Koningin Elizabeth se man van die afgelope 73 jaar het op 9 April, net twee maande voor sy 100ste verjaardag, by die Windsorkasteel gesterf. Sy 95-jarige vrou was langs sy sterfbed toe hy sy laaste asem uitblaas. Onder normale omstandighede sou sy dood 'n groot optog gewees het met 'n begrafnis van meer as 800 mense.

Die koningin het prins Philip as haar rots en anke
Die koningin het oor die jare haar man, prins Philip, as haar rots en anker beskryf. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar die diens is vanweë die covid-19-pandemie "afgeskaal" en net 30 mense sal dit bywoon, het 'n woordvoerder van die Buckinghampaleis aangekondig. "Geen publieke toegang" sal toegelaat word nie.

Regstreekse dekking vir die hertog van Edinburgh se begrafnisdiens word môre vanaf 13:30 op BBC World News (DStv-kanaal 400) en vanaf 14:00 op CNN (DStv-kanaal 401) uitgesaai.

Die seremonie gaan begin met 'n nasionale minuut van stilte. Voor die kerkdiens begin, is daar 'n seremoniële optog op die Windsorkasteel-terrein. Dit was die prins se wens dat sy liggaam na die kapel vervoer sal word deur 'n aangepaste Land Rover wat hy self help ontwerp het.

Sy oudste seun, prins Charles, sal die optog daaragter lei, saam met sy seuns, prins Harry en prins William. Daar word ook verwag dat ander senior koninklikes by hulle sal aansluit, onder andere Philip se ander drie kinders, prinses Anne, prins Andrew, prins Edward, sowel as hul eggenote.

Volgens die Daily Mail het koningin Elizabeth glo besluit William en Harry sal nie langs mekaar stap nie. Dinge is glo nog broos tussen die broers ná Harry en sy vrou, Meghan, se opspraakwekkende biegsessie met die kletskoningin Oprah Winfrey.

Prinses Anne se seun, Peter Phillips, is glo aangesê om tussen die broers te stap wanneer hulle die agt minute lange staptog van die kasteel na die kerk aanpak.

'n Woordvoerder van 10 Downing Street het bevestig dat die Britse premier, Boris Johnson nie die diens sal bywoon nie sodat hy meer plek vir ander kan maak, berig Vanity Fair.

Ná die begrafnis sal die gesin twee weke lank in rou bly, net soos koninklike protokol voorskryf. Dit beteken dat hulle hul roubande sal dra tydens alle openbare pligte wat hulle uitvoer.

'''n Staatsbegrafnis is waarop prins Philip geregtig is as die man van die koningin. Dit sou 'n dag van rou vir die land wees, maar dit sou behels dat staatshoofde van reg oor die wêreld genooi word om by die Westminster-abdy bymekaar te kom om sy lewe te onthou," vertel die koninklike kenner Omid Scobie aan ET.

Die koningin het prins Philip as haar rots en anke
Prins Philip sou in April sy 100ste verjaardag vier. Foto: Getty Images/Gallo Images

"Dit is iets wat ons laas gesien het met die begrafnis van prinses Diana. Die hele wêreld het op daardie oomblik stilgestaan. Maar prins Philip het vir 'n baie stiller gebeurtenis gevra.

"En dit is presies wat sal plaasvind."

Omid het bygevoeg dat die Britse monarg se man "nie van 'n bohaai gehou het nie" en "dat hy dit duidelik gemaak het voor sy dood".

"Dit sal die koninklikes 'n kans gee om sy lewe op 'n baie vreedsame en stil manier te onthou. Dit vermy ook die bekommernisse wat die regering het oor al die mense wat tydens die pandemie saamdrom," het Omid voortgegaan.

"Vir prins Philip is dit presies wat hy wou hê. Dit is die afsluiting waarvoor hy gevra het."

Prins Philip het ’n vol en ryk lewe gelei – as gel
Prins Philip het ’n vol en ryk lewe gelei – as geliefde eggenoot, pa en oupa. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die prins het die afgelope drie jaar 'n gesondheidstryd gevoer. 

Hy is op 16 Februarie vanjaar opgeneem in die King Edward VII-hospitaal in Londen, waar hy geveg het teen 'n infeksie. Hy is daarna op 3 Maart na die St. Bartholomew's-hospitaal in dieselfde stad geneem waar hy 'n operasie ondergaan het om 'n bestaande harttoestand te behandel. 

Hy is begin Maart ná 28 dae in die hospitaal ontslaan. 

Die prins, wat in 2017 afgetree het, het die afgelope dekade met verskeie gesondheidsprobleme gesukkel, waaronder 'n verstopte slagaar in Desember 2011 en 'n blaasinfeksie in Junie 2012. 

In Desember 2019 het hy vier nagte in die King Edward-hospitaal deurgebring vir behandeling vir 'n "bestaande toestand" (dit was nooit amptelik bekendgemaak nie). Dit het gelyk of die goed gaan met die koninklike tydens die inperking in 2020, en hy het selfs die gevreesde covid-19 ontduik.

Hy en die koningin was onder die eerstes wat in Januarie 2021 die entstof gekry het. Maar die ouderdom haal 'n mens eindelik in, soos hulle sê — en vir Philip was dit tyd om vaarwel te sê.

BRONNE: VANITYFAIR.COM, ETONLINE.COM, BBC.COM, DAILYMAIL.CO.UK

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.