Die Café Society-aktrise se aanhangers het Dinsdag uitgevind sy het al haar kiekies op Instagram uitgewis en volg aansienlik minder mense – selfs nie eens haar man, Ryan Reynolds, nie! Haar bewonderaars was dadelik bekommerd.

Hoewel dit nie duidelik is wat die sosialemediadetoks beteken nie, skuil die leidraad dalk in haar bio. Dit lui: “Wat het met Emily gebeur?”

Maar dit raak selfs vreemder: Sy het nie net haar man ophou volg nie. Sy het 27 mense, wat almal Emily Nelson heet, begin volg, berig Cosmopolitan.

Volgens Glamour is die drastiese veranderings op Instagram om voorbrand te maak vir die nuwe fliek A Simple Favor. 

Dié rolprent, waarin die Pitch Perfect-aktrise Anna Kendrick ook speel, handel oor die geheimsinnige verdwyning van ’n vrou genaamd Emily Nelson, Blake se karakter. 

Voor sy al haar kiekies uitgewis het, het die blondine ’n kriptiese boodskap met haar meer as 20 miljoen aanhangers gedeel – ’n foto van die Hangman-speletjie. 

Van diegene wat Emily heet wat die ma van twee nou volg, het in die sosiale media met hul beroemde aanhanger gespog. 

“Gaan enigeen vir my sê hoekom Blake Lively my volg," het ’n Instagram-gebruiker geskryf, "en hoekom dít in haar bio staan: 'Tot siens, wrede wêreld, ’n kuberkraker is anti-Emily, het my tyd aangebreek?'"

Ander aanhangers het gesê hulle wou hul Instagram-naam na Emily Nelson verander net sodat die Gossip Girl-ster hulle sou volg.

Bronne: teenvogue.com, cosmopolitan.com.au, glamour.com