillende dorpe opgevoer word.

“Dit werk eintlik nou lekker uit met die swangerskap, want dan kan ’n mens eerder van voor af op die teaterproduksie begin fokus in 2021,” vertel Elsje.

Vir nou is haar aandag ten volle by die kleinding wat in Oktober sy opwagting gaan maak.

“Ek sien so baie uit om eindelik daai klein lyfie vas te hou,” vertel Elsje opgewonde.

“Hy het onlangs begin skop en dit is ’n wonderlike gevoel. Dan dink jy aan daai oomblik wat jy hom vir die eerste keer gaan vashou en om die journey saam met hom te begin,” voeg sy by.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.