Die 79-jarige akteur is op 16 September in sy huis in Vacaville, Kalifornië, dood, berig Legacy.com.

Frank het die afgelope vyf dekades op die kassie verskyn. 

Hy het in die 1960’s en -70’s sy groot deurbraak in die rolprent- en televisiebedryf gemaak en in The Young and the Restless en General Hospital hoofrolle vertolk voor hy in 1983 sy groot rol as Shawn Brady in Days of Our Lives losgeslaan het, berig PEOPLE!

Frank het vir 25 jaar in Days of Our Lives gespeel en die sepie in 2008 gegroet nadat sy gesondheid drasties agteruitgegaan het. 

Sy karakter is in ’n vliegtuigkaping dood nadat hy sy suurstofmasker prysgegee het om sy televisieseun Bo Brady, gespeel deur Peter Reckell, se lewe te red. 

In sy lewenskets word die veteraanakteur beskryf as ’n man wat “baie lewens aangeraak het en onder almal geliefd was”. 

“Hy kon ’n vertrek met sy sangstem ophelder en was bekend daarvoor dat hy enige oomblik sou begin sing,” skryf sy familie. 

“Hy was dol oor die kollig.

“Bowenal was hy die ondersteunendste, vrygewigste, saggeaardste man en pa. Frank was lief vir sy gesin.” 

Frank, wat twee keer getroud was, het drie kinders gehad – Candace (wat in 1998 in ’n motorongeluk dood is) en die tweeling Lindsay en Danielle (34) – by sy eerste vrou, Nola Donelle Rajcok. 

Hy is in 2005 met Mary Jean Dunning Garofalo getroud, berig The Express.

Sy eertydse medesterre het hul meegevoel in hartroerende boodskappe op sosiale media gedeel. 

Stephen Nichols, wat Steven Johnson speel, het aan sy medeakteur hulde gebring. 

“Rus in vrede, Frank Parker. Goeie man, goeie akteur,” skryf Stephen. 

“Beste TV-skoonpa. So vol vreugde! Baie liefde op jou reis.”

Bronne: People, Legacy.com, The Express