Dít is die vraag wat talle luisteraars vra vandat hulle die omroeper Martelize Brink se stem nie meer so gereeld op RSG hoor nie. 

Maar sy is nog daar, verseker sy Huisgenoot. En sy gaan nêrens.

“Om dinge so maklik as moontlik te maak het RSG besluit om ons Kaapse kantoor tydelik te sluit te midde van die inperking en al ons programme in ons ateljee in Johannesburg te sentraliseer,” vertel sy.

Dit bring mee dat Martelize en van haar ander kollegas wat in die Kaap woon, soos die omroepers Johan Rademan, Haidee Muller en die regisseur Ignatius Vlok, van hul huis af moet werk.

Sy en haar medeaanbieder, Johan Rademan, bied dus nie meer die middagprogram 360 aan nie, maar lewer soveel insetsels daarvoor as wat hulle kan. 

By haar werkstasie by haar huis in die Paarl
By haar werkstasie by haar huis in die Paarl

Nes soveel ander Suid-Afrikaners moes Martelize die afgelope agt weke in die inperking ander planne maak om haar en haar kollegas se gesondheid eerste te stel en het ook van haar huis af begin werk.

Dít het sy eie uitdagings na vore gebring. Weens logistieke kwessies soos swak internetspoed by haar huis, kan Martellize nie meer die program aanbied nie. 

Martelize, wat sedert 2004 'n bekende stem op die radio is, het vir jare die program Oggend op RSG saam met Johan aangebied.

Dié dinamiese duo skuif  toe oor na die middagskof, en sedert einde verlede jaar kon luisteraars klokslag 12:00 die radio aanskakel om na hulle program, 360, te luister. 

Hul getroue luisteraars het gou agtergekom Martelize en Johan se stemme is ietwat stiller tydens die inperking en hoor hulle net af en toe wanneer hulle insetsels vir die program lewer terwyl hul kollega in Johannesburg, Sue Pyler, nou aan die stuur is. 

“Net voor die inperking was dit baie emosioneel uitmergelend vir my. Dit het vir my baie moeilik geraak om in my rolstoel rond te beweeg,” vertel Martelize. 

Op 13 jarige ouderdom het Martelize een oggend wakker geword met pyn in haar bene – waarskynlik van 'n virus of inflammasie van die rugmurg – waarna sy die gebruik van haar bene verloor het. Sedertdien is sy in ’n rolstoel. 

“Sedert COVID-19 die wêreld getref het, moes ek meer gereeld my hande skoonmaak elke keer wanneer ek iewers heen moes gaan met my rolstoel,” vertel sy. 

“Elke keer wanneer ek aan die handvatsels van die wiele raak om te beweeg, het ek aan alles gevat wat op die grond was. Ek sou die handvatsels skoonmaak, maar wanneer ek weer in die publiek rondbeweeg, was die wiele weer vuil.

“Ek moes elke oomblik my hande met handreiniger skoonmaak, soveel so dat die velle van my hande later begin afgaan het. Dit het ook baie moeilik vir my geraak.”

Toe skrop sy en haar Kaapse kollegas vir hulle 'n werkplekkie in hulle eie huise, en vir Martelize is daar geen beter plek om dit te doen nie as in haar huis in die Paarl saam haar lewensmaat, Marius van Tonder. 

Wanneer sy nie aan insetsels vir die radio werk nie is sy agter die resepteboeke. 

Sy kook, bak en doen gewigsoefeninge in haar rolstoel.

En later kook sy sommer weer.

Tuisgemaakte lasagne-aand
Tuisgemaakte lasagne-aand.

“Gisteraand het ek organiese hoender gerooster; ander aande het ons heerlike paella geëet en 'n lekker lamsgroenboontjiebredie,” vertel sy. “Dis maar dieselfde storie as my pa,” lag sy dan oor die telefoon. “Nes hy wonder ek elke dag wat ek al die volgende dag gaan maak om te eet.”

Martelize se pa, Matie Brink, is in koskringe veral bekend vir sy potjiekosboeke. Hoewel dit goed gaan met haar tydens die inperking, sê Martelize sy mis die RSG-luisteraars geweldig. “Dit is baie lekker om van die huis af te werk, maar dit is moelik om te sê wat in die toekoms vir almal voorlê,” sê sy. 

“Natuurlik sal ek graag weer wil uitsaai. Maar vir nou, vat ons dit soos dit kom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.