Om die waarheid te sê, niemand gaan dalk onmiddellik kan sê wat Demi tydens haar loopplankdebuut gedra het nie. Al waaroor almal in die kuberruim gegons het, was die Charlie's Angels-ster se dramatiese voorkoms, wat talle aanhangers geskok het.

Honderde Huisgenoot-lesers het hul misnoë op Facebook te kenne gegee. Van hulle was bitter teleurgesteld dat hul ikoon dit aan haarself kon doen. Die ma van drie is ook ook uitgemaak as ’n “tannie wat jonk probeer lyk” terwyl ander gevoel het dis tyd vir die aktrise om met grasie ouer te word.

Daar is wel rare uitsonderings van dié wat Demi se nuwe voorkoms ondersteun het.

Vir Demi was dit een van haar grootste oomblikke ooit.

“Dit was soos ’n tiener-fantasie wat waar geword het. Ek moes ’n oomblik neem om daaroor te dink: Ek het so pas die loopplank met van die wêreld se grootste name (waaronder Kate Moss en Bella Hadid) in die modelwêreld gedeel. Ek het soos ’n kind gevoel,” het sy die dag daarna tydens ’n openhartige onderhoud met die supermodel Naomi Campbell erken.

Supermodel Naomi Campbell en Demi die dag na haar
Supermodel Naomi Campbell en Demi die dag na haar Fendi-debuut. Foto: YouTube-skermgreep/@Naomi

“Dit was betowerend,” het Demi gesê. Sy en Naomi het Kim Jones, die kreatiewe direkteur van die modehuis Fendi, groot lof toegeswaai vir die opspraakwekkende vertoning.

Dr. Frank Agullo, ook bekend as Dr. Worldwide, en Pam Agullo is deur The Blast oor Demi se nuwe voorkoms genader.

Volgens Frank het sy totaal oorboord gegaan met vullers in haar wange en lippe. Pam erken sy’s sprakeloos gelaat deur die transformasie. “Sy het dit nog altyd reggekry om tydloos beeldskoon te wees, maar dié keer het sy dit te ver gevoer.”

In 2019 het Demi tydens ’n onderhoud met die aanlyn nuusdiens Mirror gesê gravitasie neem haar in ’n rigting waaroor sy nie juis baie gek is nie.

“Ek kan soms in die spieël kyk en sê: ‘Jy jok, ek lyk nie so nie.’ Maar vir my gaan dit oor aanvaarding. Ek soek nie meer vir dit wat verkeerd is nie, ek aanvaar dit bloot.”

Maar was dit als net oëverblindery?

Ná afloop van die modevertoning het Demi ’n foto met haar 2,2 miljoen volgelinge op Instagram gedeel, en daar lyk sy amper weer soos die Demi wat mense ken. Daarin dra sy feitlik geen grimering nie en is daar geen sprake van die ingeduikte wange en pruilgesig waarmee sy op die loopplank gepryk het nie. 

“So jou gesig is steeds normaal?” wou een aanhanger in die kommentaarafdeling weet. “Ek hoop so! Jy is so mooi!” 

“Sy is so mooi en raak so pragtig oud! Dis hoekom almal so geskok was oor die foto's,” het nog een laat hoor. “Sy het nie enige werk nodig nie.”

Demi is geen vreemdeling wat transformasie betref nie. Kyk hoe word sy eensklaps blond.

Daar is juis bespiegeling dat Demi in die jare vooraf derduisende aan plastiese chirurgie spandeer het: kollageeninspuitings, borsvergrotings, vetafsuiging en selfs die wegsny van die verrimpelde vel op haar knieë.

  • Demi het nog nie amptelik op navrae reageer oor haar potensieël ingrypende plastiese chirurgie nie. Maar op ’n foto wat sy op Instagram gedeel het, is daar nie juis veel te sien van daardie enorme ingeduikte wange waarmee sy op die Fendi-loopplank gepryk het nie.
Demi met supermodelle Kate Turlington en Kate Moss
Demi met supermodelle Kate Turlington en Kate Moss, asook Fendi se kreatiewe direkteur, Kim Jones. Foto: Instagram/@demimoore

Moelike grootwordjare

Demi het in 2019 haar memoirs getiteld Inside Out vrygestel. Daarin is sy baie eerlik oor die gebroke verhouding tussen haar en haar ma, Virginia King.

“Ek het keuses gemaak gebaseer op wat gebeur het toe ek ’n kind was. Ek het geleidelik begin voel ek is op ’n pad om haar te aanvaar vir wie sy is, nie vir wie ek wou hê sy moes wees nie. Daar was ’n mate van genesing, maar ek het haar wel nie vertrou nie," het Demi onthul.

“Sy het goeters gedoen en daar was manipulasie deur die man wat my misbruik het. Dit het my op ’n plek laat kom waar ek net wou so vinnig as moontlik wou weghardloop om te bewys ek was nie daardie mens nie."

“My ma het my nie beskerm nie. Daar was nie ’n veiligheidsnet of iemand op wie ek kon staatmaak nie.”

Bronne: theblast.com, todayonline.com, dailymail.co.uk, ok.co.uk, mirror.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe