En sedert die aktrise haar seun, Jackson (7), en dogter, August (3), aangeneem het, was sy dikwels uitgesproke oor hoe moederskap al haar aandag in beslag neem. “Wanneer jy eers kinders het, is dit wie jy is. Dit is nou maar net so,” het sy beweer.

“Jy verander in iemand wat net ’n ma is. Jou liggaam skakel amper af. Dis asof ek geen begeerte gehad het vir uitgaan of iets nie.”

Maar as jy onlangse berigte kan glo, maak die Tully-ster dalk weer tyd vir die liefde.

Volgens The Sun is Charlize en Brad Pitt al sowat ’n maand lank alte danig met mekaar en was hulle “omtrent vatterig” op ’n onlangse vermaakbedryfgeleentheid.

“Hulle sien mekaar nou amper ’n maand lank informeel. Hulle is al ’n ruk vriende, maar sake het ontwikkel,” beweer ’n bron.

‘Hulle sien mekaar nou amper ’n maand lank informeel’

In berigte word beweer die twee is vroeër dié maand gewaar toe hulle in die openbaar liefies raak. Dit was nadat Brad (55) ’n vertoning van die rolprent If Beale Street Could Talk aangebied en Charlize (43) ’n eregas by die geselligheid in die kuierplek Chateau Marmont in Los Angeles was.

“Brad het agterna na Chateau gekom, ’n ander uitrusting aangehad en in ’n hoek van die kroeg by Charlize aangesluit. Sy het ’n wodkaskemerkelk gedrink terwyl hy by mineraalwater gehou het,” sê ’n ooggetuie van die twee, wat na bewering deur Charlize se eks Sean (58) aan mekaar voorgestel is.

“Hulle was ongelooflik vatterig, en sy arm was om haar rug. In ’n stadium het hy vir haar geknipoog. Brad het gelyk of hy dit geniet – albei het regtig gelukkig gelyk.”

Elle.com berig wel dat die gerugte van romanse tussen dié twee vals is.

Volgens People het ’n bron aan hulle bevestig dat Brad en Charlize net ’n advertensie vir Breitling-horlosies saamgeskiet het en is nie in ’n verhouding nie.

Nog ’n bron het aan Entertainment Tonight vertel dat iets romanties wel in die toekoms kan ontwikkel, maar nie nou nie.

“Brad en Charlize ken mekaar al jare lank en het beter vriende geword nadat hulle aan die Breitling-advertensie saamgewerk,” vertel die bron.

Die anonieme bron het ook verklap dat Brad nie gereed is om weer in ’n verhouding met enigiemand in die bedryf te wees nie. Hy soek glo ook nie ’n aktrise as ’n lewenslange maat nie. 

Bronne: Elle.com, ET.com, People.com