Kaalvoet, weerloos, alleen en in swart geklee. So rou die vrou op die donker verhoog oor die dood van haar enigste seun. En soos die aangrypende toneelstuk ontvou, leer sy op die verhoog om weer asem te haal.

Dit is reeds vier en ’n half jaar sedert die 14-jarige Kieran Schultz op Vrouedag, 9 Augustus, op ’n rots by Hermanus se Ou Hawe gegly en 27 m na sy dood geval het.

Op daardie dag het sy ma, die aktrise Ira Blanckenberg (46), oor haar emosies begin skryf.

'Ek is reg'

Haar eenvrouvertoning, Haal Asem, wat daaruit voortgespruit het, is pas vir die eerste keer op die Woordfees op Stellenbosch opgevoer. Deur woorde vir gedagtes te vind het sy begin om die pynlike gebeure te verwerk.

Die plakkaat van Ira se vertoning.
’n Paar dae voor haar eenvrouvertoning, Haal Asem, op 3 Maart op die Woordfees op Stellenbosch gedebuteer het, repeteer Ira en die regisseur, Marí Borstlap.

Vyf dae voor die eerste opvoering maak sy haar hart oop oor die moeilike pad wat sy sedert die dood van haar geliefde seun gestap het.

“Aan die een kant wil ek in ’n vliegtuig klim en vlug en nooit weer terugkom nie. Aan die ander kant . . . Ek is reg. Dit kom al so ’n lang pad tot hier,” vertel sy by The Drama Factory-teater op Somerset-Wes.

Dit is naby die huis waar sy saam met haar bekende akteurman, Waldemar (Waldi) Schultz (48), en hul 16-jarige dogter, Dhania, woon.

Voor die tragiese ongeluk was Kieran met sy uitbundige energie en avontuurlus deel van hul alledaagse bestaan.

Flentertjies

Die regisseur van die stuk, Marí Borstlap (32), is vandag by. Sy was ook aan Ira se sy tydens die pynlike proses om Haal Asem van woorde op flentertjies papier na die verhoog te bring.

Ira sou op die dag van die ongeluk ’n vlug uit Johannesburg terug Kaap toe haal. Net voor sy in die vliegtuig geklim het, het sy gehoor van die ongeluk en haar kind se dood.

“Tydens die vlug huis toe het ek begin skryf op enigiets in my handsak, tot Pick n Pay-strokies. En ek het nooit ophou skryf nie,” sê sy.

“Jy voel so gekluister daar tussen die mense wat nie jou verlies sal verstaan nie. Dit voel letterlik of jy nie kan asem kry nie,” onthou sy die dag in die vliegtuig.

Die woede oor Kieran se dood het papier toe gegaan.

“Alles is in stadige aksie om jou. Jy kan nie hoor nie. Dis asof ’n bom ontplof het. Daardie wit geraas. Alles is gedemp en dof. Jou visie van die wêreld is dat alles bloot ’n illusie is.”

Die ure het intussen dae geword; die dae weke; die weke maande; die maande jare.

Maar Ira sê: “Vir ’n ma wat ’n kind verloor, voel dit soos gister.

“Die woede oor Kieran se dood het papier toe gegaan,” onthou sy oor hoe sy die verlies begin verwerk het. Daar was uitbarstings ook, soms het rou krete uit haar losgeskeur.

'Die see gil lekker'

“Ons het ’n wonderlike natuurreservaat hier op Somerset-Wes. Ek kon daar bo op die Helderberg gaan staan en skreeu.

“Gil is lekker. In die kar ry en die dak af gil was ook vir my baie goed. En Pringlebaai se see gil ook baie lekker. Ek kan dit aanbeveel.”

Ons het dit nooit vir mekaar beter probeer maak nie en ek dink dit het gehelp.

Huwelike sneuwel dikwels ná die verlies van ’n kind, baiekeer omdat die ouers in verskillende stadiums van rou is en elkeen op sy eie die verlies probeer verwerk.

Maar Ira sê haar en Waldi se huwelik kon oorleef.

“Een van die grootste seëninge is dat ek en Waldi ál nader aan mekaar geraak het. Ons het dit nooit vir mekaar beter probeer maak nie en ek dink dit het gehelp. Jy het geen energie om ’n ander ou te laat beter voel nie, want jy is stukkend.

“Maar jy kan langs daardie mens gaan staan en sê: ‘Ek sien jou.’ In my grootste pyn-oomblikke, waar ek op die vloer opgekrul lê en skree, staan Waldi net daar en kyk vir my.

“Dat jy weet jy is nie alleen nie en iemand is bereid om in daardie hel vas te kyk; dis die ongelooflike steun wat ons mekaar kon bied.”

'Ons kind is dood'

Waldi was op Hermanus op die dag toe Kieran en ’n maat op die rotse gaan stap en hy gegly het. Hy was oomblikke ná die ongeluk aan sy kind se sy en by toe hy sterf.

“Ek eer dit dat hy ’n ander rou­proses volg as ek,” sê Ira.

“Hy sal ook nie vir my sê om sy manier te volg nie. Ons het net sagter en sagter met mekaar geraak en we didn’t sweat the small stuff. Ons kind is dood. Ons kind.”

Ons moet breek, want dit laat die lig deur.

Elke mens ervaar die een of ander tyd smart en verlies; daarom glo Ira die rouproses is so ontsettend belangrik. Sy en Marí hoop Haal Asem beteken iets vir ander mense in verdriet.

“Ons is almal gebroke. Hoe meer ek die pad stap, hoe meer besef ek dat veral in ons Westerse samelewing ons dit probeer wegsteek.

“Dit is nie net die doel van die lewe om gelukkig te wees nie. Ons moet breek, want dit laat die lig deur. Jy moet rou, met of sonder pille. Ons kan nie rou onder die mat instoot nie.”

Sy meen dit was ook vir Dhania belangrik om te sien hulle rou.

“Jy is gebroke en kan dit nie vir ’n kind wegsteek nie. Binne daardie ongelooflike gebrokenheid lê ook jou liefde vir jou ­ander kind wat leef.

Ira by haar ­akteur­man, Waldemar Schultz, en hul dogter, Dhania. Die foto is twee weke ná die frats­ongeluk in 2013 geneem toe Kieran op Hermanus na sy dood geval het.

“Hulle sien ook die liefde wat jy vir hulle het; dat jy so ­hartseer kan wees oor ’n kind wat dood is. Dit help hulle met hul eie rouproses.”

Die rouproses

Waldi het in ’n vorige onderhoud met Huisgenoot gesê sy manier van terapie was om te praat, praat, praat.

Die rouproses oor ’n dooie kind is baie selfsugtig.

Sy praat is nou klaar, vertel Ira, en sy self vertel haar storie op die verhoog: “Ek is nou bereid om te luister na enigiemand anders wat wil praat oor hul verlies.

“Die rouproses oor ’n dooie kind is baie selfsugtig. Dis so allesoorheersend; dit sluk jou regtig in. Letterlik omdat jy nie kan asem kry nie.

“Om op te staan is ’n enorme taak. Om jou tande te borsel is swaar. Jy kan nie nog na iemand anders luister nie.

“Ek het ná Kieran se dood vir die eerste keer in my lewe paniekaanvalle gekry, drie keer op die tennisbaan, waar ek ­fisiek nie kon asem kry nie. Dit het ’n ruk geduur voor ‘my storie’ ’n verhaal geword het wat ek met ander kan deel.”

Ná Kieran se dood het Ira haarself afgevra: Is daar enig­iets wat my lus maak om te leef en te wil aangaan?

Terug na die verhoog

“Die eerste ding wat by my opgekom het, was om terug te gaan verhoog toe. Dit is immers my craft,” onthou sy.

Sy het in daardie stadium 15 jaar laas toneelgespeel.

“Ek het kinders gehad om groot te maak. En interessant genoeg, vier dae nadat ek die besluit geneem het, het Marí my gebel: Wil ek in Drif van Reza de Wet speel? Toe weet ek hier gaan ek nou.”

Dié terugkeer was twee jaar gelede.

Sy en Marí ken mekaar van die ATKV-­tienertoneelkompetisie, waarvan hulle beoordelaars is.

In Mei verlede jaar het hulle saam in ’n koffiekroeg gesit toe Marí haar vertel sy gaan ’n nuwe projek aanpak; sy weet net nie wat dit gaan wees nie.

“Dit het letterlik my asem weggeslaan en ek het gedink: ‘O, s***. Dis my play. Dis nou die tyd.’ Ek het nie gedink dit gaan so gou gebeur nie.”

'Praat met my'

Sy het Marí van die eenvrouvertoning vertel wat sy toe nog besig was om te skryf, en as vriendin en regisseur het Marí onderneem om van die begin af betrokke te wees by die kreatiewe proses om dit na die verhoog te bring.

Marí is self die ma van ’n dogtertjie, Fleur, nou 22 maande oud, en dit was vir haar swaar om Ira se pyn in die repetisies te aanskou.

“Ira is so sterk. Ek het met tye onbedaarlik begin huil,” erken Marí.

In die stuk sê Ira in ’n stadium sy wens net iemand wil haar kind se naam noem.

Hier in die onderhoud kort voor die eerste vertoning herhaal sy die smeekvraag van soveel ouers wat die dood van ’n kind probeer verwerk: “Praat met my oor my kind.”

Ira en Kieran.

Dan vervolg sy: “Hy het geleef. Dit was my kind. Moenie bang wees om my aan hom te herinner nie; ek dink heeltyd aan hom. Dit verskaf my vertroosting omdat jy hom ook mis.

"Moenie bang wees om my te ontstel nie. Ek is reeds permanent ontsteld.”

FOTO'S: CORRIE HANSEN, MARTIN DE KOCK, FACEBOOK, VERSKAF