Vroeër vandeesmaand het ’n inskrywing van die akteur, veral bekend as die miljoenêr-sakeman Rian Malherbe van die KykNET-sepie Binnelanders, groot reaksie ontlok.

“Besig met ’n wonderlike projek saam met epic kinders. Binnekort (meer daaroor),” het hy laat hoor.

Byna 9 000 sosialemediagebruikers het op ’n foto by dié plasing gereageer.

Nou is die projek nie meer 'n geheim nie. Erik vertel Woensdag aan Huisgenoot hy is deesdae ’n assistent vir Vivian Law, Good (die politieke party) se premierskandidaat in Noordwes. En nee, hy antwoord nie die kantoortelefoon nie.

Die akteur sê hy het ’n paar jaar gelede vir Patricia de Lille ontmoet. Sy was voorheen die burgemeester van Kaapstad en het verlede jaar die Good-party gestig. De Lille het hom einde verlede jaar met Law in kontak gebring omdat hy ’n behoefte gehad het om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

“Ek was geweldig beïndruk met die ongelooflike werk wat Vivian in die gemeenskap gedoen het nog voor sy die premierskandidaat vir Noordwes geword het. Sy het ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel – en ek wou ook.”

Erik Holm
Erik saam met een van die kinders van die Schaumburg-gemeenskap. Foto: Verskaf

Erik het die verhoogstuk The Land of Tomorrow geskryf waarin jong gemeenskapslede van Schaumburg, ’n informele nedersetting net buite Brits, nou landwyd gaan speel.

“Ek het myself gevra wat ek met my eie vermoëns kan doen. Toe besef ek – ons as kunstenaars is nog altyd ’n weerkaatsing van die werklikheid. Maar ons moenie net ’n weerkaatsing wees nie; ons moet ook aktief ’n rol speel om ’n verskil te probeer maak.

“Die jong kinders wat in die verhoogstuk gaan speel is nie een geregistreer by die departement van binnelandse sake nie. Dit beteken nie een van  hulle kan skool toe gaan nie. Ons wil dit verander.”

Hy was eers amper angstig om homself in die wêreld van politiek te werp, sê die akteur. 

“Politiek en politici is in die meeste lande amper ’n vloekwoord. Maar ek wou nie meer terugsit en net aanvaar dat politiek ’n gemors is nie; ek wou nie meer my eie lot in die hande van iemand anders los nie. Ek wou deel van iets word waar ek ’n verskil kan maak.

“En dis ook my ideaal: Nie om mense te oorreed om hul kruisie op ’n sekere plek te trek nie, maar dat ander mense ook goed doen of in die gemeenskap terugploeg. Ons wil nie op ’n punt kom waar ons stemme vra om goed te doen nie. Ons wil dit doen – ongeag.”

Sy ander rolle as assistent is om die meer as 200 myne in Noordwes se maatskaplike en arbeidsplan na te gaan en te evalueer. Die plan sit uiteen hoe die privaat maatskappye van die voordele wat uit mynbou voortvloei met omliggende gemeenskappe deel. 

Is sy akteurswerk dan iets van die verlede? Hoegenaamd nie, sê Erik.

“We wear many hats, and travel in many pairs of shoes. As akteur het ek altyd vir eie gewin gewerk. Dié is die eerste keer in my loopbaan dat ek dieselfde hoeveelheid moeite insit, maar ook in ander se lewe behalwe my eie inploeg. En dis ’n wonderlike gevoel.”

The Land of Tomorrow is op 12, 13 en 14 April op Hekpoort buite Brits te sien. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na calamitykid@gmail.com.