Dit kon nie maklik gewees het om toe te kyk hoe haar kleinsus statig kansel toe stap op ’n uitspattige koninklike troue wat deur miljoene mense gevolg is terwyl sy saam met haar ma as metgesel op ’n kerkbank sit nie.

Toe prinses Beatrice van York dus haar nuwe kêrel bekendstel net weke nadat prinses Eugenie ewige trou voor die kansel beloof het, was haar vriende in die wolke.

Want twee jaar nadat die rooikopkoninklike haar kêrel van 10 jaar die trekpas gegee het, lyk dit of Beatrice eindelik weer liefde gevind het. Haar nuwe kêrel, Edoardo Mapelli Mozzi, lyk op die oog af na ’n heel goeie vangs.

Die 35-jarige eiendomsmagnaat se voorkoms is nes dié van ’n filmster met golwende hare en priemende blou oë – en boonop vloei ’n bietjie blou bloed deur sy are.

Edo, soos sy vriende hom noem, is die seun van graaf Alessandro Mapelli Mozzi, ’n Italiaanse aristokraat en Olimpiese skiër, en die Britse sosiale vlinder Nikki Shale.

Edo is ook ’n multimiljoenêr uit eie reg. Hy het in 2007 die eiendomsmaatskappy Banda gestig, waarvan hy steeds die uitvoerende hoof is. En asof dit nie genoeg is nie, is hy skynbaar ook ’n vrygewige siel.

Eno
Edoardo Mapelli Mozzi. Foto: Shutterstock

Nadat sy stiefpa, Christopher Shale, in 2011 dood is, het Edo Cricket Builds Hope, ’n organisasie wat Rwandese kinders sowel as volwassenes leer krieket speel, in Christopher se naam gestig.

Maar wanneer iets te goed lyk om waar te wees, is dit mos dikwels die geval – en Beatrice se enigmatiese nuwe kêrel is blykbaar geen uitsondering op dié reël nie.

Edo het glo tot onlangs nog saam met sy Chinees-Amerikaanse verloofde, Dara Huang (37), en hul tweejarige seun, Christopher Woolf – of Wolfie soos hy genoem word – in die spoggerige Bayswater in Londen gewoon.

Aanvanklik is berig dat Edo en Dara, ’n ambisieuse en suksesvolle argitek, ses maande gelede uitmekaar is. Maar volgens The Mail on Sunday was Edo aan Dara verloof en het hulle saamgewoon terwyl hy Beatrice die hof gemaak het.

“Edo en Dara was drie en ’n half jaar lank verloof,” het ’n vriend aan die Britse koerant gesê.

“Selfs nadat sy romanse met Beatrice begin het, het hy steeds saam met Dara en hul kind in die gesinshuis gewoon.”

Volgens ’n bron het Dara in Oktober uit hul woonstel getrek “en die tydsberekening spreek boekdele”. Terwyl Dara weier om oor die drama kommentaar te lewer, is haar ma meer uitgesproke.

Ma Lily (69), wat in Florida woon, het aan The Mail on Sunday gesê sy het geen benul gehad Dara en Edo is uitmekaar nie tot haar oudste dogter, Erin, haar daarvan vertel het.

“Ek dink Dara het dit vir my weggesteek,” sê Lily. “Sy wou nie hê ek moes hartseer wees nie. Ek is geskok.”

Volgens Lily slaap Dara, wat gereeld vir werk moet rondreis, nou op ’n vriend se rusbank tot sy ’n nuwe woonstel kan kry, en los sy haar seun by Edo en hul kinderoppasser. Sy gaan saans ná werk na die woonstel terug om Wolfie te bad voor hy gaan slaap, sê Lily.

“Dis ’n aaklige situasie.”

“Ek is lief vir Edo. Hoekom het dit gebeur? Dit het my in stukke gebreek.”

Dara Huang
Edoardo het glo saam met sy verloofde van drie jaar, Dara Huang, ’n suksesvolle argitek, gewoon toe hy Beatrice die hof begin maak. Foto: Instagram/@darahuang

’n Omstrede begin of nie, dit lyk of sake vlot verloop vir die 30-jarige prinses en haar nuwe vryer.

Volgens party gerugte het hulle mekaar eers onlangs ontmoet, maar daar word ook beweer Edo is ’n familievriend wat Beatrice al jare lank ken.

Toe prinses Eugenie in Oktober op ’n spoggeleentheid by die Windsorkasteel met die wynhandelaar Jack Brooksbank (32) afhaak, het Edo haar glo weer raakgeloop.

Die Yorks ken Edo se stiefpa, Christopher, al lank. Sy ma, Nikki, is met hom getroud toe Edo en sy jonger suster, Natalia (28), kleuters was.

Nadat Christopher, ’n politikus, in 2011 by die Glastonbury-musiekfees weens ’n ongediagnoseerde harttoestand gesterf het, het Beatrice sy begrafnis saam met haar ma, Sarah Ferguson, bygewoon.

Beatrice se nuwe liefie
Edoardo saam met sy seun, Christopher Woolf. Dié bly op die oomblik by hom in sy woonstel. Foto: Instagram/@darahuang

Sy het Edo waarskynlik daar gesien, maar as ’n vonk toe al tussen hulle ontstaan het, het niks daarvan gekom nie. Maar om Edo in minder swaarmoedige omstandighede by Eugenie se glansryke, prettige troue weer te sien het die ding gedoen.

Daar vat dinge toe behoorlik vlam tussen die pa van een en die agtste aanspraakmaker op die troon.

Die duifies was so verlief, Beatrice het haar nuwe vryer sommer gou as haar kêrel aan haar ouers, prins Andrew en Fergie, voorgestel.

Die twee het glo onlangs hul verhouding bekendgemaak op ’n makietie wat deur die Indiese staalmagnaat Lakshmi Mittal in Londen gehou is.

“Hulle het dadelik by mekaar aanklank gevind en lekker saamgelag,” het ’n bron aan The Sun gesê.

“Hulle was saam met vakansie toe Beatrice hom aan Fergie en Andrew voorstel. “Dinge beweeg vinnig en dit sal niemand verbaas as hulle binnekort verloof raak nie.”

Trou was nog altyd ’n prioriteit vir Beatrice, wat in 2016 met haar Amerikaanse kêrel, Dave Clark, uitgemaak het nadat hulle ’n dekade saam was.

Volgens gerugte het die twee hul romanse beëindig nadat Beatrice aan Dave (33), nou ’n uitvoerende beampte vir die taxi-app Uber, ’n ultimatum gestel het: Steek ’n ring aan my vinger of vat die pad.

Beatrice en haar eks, Dave Clark. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dave het laasgenoemde gekies, maar kort voor lank by ’n ander skoonheid, die New Yorkse advertensiehoof Lynn Anderson, vlerkgesleep.

En die sout is behoorlik in Beatrice se wonde gevryf toe Dave en Lynn in Julie vanjaar op ’n sterbelaaide strandtroue in Italië afhaak.

Edo is die prinses se eerste kêrel sedert sy en Dave uitmekaar is en vriende meen hy is dalk haar trouman.

“Hulle kan moontlik al in 2019 afhaak en almal is verheug dat Beatrice nou so gelukkig is,” voeg die bron by.

As daar wel nog ’n koninklike troue op die horison is, sal Beatrice ’n nuwe titel agter haar naam kan voeg – dié van stiefma.

Met dié dat prins Harry gelukkig met die geskeide Meghan getroud is en prins Charles (70) die stiefpa van sy vrou, Camilla, se kinders, Tom Parker Bowles (43) en Laura Lopes (40), uit haar eerste huwelik is, sal die paleis waarskynlik nie juis ’n wenkbrou lig nie.

Beatrice, wat vir haar ma se liefdadigheidsorganisasie Children in Crisis gewerk het en haar vir kinderwelsyn beywer, is vanselfsprekend lief vir kinders.

Maar in die lig van die twyfelagtige begin van Beatrice en Edo se verhouding is dit onduidelik of sy ’n groot rol in klein Wolfie se lewe sal speel.

’n Paleisbeampte het gou vir Beatrice in die bres getree.

“Prinses Beatrice sou haarself nooit toegelaat het om op ’n ander paartjie se geluk inbreuk te maak nie, veral nie waar ’n kind betrokke is nie.”

Romanse en intrige so reg uit ’n koninklike drama . . .