Daar is niks soos die liefde nie. Al steier die wêreld onder die skokke van ’n pandemie, aardverhitting en oproer, bly die liefde blom en laat dit verliefdes dikwels van alles – behalwe mekaar – vergeet.

In Hollywood het nuwe liefde die afgelope tyd behoorlik vlam gevat. Om jou van die wêreld se sorge te laat vergeet, is hier ’n paar van dié romanses wat mense deesdae aan die gons het – party is nog liggies aan die prut, terwyl ander die kwik die hoogte in laat skiet.

Want waar liefde is, is daar lig in die donker, of hoe?

WARM NUWE ROMANSE 

Hayley Atwell (39) en Tom Cruise (59) 

Hayley Atwell en Tom Cruise.
Hayley Atwell en Tom Cruise. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié twee het die tonge behoorlik laat klap. Tom was ’n enkelloper sedert sy en Katie Holmes se opspraakwekkende egskeiding in 2012.

Die monde het dus oopgehang toe hy en Hayley onlangs op Wimbledon saam in die openbaar verskyn het.Die twee was die ene skitterwit glimlagte in die Londense somerweer terwyl hulle gesels en die aksie op die tennisbaan gevolg het. 

Hayley is Tom se medester in die nuwe fliek Mission: Impossible 7. Gerugte van ’n romanse het die eerste keer verlede Desember uitgeslaan toe die twee by ’n vertoning daarvan in Londen hande vasgehou het.

Tom en Hayley.
Foto: Magazinefeatures.co.za

“Tom en Hayley het van die eerste dag af gekliek,” vertel ’n bron in die binnekring. “Die inperking en al die moeilikhede wat dit meegebring het, het hulle net hegter saamgesnoer en hulle het taamlik onafskeidbaar geword.

“Hulle het mekaar ná werk begin ontmoet en sy was al by sy Londense blyplek. Hulle kom baie goed oor die weg, en dit lyk asof hulle baie gelukkig is.”

Vlamfaktor 7/10

Tom is dalk ’n omstrede karakter, maar hy’s steeds een van Hollywood se grootste sterre, en Hayley is ’n vars, nuwe gesig. 

AAN DIE BORREL

Adele (33) en Rich Paul (39) 

Adele en Rich Paul.
Adele en Rich Paul. Foto: Gallo Images/Getty Images

Adele is glo weer reg vir ’n romanse ná haar egskeiding, en haar nuwe liefde is iemand in die sportwêreld, in die basketbal-ikoon LeBron James se wêreld, om presies te wees.

Daar is glo ’n vonk tussen die Grammy-sangeres en LeBron se agent, Rich Paul. Die twee is onlangs by die NBA-eindstryd afgeneem.

Die vonk is tot ’n volwaardige liefdesvlam aangeblaas nadat die ESPN-­aanbieder Brian Windhorst na Adele as Rich se “meisie” verwys het.

“Dis die eerste keer dat hulle saam in die openbaar ver­skyn,” het hy in ’n The Lowe Post-podsending gesê.

“So môre sal dit groot nuus in die skinderblaaie wees.” Vir wat dit werd is: Rich volg ook die sangeres op Instagram – saam met 39 miljoen ander mense.

Vlamfaktor 6/10

Toe nou, ouens, waarvoor wag julle?



Irina Shayk (35) en Kanye West (44) 

Kanye West en Irina Shayk.
Kanye West en Irina Shayk. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Die skadu van Kim Kardashian (40) se beroemde kurwes het skaars verdwyn toe Kanye ná die verbrokkeling van hul huwelik met sy lewe aangaan – dit nogal saam met die sexy model Irina Shayk.

Hulle is saam in Provence, Frankryk, gewaar waar hulle drie nagte deurgebring het. Hulle is later afgeneem toe hulle met ’n privaat vliegtuig in New Jersey geland het.

Irina Shayk
Foto: Magazinefeatures.co.za

“Hulle ken mekaar al jare lank op ’n professionele vlak, en hy het ’n paar weke gelede vir haar begin ogies maak,” vertel ’n bron. “Kanye is ’n ou met baie oorredingsvermoë.

Kanye West
Foto: Magazinefeatures.co.za

“Op die oomblik is die verhouding nie ernstig nie, maar hulle hou baie van mekaar.”

Vlamfaktor 8/10

Met ekse soos Bradley Cooper (46) en Cristiano Ronaldo is ’n vuurwarm verhouding met ’n bekende niks nuuts vir Irina (36) nie.

Kanye kan ’n handvol wees, maar die twee sal ’n interessante paar­tjie uitmaak.


The Weeknd (31) en Angelina Jolie (46)

Angelina Jolie en The Weeknd.
Angelina Jolie en The Weeknd. Foto's: Backgrid/Greatstock

Dis hoog tyd dat daar weer ’n liefde in Angie se lewe is. Sedert haar en Brad Pitt (57) se liefdesvuur so skouspelagtig uitgebrand het, was sy nog nie weer in ’n verhouding nie.

Maar nou is die tonge los oor haar en ’n talentvolle jong sanger, koel genoeg om selfs haar ses kinders se goedkeuring weg te dra.

Fluisteringe oor ’n romanse tussen The Weeknd en die aktrise is eers as fopnuus af­gemaak. Maar toe word die twee sowaar op twee opeenvolgende naweke op dieselfde plek gewaar.

Eers het hulle ure lank oor ete by ’n voorste restaurant in Santa Monica gekuier. Hulle het saam daar opgedaag maar afsonderlik vertrek, seker om aanhangers aan die wonder te hou.

Daarna was albei by Mustafa the Poet se privaat konsert vir A-lysters in Los Angeles; hy saam met vriende en sy saam met haar dogters, Zahara (16) en Shiloh (15).

The Weeknd “wil graag in die rolprentbedryf werk”, sê ’n bron. Praat hy en Angie dalk oor werksake, of wil hulle graag mekaar se sake werk?

Vlamfaktor 9/10

Hy’s sexy; sy’s sexy. Dit sê alles.

ROOIWARM ROMANSES

Bella Hadid (24) en Marc Kalman (33)

Foto: Magazinefeatures.co.za

Die model en kunsdirekteur kon nie hul hande van mekaar afhou tydens ’n onlangse vakansie in die suide van Frank­ryk nie. Hulle het hulle trouens soos twee smoorverliefde tieners gedra.

Bella het hul verhouding op Instagram amptelik gemaak toe sy ’n foto plaas van hulle twee saam en duidelik verlief. Daarby het sy geskryf: “Die tyd van my lewe. Gesond, aan die werk en bemind.”

Bella Hadid en Marc Kalman.
Bella Hadid en Marc Kalman. Foto: Magazinefeatures.co.za

Al gaan Marc met een van die wêreld se bekendste supermodelle uit, wil hy steeds sy privaat lewe uit die kollig hou. Sy sosialemediaprofiele is almal op privaat gestel.

Dit lyk asof Bella se vriende en familielede hom goedkeur. Haar suster Gigi (26) het met ’n glimlag-emoji op haar plasing gereageer en die model en haar vriendin Adut Akech (21) met hartjie-emoji’s. 

“Mal hieroor vir jou,” was Adut se kommentaar.

Vlamfaktor 10/10
 Dié een kan dalk net te warm wees vir woorde.

Jasmin ­Lawrence (25) en Eric Murphy (32) 

Praat van ’n Hollywood-paartjie wat vir mekaar bedoel is . . . Die komediante Eddie Murphy en Martin Lawrence was twee van die bekendste akteurs in die 1990’s en vroeë 2000’s – en nou lyk dit asof hulle skoonfamilie gaan word.

Eddie se seun Eric en Martin se dogter Jasmin het bevestig hulle is ’n paartjie toe hulle onlangs sy verjaardag saam gevier en ’n rits foto’s daarvan geplaas het.

“Gelukkige verjaardag, my liefie! Ek is so ongelooflik geseënd om jou te ken, lief te hê en jou aan my sy te hê,” het Jasmin gesê.

Albei het in hul pa’s se voetspore in die vermaakbedryf gevolg. Hy is ’n skrywer en stemakteur, en sy het saam met haar pa in die 2020-fliek Bad Boys for Life verskyn.

“Hulle het soveel gemeen,” sê ’n bron. “Hulle is vir mekaar gemaak.”

Vlamfaktor 8/10
Ons kan al byna die trouklokkies hoor lui.

Tom Holland (25) en Zendaya (24)  

Tom en Zendaya
Tom Holland en Zendaya. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nadat hulle jare lank gerugte van ’n romanse ontken het, maak die medesterre van Spider-­Man: Homecoming nie meer ’n geheim daarvan dat hulle verlief is nie. 

Vir aanhangers van die Spidey-flieks is dit die gelukkige einde waarop hulle altyd gehoop het met dié dat Kirsten Dunst en Tobey Maguire ná 2002 se Spider-Man romanties verbind is, en Emma Stone en Andrew Garfield ná 2012 se The Amazing Spider-Man

Maar waarom het die Emmy-wenner en die hartebreker ons so lank laat wag?

Nadat hulle in 2016 saam in die superheldfliek gespeel het, is daar oor ’n romanse tussen hulle gegis, maar hulle het toe volgehou hulle is net vriende. Nou is daar geen twyfel dat hulle wel ’n paartjie is nie.

“Hulle is albei werklik ambisieus en daag mekaar uit, maar die belangrikste is hulle laat mekaar skaterlag,” vertel ’n bron. “Dit lyk asof die twee dieselfde sin vir humor deel. Hulle hou mekaar op hul tone.”

Vlamfaktor 8/10
Want daar’s niks soos om mekaar in ’n liefdesweb vas te vang nie.

Renée Zellweger (52) en Ant Anstead (42)

Renée Zellweger (52) en Ant Anstead
Renée Zellweger en Ant Anstead. Foto's: Gallo Images/Getty Images en Instagram

Die nuus van die aktrise en die Britse TV-persoonlikheid se romanse het in Junie bekend geword net ’n paar dae nadat Ant se egskeiding van die HGTV-ster Christina Haack (38) afgehandel is.

Hulle is die ouers van ’n 21 maande oue seun, Hudson.Hy en Renée het mekaar ontmoet toe sy in sy nuwe TV-reeks vir Discovery+, Celebrity IOU: Joyride, verskyn het. Daarin verras glansmense hul geliefdes met hul droomkarre.

 Die liefde blom tussen Renée en Ant.
Die liefde blom tussen Renée en Ant. Foto: Magazinefeatures.co.za

Al lyk die twee dalk na ’n onwaarskynlike paartjie, word hulle deur gedeelde belangstellings saamgesnoer, ver­tel ’n bron. “Soms ontmoet twee mense net en kliek, en die tyd is reg daarvoor,” voeg die bron by.

 Hulle is vroeër dié maand saam met sy seun, Hudso
Hulle is vroeër dié maand saam met sy seun, Hudson, afgeneem. Foto: Magazinefeatures.co.za

“Albei is privaat en hou nie daarvan om in die openbare oog te wees nie. Hy is ’n skeppende ou met baie belangstellings, en sy skryf en vervaardig graag; daarom het hulle altyd iets om oor te praat.”

Vlamfaktor 7/10
Die vlamfaktor kan styg as die twee meer dikwels in die openbaar liefies raak.

STOMENDE LIEFDES

Travis Barker (45) en Kourtney Kardashian (42)

Soms begin die beste romanses as vriendskappe, of hoe? Die nuus van Kourtney en Travis se verhouding kan vir baie mense ’n verrassing wees, want die twee ken mekaar al jare lank.

Hulle woon naby mekaar in Calabasas, Kalifornië, en is al dikwels saam opgemerk, soos toe hulle een aand in 2018 saam uitgeëet en daarna ’n kerkdiens bygewoon het.

Die Blink 182-rocker het al erken hy was altyd heimlik op haar jonger suster, Kim, verlief, maar nou is dit geen geheim dat sy hart aan Kourtney behoort nie.

Sedert hulle hul romanse op Valentynsdag op Instagram bekendgemaak het, deel hulle die een stomende foto ná die ander op sosiale media. En bronne na aan Kourtney verklap dat die twee ernstige gesprekke oor die toekoms voer.

“Die twee is halsoorkop verlief op mekaar – hulle het nog nooit ’n liefde soos dié ervaar nie,” vertel ’n bron.

“Kourtney is die gelukkigste wat sy al ooit was. Travis dra haar op die hande. Dit is baie anders as haar ander verhoudings.”

Vlamfaktor 9/10
Dis ’n liefdesfees.

Michael B. Jordan (34) en Lori Harvey (24)

Gerugte van ’n romanse tussen die akteur en model het laat in 2020 uitgeslaan nadat hulle saam by lughawens in Atlanta en in Salt Lake City opgemerk is.

En in Januarie vanjaar het hulle dit Insta-amptelik gemaak. Sedertdien plaas hulle die een stomende foto ná die ander op sosiale media – al verkondig hulle graag dat hulle gesteld is op hul privaatheid.

“Ek dink ons is van nature privaat mense,” sê Lori. “Daarom besluit ons net wanneer ons ’n foto neem, of wat dit ook al is, of ons dit wil plaas of nie.

“Ons weet daar is mense wat ons liefhet en ondersteun en wat ons wil sien; daarom wil ons net genoeg gee, maar die meerderheid net vir ons hou. Ons probeer ’n balans vind.” Ons sal vat wat ons kan kry. 

Vlamfaktor 9/10
Want as jy vuurwarm is, is jy vuurwarm.
Bronne: dailymail.co.uk, usmagazine.com, eonline.com, pagesix.com, tmz.com, mirror.co.uk, variety.com, thesun.co.uk, vanityfair.com, collider.com, hellomagazine.com, indianexpress.com, hitc.com, elle.com.au, people.com, gq.com, smh.com, hollywoodreporter.com 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe