Jan Ellis
Jan Ellis as Benjamin Komoeti in 1988.

Hy het baie ervaring opgedoen met hierdie rol, eers in die teaterproduksie Fiela se kind, waar hy die jong Benjamin gespeel het en later in die fliekweergawe deur Katinka Heyns.

Jan het nog nie die weergawe van die regisseur Brett Michael Innes se Fiela gesien nie. Die rolprent is by die onlangse Silwerskerm-fees op Kampsbaai, naby Kaapstad, aangewys as die gehoor se gunsteling.

Wat hy die beste onthou van sy ervaring op die stel in die laat 1980's is “om in ’n grootmenswêreld te wees en as ’n span te werk,” vertel hy vanuit Australië, waar hy ’n branderplankry-bestaan voer.

Jan Ellis,Fiela se kind
Jan Ellis en sy vrou, Gualdina Maria Silva. Foto: Facebook

“Dit gaan vorentoe, dankie,” sê hy. Hy werk nie op die oomblik aan enige projekte wat met toneelspel verband hou nie.

Sedert sy rol as Benjamin was hy een van die gewildste akteurs op die verhoog. Hy het ook gesig gewys as Frikkie in die 1999-Hollywood-fliek After the Rain, met Paul Bettany in die hoofrol.

In 1997 het hy Nollie gespeel in Katinka en haar man, Chris Barnard, se fliek Paljas, wat daardie jaar Suid-Afrika se inskrywing was vir ’n Oscar.

Op TV was hy onder meer in die gewilde Manakwalanners, Torings, Egoli, Backstage, Isidingo, Villa Rosa, Amalia en Binnelanders te sien.

In 2007 is Jan Australië toe en het hy hom begin toespits op die digitalemediabedryf. Hy wil ook by meer dokumentêre flieks betrokke raak. Hy het al twee van sy eie gemaak: The Farm en The Unknown Surfer.

Die akteur het ook in Japan Engels-klasse gegee, daar in ’n toneelstuk gespeel, sy swart belt in judo behaal en 100 dae in ’n Zen-klooster deurgebring.

Hy het in 2016 eksklusief uit Australië via e-pos meer vertel oor sy lewe as eggenoot en pa 

Julle bly mos op ’n eiland, as ek dit reg het? Vertel meer?

’n Groot eiland, Australië. Ons is baie lief vir ons buurt, Maroubra in Suid-Sydney. Dit het ’n uitsig oor die baai, die stad en in die verte die Blue Mountains.

Hoe oud is jy nou? Jou dogter? Jou vrou?

Ek is 46 en gryser, maar met minder hare. Ek is meer bedonnerd, maar aan die gang. Nelia is ses en ’n half. My vrou is ewig jonk en hulle twee is my inspirasie.

Jan Ellis,Fiela se kind
Jan Ellis se sesjarige dogtertjie, Nelia. Foto: Facebook

Hoe het jou dogter jou lewe verander?

Handomkeer.

Wat aan haar maak jou die gelukkigste; goedjies wat sy doen of sê?

Die gees wat sy by haar ma geërf het. Sy sê: “Let’s doo-dis like boo-dists!”

Hoe voel dit om pa te wees?

Soos jou belangrikste, moeilikste en vervullendste job ooit. Die res is tweede op die lys.

Is jy nog ’n kranige branderblankryer?

Ek surf soveel ek kan by my local spots en so af en toe op ’n trip na iewers met spesiale waves en boesemvriende. Weskus, Ooskus, Transkei, Indo, Japan, Aus, Samoa, Madagaskar. Fidji binnekort. Surfing was nooit iets waarvoor ek enige natuurlike talent gehad het nie, maar aanhou probeer het my vele onvergeetlike oomblikke laat beleef. Jy is altyd op soek na die wave van jou lewe.

So af en toe duik ’n foto van ’n DVD van Fiela se kind op jou Facebook-blad op. Hoe voel jy daaroor dat jy in baie mense se oë seker altyd Fiela se kind gaan wees?

Om deel te wees van iets wat mense so lank onthou, is ’n voorreg.

En om op so ’n jong ouderdom so iets te ervaar was ’n groot geskenk. Nie net die fliek nie; ook die verhoogstuk voor dit. Om Saterdagoggende skolerugby te speel en dan twee shows van Fiela te doen in ’n volgepakte Nico Malan-teater was next level.

Het jy nog kontak met die akteurs van daardie fliek?

Ek dink ons sal almal vir altyd in mekaar se gedagtes wees. Daar is talle teenoor wie ek ewig dankbaar sal wees vir die beskerming en vroeë lewenslesse . . . die spelers, die crew, Katinka. Ook oom Chris [Barnard, haar man].

Met watter projekte was jy die afgelope jare besig?

Ek was gereed en vasbeslote om iets anders te probeer toe ons na Australië toe trek. Ek het met kameras en redigering begin, maar die een ding lei toe na ’n ander en op die een of ander manier het ek ’n video-ingenieur en nou tegniese regisseur in die uitsaaiwese geword.

Sedert 2009 het my werk my na verskeie stede geneem. Barcelona, Madrid, Rome, Singapoer, Chicago, die stad Washington, San Francisco, New York, Las Vegas. My verhoogervaring het baie gehelp om die druk van ’n regstreekse uitsending te hanteer. Jy kry net een kans. Daar’s baie adrenalien.

Hoe gereeld kom julle Suid-Afrika toe en wat is die lekkerste hier?

Ons probeer dit eenkeer in 18 maande doen. Alles, maar familie en vriende en om Nelia met hulle te deel is koning. En my geliefde Weskus. En Onrus. En die Kei.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.