Hoewel haar tyd by dié hospitaal tot ’n einde gekom het, sal sy nie sommer die belewenis vergeet nie.

“Ek sal altyd die spesiale interaksie met die pasiënte en die bande wat ek met die ander dokters gevorm het, onthou,” sê Adè. “En my heel eerste keisersnee. Daar is niks so spesiaal soos om ’n nuwe lewe in die wêreld te verwelkom nie.”

Haar internskap is eers onderbreek toe die weermag vir haar spesiale verlof toegestaan het ná sy in November 2017 die Mej. SA-titel by die huidige Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, oorgeneem het. 

Toe Adè vroeër vanjaar ná Tamaryn Green se kroning as die nuwe Mej. SA nie weer aangemeld het by die weermag nie, was daar vals gerugte dat sy van haar mediese internskap gedros het. Maar sy het in daardie tyd aan Huisgenoot gesê dit was nooit haar bedoeling om haar diensplig te versaak nie; daar was net ’n geskil tussen haar en haar werkgewer.

Nadat hulle die geskil opgelos het, het sy weer vir diens aangemeld om modules in verloskunde en ginekologie, asook pediatrie, te voltooi.

Noudat sy klaar is met haar internskap, moet sy steed nog een jaar as gemeenskapsdokter by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Gauteng werk. “Ek word nou net verskuif na die Militêre Gesondheidseenheid in Gauteng en sodra hulle bepaal het waar die grootste nood vir 'n dokter is, sal ek by dié plek begin werk,” vertel Adè.

Nuwe uitdagings maak haar altyd opgewonde, sê Adè. “Dit is ’n geleentheid om te groei en jou horisonne te verbreed en opnuut in ’n rigting te stap wat God vir jou voorberei het."

Sy verwelkom ook die skuif na Gauteng aangesien sy dan meer gereeld haar kêrel, die finansiële ontleder Alexander Forsyth-Thompson, sal kan sien. Alex woon in Johannesburg, maar volgens Adè het hul verhouding ondanks die lang afstand net sterker geword. 

“Ek sien baie daarna uit om darem nou op ’n weeksaand lekker aandete saam te geniet,” vertel sy.

Die onsekerheid oor haar toekoms stem haar tog ietwat senuweeagtig. “Ek gebruik hierdie tyd as ’n geleentheid om my energie te kanaliseer in dié dinge wat ek wel kan beheer,” sê Adè, wat besig is om haar eie webwerf vir gesondheidswenke te begin.

“ ’n Tussenfase is eintlik fantasties, want dit gee jou kans om net jou wortels bietjie dieper in die grond te druk voor die wind weer begin waai.”