In ’n verskyning in Watch What Happens Live het die aanbieder, Andy Cohen, die 58-jarige in ’n ronde van Plead the Fifth gepols. 

(Die benaming is aflei van die reg wat getuies in Amerikaanse howe het om hulle op die Vyfde Amendement van hul Grondwet te beroep en te weier om ’n vraag te beantwoord om selfinkriminasie te voorkom.)   

Andy het die Summer of 69-sanger oor die bewerings deur Diana se destydse butler Paul Burrell uitgevra. Dié het gesê Bryan het af en toe by die Kensington-paleis ingesluip.

“Daar is baie gerugte dat jy en prinses Diana destyds ’n affair gehad het. Haar butler het gesê jy hy het jou by die Kensington-paleis laat insluip,” sê Andy.

“Hoe sou jy jou verhouding met prinses Diana beskryf?” 

“Sy het my nie laat insluip nie. Ek sou net daar opdaag,” antwoord Bryan. 

Die Kanadese rocker sê hy was net goeie vriende met die prinses van Wallis. 

“Vriende met voordele?” hou Andy aan.

“Sy was net . . . Ons was goeie vriende,” antwoord Bryan vinnig. 

Volgens E! Online het die Heaven-sanger se voormalige meisie Cecilie Thomsen ook van ’n affair gepraat. Sy het glo gesê die musikant het in 1996 met Diana ’n verhouding gehad. 

In 1985 het die sanger ’n liedjie met die titel Diana uitgereik en sy aanhangers het volgehou dit gaan oor lady Di.

Die snit is in 1997 van sy toerprogram verwyder ná Diana se tragiese dood in ’n motorongeluk in Parys, berig Metro News.

Bronne: Eonline.com, Metro.co.uk, Popsugar.com